Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 21

Jesus lewe!

Jesus lewe!

Jesus verskyn aan sy volgelinge om hulle te onderrig en aan te moedig

OP DIE derde dag ná Jesus se dood het sekere vroue wat sy dissipels was, ontdek dat die klip wat die ingang na die graf versper het, weggerol is. Wat meer is, die graf was leeg!

Twee engele het verskyn. “Julle soek Jesus die Nasarener”, het een gesê. “Hy is opgewek” (Markus 16:6). Die vroue het onmiddellik gehardloop om die apostels te vertel. Op pad het hulle Jesus teëgekom. “Moenie vrees nie!” het hy gesê. “Gaan, vertel vir my broers, sodat hulle na Galilea kan gaan; en daar sal hulle my sien.”—Matteus 28:10.

Later daardie dag het twee dissipels van Jerusalem af na die dorpie Emmaus geloop. ’n Vreemdeling het by hulle aangesluit en gevra waaroor hulle praat. Dit was in werklikheid die verrese Jesus, wat verskyn het in ’n liggaam wat hulle aanvanklik nie herken het nie. Met droewige gesigte het hulle geantwoord dat hulle oor Jesus gepraat het. Die vreemdeling het dinge in die hele Skrif begin verduidelik wat op die Messias betrekking het. Jesus het inderdaad Messiaanse profesieë tot in die fynste besonderhede vervul. * Toe die dissipels besef dat die vreemdeling Jesus is, wat as ’n gees opgewek is, het hy verdwyn.

Die twee dissipels het onmiddellik na Jerusalem teruggekeer. Daar het hulle die apostels gevind waar hulle agter geslote deure bymekaar was. Terwyl die twee hulle ondervinding vertel het, het Jesus verskyn. Sy verbaasde volgelinge kon dit beswaarlik glo! “Waarom kom daar twyfel in julle harte op?” het Jesus gevra. “Daar [staan] geskrywe dat die Christus sou ly en op die derde dag uit die dode sou opstaan.”—Lukas 24:38, 46.

Oor ’n tydperk van 40 dae ná sy opstanding het Jesus by verskillende geleenthede aan sy dissipels verskyn. In een geval het hy aan meer as 500 verskyn! Dit was waarskynlik by dié geleentheid dat hy hulle hierdie gewigtige toewysing gegee het: “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. En kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge.”—Matteus 28:19, 20.

By sy laaste vergadering saam met sy 11 getroue apostels het Jesus belowe: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8). Hierna is Jesus opgelig, en ’n wolk het voorkom dat hulle hom sien terwyl hy opgevaar het hemel toe.

—Gebaseer op Matteus hoofstuk 28; Markus hoofstuk 16; Lukas hoofstuk 24; Johannes hoofstukke 20 en 21; 1 Korintiërs 15:5, 6.

^ par. 6 Vir voorbeelde van Messiaanse profesieë wat in Jesus vervul is, sien bladsye 17-19 van hierdie brosjure asook bladsye 199-201 van die boek Wat leer die Bybel werklik?