Die eerste brief aan die Tessalonisense 2:1-20

  • Paulus se bediening in Tessalonika (1-12)

  • Tessalonisense het God se woord aanvaar (13-16)

  • Paulus verlang na die Tessalonisense (17-20)

2  Julle weet self, broers, dat ons besoek aan julle nie sonder resultate was nie.+  Want soos julle weet, het ons in Filipʹpi+ gely en is ons verneder, maar met die hulp van ons God het ons die moed* bymekaargeskraap om julle die goeie nuus van God te vertel,+ al het ons groot teenstand ondervind.*  Want die aansporing wat ons gee, is nie op verkeerde idees of onreinheid of bedrog gebaseer nie.  Maar omdat God ons goedgekeur het en aan ons die goeie nuus gegee het om bekend te maak, praat ons nie om mense tevrede te stel nie, maar God, wat ons harte ondersoek.+  Om die waarheid te sê, julle weet dat ons nooit vleiende woorde gebruik het of gierige motiewe+ gehad het wat ons probeer wegsteek het nie. God is ons getuie!  Ons het ook nie die eer van mense gesoek nie, nie by julle of by ander nie, al kon ons as apostels van Christus ’n duur las gewees het.+  Ons het julle eerder liefdevol en saggies behandel, soos wanneer ’n ma* haar eie kinders liefdevol versorg.  Ons was so geheg aan julle dat ons nie net die goeie nuus van God aan julle wou gee nie, maar ook ons lewe,+ want ons het so lief geword vir julle.+  Broers, julle onthou sekerlik ons harde werk en hoe ons ons ingespan het. En toe ons die goeie nuus van God aan julle verkondig het, het ons dag en nag gewerk om nie ’n duur las vir enigeen van julle te wees nie.+ 10  Julle is getuies, God is ook, van hoe lojaal en regverdig ons ons teenoor julle, die gelowiges, gedra het. Niemand kan ons van enigiets beskuldig nie. 11  Julle weet goed dat ons aangehou het om elkeen van julle aan te spoor, te vertroos en te leer,+ net soos ’n pa+ met sy kinders doen, 12  sodat julle kan voortgaan om te lewe op ’n manier wat God waardig is.+ Hy roep julle om in sy Koninkryk+ te deel en saam met hom verheerlik te word.+ 13  Ja, daarom dank ons God ook sonder ophou,+ want toe julle God se woord ontvang het, wat julle by ons gehoor het, het julle dit nie as die woord van mense aanvaar nie. Nee, julle het dit aanvaar vir wat dit waarlik is, die woord van God, wat ook in julle, die gelowiges, aan die werk is. 14  Want broers, julle het die voorbeeld gevolg van die gemeentes van God in Judeʹa, wat in eenheid met Christus Jesus is, omdat julle eie mense+ julle ook dieselfde dinge laat ly het as wat die Jode die broers in Judeʹa laat ly. 15  Die Jode het selfs die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg.+ Wat meer is, hulle het nie God se goedkeuring nie, en wat hulle doen, bring slegte gevolge vir almal, 16  want hulle probeer keer dat ons aan die mense van die nasies die boodskap verkondig waardeur hulle gered kan word.+ Op hierdie manier vermeerder hulle altyd hulle sondes. Maar God se woede het uiteindelik oor hulle gekom.+ 17  Maar broers, toe ons ’n kort rukkie van julle geskei was (in persoon, nie in die hart nie), het ons alles in ons vermoë gedoen om julle* weer te sien omdat ons so na julle verlang het. 18  Daarom wou ons na julle toe kom. Ek, Paulus, het selfs twee keer probeer, maar Satan het ons gekeer. 19  Want wat is ons hoop of vreugde of kroon van blydskap voor ons Here Jesus by sy teenwoordigheid? Is dit nie julle nie?+ 20  Julle is beslis ons heerlikheid en vreugde.

Voetnote

Of “vrymoedigheid”.
Of moontlik “al het ons baie gesukkel”.
Of “sogende ma”.
Lett. “julle aangesig”.