Die handelinge van die apostels 4:1-37
4 Terwyl Petrus en Johannes met die volk gepraat het, het die priesters, die hoofman van die tempel en die Sadduseërs+ na hulle toe gekom.
2 Hulle was geïrriteerd omdat die apostels die volk geleer het en openlik verkondig het dat Jesus uit die dood opgewek is.+
3 Hulle het die twee dus gearresteer en hulle tot die volgende dag gevange gehou,+ want dit was al aand.
4 Maar baie van dié wat na die toespraak geluister het, het gelowiges geword, en die getal manne het tot omtrent 5 000 gegroei.+
5 Die volgende dag het hulle leiers, ouermanne en skrifgeleerdes in Jerusalem vergader,
6 saam met die hoofpriester Annas,+ sowel as Kaʹjafas,+ Johannes, Aleksander en almal wat familie van die hoofpriester was.
7 Hulle het Petrus en Johannes in die middel laat staan en hulle begin ondervra: “Deur watter krag of in wie se naam het julle dit gedoen?”
8 Toe het Petrus, vol heilige gees,+ vir hulle gesê:
“Leiers van die volk en ouermanne,
9 as ons vandag ondervra word oor ’n goeie daad aan ’n kreupel man+ en julle wil weet wie hierdie man gesond gemaak het,
10 laat dit dan aan julle almal en aan die hele volk Israel bekend wees dat hierdie man hier gesond voor julle staan in die naam van Jesus Christus die Nasarener,+ wat julle aan ’n paal gehang het+ maar wat God uit die dood opgewek het.+
11 Hy is ‘die steen wat deur julle, die bouers, as onbelangrik beskou is, maar wat die belangrikste hoeksteen* geword het’.+
12 En daar is geen redding in enigiemand anders nie, want daar is geen ander naam+ onder die hemel wat aan mense gegee is waardeur ons gered moet word nie.”+
13 Toe hulle sien hoe uitgesproke* Petrus en Johannes is en dat hulle ongeleerde* en gewone mense is,+ was hulle verbaas. En hulle het besef dat hierdie manne voorheen saam met Jesus was.+
14 Omdat hulle die man wat genees is, by die twee sien staan het,+ kon hulle niks in antwoord daarop sê nie.+
15 Toe het hulle hulle beveel om uit die Sanheʹdrinsaal uit te gaan, en hulle het die saak met mekaar begin bespreek
16 en gesê: “Wat moet ons met hierdie mense doen?+ Want dit is duidelik dat hulle ’n wonderwerk* gedoen het, ’n wonderwerk* waarvan al die inwoners van Jerusalem weet,+ en ons kan dit nie ontken nie.
17 Kom ons dreig hulle en sê vir hulle om nie meer met enigiemand in die naam van hierdie man te praat nie, sodat dit nie verder onder die volk versprei nie.”+
18 Toe het hulle hulle geroep en hulle beveel om niks in die naam van Jesus te sê of te leer nie.
19 Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Oordeel self of dit in God se oë reg is om na julle te luister eerder as na God.
20 Maar ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie.”+
21 Nadat hulle die manne verder gedreig het, het hulle hulle vrygelaat, omdat hulle geen rede gevind het om hulle te straf nie. Hulle was ook bang vir die volk,+ want hulle almal het God geloof oor wat gebeur het.
22 Want die man wat deur middel van hierdie wonderwerk* genees is, was ouer as 40 jaar.
23 Nadat die twee vrygelaat is, het hulle na hulle eie mense toe gegaan en vir hulle vertel wat die hoofpriesters en die ouermanne vir hulle gesê het.
24 Toe hulle dit hoor, het hulle saam tot God gebid en gesê:
“Soewereine Heer, u is die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het,+
25 en wat deur middel van heilige gees deur die mond van ons voorvader Dawid,+ u kneg, gesê het: ‘Hoekom het nasies onrustig geword en volke aan nuttelose dinge gedink?
26 Die konings van die aarde het stelling ingeneem, en die leiers het soos een man saamgespan teen Jehovah* en teen sy gesalfde.’*+
27 Want Herodes sowel as Pontius Pilatus+ het saam met die mense van die nasies en die volke van Israel in hierdie stad bymekaargekom teen u heilige kneg Jesus, wat u gesalf het,+
28 om te doen wat u voor die tyd met u mag en wil* besluit het sal gebeur.+
29 En nou, Jehovah,* skenk aandag aan hulle dreigemente, en help u slawe om u woord moedig te verkondig,
30 terwyl u u hand uitsteek om siektes te genees en terwyl tekens en wonderwerke deur die naam van u heilige kneg Jesus+ plaasvind.”+
31 En nadat hulle ’n smeekgebed gedoen het, is die plek waar hulle bymekaargekom het, geskud, en hulle is almal met die heilige gees gevul+ en het die woord van God moedig verkondig.+
32 En die groot groep wat gelowiges geword het, was een van hart en siel,* en nie eers een van hulle het gesê dat enige van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles gedeel.+
33 En die apostels het op ’n kragtige manier bly getuig oor die opstanding van die Here Jesus,+ en God het sy onverdiende goedheid ryklik aan hulle almal getoon.
34 Nie een van hulle het swaargekry nie,+ want almal wat landerye of huise besit het, het dit verkoop en die geld gebring
35 en dit by die apostels se voete neergesit.+ Dan is dit uitgedeel aan elkeen volgens wat hy nodig gehad het.+
36 En Josef, wat ook deur die apostels Barʹnabas+ genoem is (wat “seun van vertroosting” beteken), ’n Leviet wat in Siprus gebore is,
37 het ’n stuk grond besit, en hy het dit verkoop en die geld gebring en dit by die apostels se voete neergesit.+
Voetnote
^ Lett. “die hoof van die hoek”.
^ Of “moedig”.
^ D.w.s. nie by rabbynse skole opgelei nie; beteken nie ongeletterd nie.
^ Lett. “teken”.
^ Lett. “teken”.
^ Lett. “teken”.
^ Of “sy Christus”.
^ Lett. “hand en raad”.
^ Of “het dieselfde denke en gevoelens gehad”.