Volgens Lukas 8:1-56

  • Vrouens saam met Jesus (1-3)

  • Illustrasie van saaier (4-8)

  • Hoekom Jesus illustrasies gebruik het (9, 10)

  • Illustrasie van saaier verduidelik (11-15)

  • Lamp moenie bedek word nie (16-18)

  • Jesus se ma en broers (19-21)

  • Jesus laat ’n storm bedaar (22-25)

  • Jesus stuur demone in varke in (26-39)

  • Jaïrus se dogter; ’n vrou raak aan Jesus se bo-kleed (40-56)

8  Kort daarna het hy van stad tot stad en van dorpie tot dorpie gereis en gepreek en die goeie nuus van die Koninkryk van God bekend gemaak.+ En die Twaalf was saam met hom,  asook sekere vrouens wat van bose geeste en siektes genees was: Maria, wat Magdaleʹna genoem is, uit wie sewe demone uitgekom het,  en Johanna,+ die vrou van Gusa, die man wat Herodes se sake bestuur het, en Susanna en baie ander vrouens, wat hulle besittings gebruik het om Jesus en sy apostels te bedien.+  Nadat ’n groot skare bymekaargekom het by dié wat van stad tot stad saam met hom gegaan het, het hy vir hulle ’n illustrasie vertel:+  “’n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai. Terwyl hy gesaai het, het van die saad langs die pad geval en is dit vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet.+  Ander saad het op die rots geval, en nadat dit uitgespruit het, het dit uitgedroog omdat dit nie genoeg water gehad het nie.+  Nog ander saad het tussen die dorings geval, en die dorings wat saam met dit opgekom het, het gekeer dat dit verder groei.+  Maar ander saad het op die goeie grond geval, en nadat dit uitgespruit het, het dit 100 keer soveel vrug gedra.”+ Nadat hy hierdie dinge gesê het, het hy uitgeroep: “Laat die een wat ore het om te luister, luister.”+  Maar sy dissipels het hom gevra wat hierdie illustrasie beteken.+ 10  Hy het gesê: “Julle het die voorreg ontvang om die heilige geheime van die Koninkryk van God te verstaan, maar vir die res is dit net illustrasies.+ Daarom sal hulle kyk, maar hulle sal verniet kyk, en hulle sal hoor, maar hulle sal nie die betekenis verstaan nie.+ 11  Die illustrasie beteken dan nou die volgende: Die saad is die woord van God.+ 12  Die saad langs die pad is die mense wat gehoor het, maar dan kom die Duiwel en neem die woord uit hulle harte weg sodat hulle nie sal glo en gered word nie.+ 13  Die saad op die rots is die mense wat die woord met vreugde ontvang wanneer hulle dit hoor, maar hulle het geen wortel nie. Hulle glo ’n ruk lank, maar wanneer hulle getoets word, val hulle weg.+ 14  En die saad wat tussen die dorings geval het, is die mense wat gehoor het, maar omdat hulle aandag deur bekommernisse, rykdom+ en die plesiere van hierdie lewe+ afgelei word, kan hulle glad nie verder groei en vrug dra nie.+ 15  Die saad op die goeie grond is die mense wat die woord met ’n opregte en goeie hart+ hoor en dan daaraan vashou en met volharding vrug dra.+ 16  “Niemand steek ’n lamp aan en bedek dit met ’n houer of sit dit onder ’n bed nie. Hy sit dit eerder op ’n lampstaander, sodat dié wat inkom, die lig kan sien.+ 17  Want daar is niks wat bedek is wat nie openbaar gemaak sal word nie, en daar is niks wat sorgvuldig weggesteek is wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie.+ 18  Skenk dus aandag aan hoe julle luister, want as iemand het, sal meer aan hom gegee word,+ maar as iemand nie het nie, sal selfs wat hy dink hy het, van hom af weggeneem word.”+ 19  Sy ma en broers+ het na hom toe gekom, maar weens die skare kon hulle nie tot by hom kom nie.+ 20  Iemand het toe vir hom gesê: “U ma en u broers staan buite en wil u sien.” 21  Hy het geantwoord: “My ma en my broers is dié wat die woord van God hoor en dit doen.”+ 22  Eendag het hy en sy dissipels in ’n boot geklim, en hy het vir hulle gesê: “Kom ons gaan na die oorkant van die meer.” Toe het hulle vertrek.+ 23  Maar terwyl hulle geseil het, het hy aan die slaap geraak. En ’n groot windstorm het oor die meer losgebars, en hulle boot het vol water begin word en was in gevaar.+ 24  Hulle het hom toe gaan wakker maak en gesê: “Onderrigter, Onderrigter, ons staan op die punt om dood te gaan!” Toe het hy opgestaan en die wind en die onstuimige water bestraf, en dit het bedaar, en ’n kalmte het oor die meer gekom.+ 25  Toe het hy vir hulle gevra: “Waar is julle geloof?” Maar hulle was bang en verbaas en het vir mekaar gesê: “Wie is hy regtig? Want hy beveel selfs die wind en die water, en dit gehoorsaam hom.”+ 26  Hulle het in die gebied van die Geraseners aangekom,+ wat oorkant Galileʹa is. 27  Maar toe Jesus op die land uitklim, het ’n sekere man uit die stad na hom toe gekom wat demone in hom gehad het. Hy het al ’n hele ruk lank nie klere gedra nie, en hy het nie in ’n huis gebly nie, maar tussen die grafte.*+ 28  Toe hy Jesus sien, het hy hard uitgeroep en voor hom neergeval, en hy het met ’n harde stem gesê: “Wat het ek met jou te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek smeek jou, moet my nie pynig nie.”+ 29  (Want Jesus het die onrein gees beveel om uit die man uit te kom. Die gees het hom dikwels gegryp,*+ en hy is al baie kere met kettings en voetboeie gebind en bewaak, maar hy het die boeie uitmekaargeruk en is deur die demoon na afgeleë plekke gedryf.) 30  Jesus het hom gevra: “Wat is jou naam?” Hy het gesê: “Legioen,” want baie demone het in hom ingevaar. 31  En hulle het hom bly smeek om hulle nie te beveel om in die afgrond in te gaan nie.+ 32  ’n Groot trop varke+ het daar op die berg gewei. Toe het hulle hom gesmeek om hulle toe te laat om in die varke in te gaan, en hy het hulle toestemming gegee.+ 33  Toe het die demone uit die man uitgegaan en in die varke ingegaan, en die trop het oor die krans* gestorm, in die meer in, en verdrink. 34  Maar toe die oppassers sien wat gebeur het, het hulle gevlug en die nuus in die stad en op die platteland gaan vertel. 35  Toe het mense gekom om te sien wat gebeur het. Hulle het by Jesus gekom en die man gevind uit wie die demone gekom het. Hy het klere aangehad, was by sy volle verstand en het by Jesus se voete gesit, en die mense het baie bang geword. 36  Die mense wat dit gesien het, het vir hulle vertel hoe die man in wie daar demone was, genees is. 37  Toe het baie mense van die omliggende gebied van die Geraseners hom gevra om van hulle af weg te gaan, want hulle was baie bang. Hy het toe in die boot geklim om te vertrek. 38  Die man uit wie die demone uitgegaan het, het egter aangehou smeek om by hom te bly, maar hy het die man weggestuur en gesê:+ 39  “Gaan terug huis toe, en hou aan om te vertel wat God vir jou gedoen het.” Toe het hy weggegaan en deur die hele stad verkondig wat Jesus vir hom gedoen het. 40  Toe Jesus terugkom, het die skare hom vriendelik ontvang, want hulle almal het hom verwag.+ 41  ’n Man met die naam Jaïrus het na hom toe gekom. Hy was ’n hoofbeampte van die sinagoge, en hy het voor Jesus se voete neergeval en hom begin smeek om na sy huis te kom,+ 42  want sy enigste dogter, wat omtrent 12 jaar oud was, het op sterwe gelê. Terwyl Jesus gegaan het, het die skare van alle kante af teen hom gedruk. 43  En daar was ’n vrou wat 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely het,+ en niemand kon haar genees nie.+ 44  Sy het van agter af gekom en aan die fraiings van sy bo-kleed geraak,+ en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. 45  Toe het Jesus gevra: “Wie het aan my geraak?” Toe hulle almal dit ontken, het Petrus gesê: “Onderrigter, die skare omring u en druk van alle kante af teen u.”+ 46  Maar Jesus het gesê: “Iemand het aan my geraak, want ek weet dat krag+ uit my uitgegaan het.” 47  Toe die vrou besef dat Jesus weet dat iets gebeur het, het sy voor hom kom neerval terwyl sy gebewe het en voor al die mense gesê hoekom sy aan hom geraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. 48  Maar hy het vir haar gesê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak. Gaan in vrede.”+ 49  Terwyl hy nog gepraat het, het ’n verteenwoordiger van die hoofbeampte van die sinagoge gekom en gesê: “U dogter het gesterf! Moenie die Leermeester langer lastig val nie.”+ 50  Toe Jesus dit hoor, het hy vir hom gesê: “Moenie bekommerd wees nie. Betoon net geloof, en sy sal gered word.”+ 51  Toe hy by die huis kom, het hy niemand saam met hom laat ingaan nie, behalwe Petrus, Johannes, Jakobus en die meisie se pa en ma. 52  Die mense het almal gehuil en hulleself geslaan omdat hulle oor haar getreur het. Toe het hy gesê: “Hou op huil,+ want sy het nie gesterf nie. Sy slaap.”+ 53  Hulle het hom begin uitlag, want hulle het geweet dat sy gesterf het. 54  Maar hy het haar hand geneem en uitgeroep: “Kind, staan op!”+ 55  En sy het weer lewend geword,*+ en sy het dadelik opgestaan,+ en hy het gesê dat hulle vir haar iets moet gee om te eet. 56  Wel, haar ouers se harte het oorgeloop van vreugde, maar hy het vir hulle gesê om vir niemand te vertel wat gebeur het nie.+

Voetnote

Of “gedenkgrafte”.
Of moontlik “het hom oor ’n lang tyd vasgehou”.
Of “teen die steilte af”.
Lett. “haar gees (asem) het teruggekeer”.