Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Klas gedurende ’n 2017-Gileadskool

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Gileadskool – ’n Wêreldwye uitwerking

Gileadskool – ’n Wêreldwye uitwerking

1 DESEMBER 2020

Elke jaar word ’n hele paar spesiale voltydse dienaars van regoor die wêreld uitgenooi na die Wagtoring-Bybelskool Gilead, wat gehou word by die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York. a By hierdie skool leer studente hoe om meer doeltreffend te word in hulle verskeie toewysings in Jehovah se organisasie. Hierdie opleiding help hulle om gemeentes en takkantore regoor die wêreld te verbeter en te stabiliseer.

Gilead is regtig ’n internasionale skool. Byvoorbeeld, die 147ste klas wat in 2019 gehou is, het 56 studente van 29 lande gehad. Die studente wat Gilead bywoon, dien in die een of ander vorm van spesiale voltydse diens as Betheliete, kringopsieners, sendelinge of spesiale pioniers.

Voorbereidings vir die skool begin lank voor die eerste sessie in die klaskamer gehou word. Byvoorbeeld, die Reisafdeling van die Wêreldhoofkwartier koop vliegtuigkaartjies vir dié wat na die skool genooi is. Vir die 147ste klas van Gilead het dit vir elke buitelandse student gemiddeld R16 400 gekos om na en van Patterson te reis. Studente van die Salomonseilande moes vier vlugte neem om by Patterson uit te kom en later nog drie vlugte om terug te gaan huis toe. Hulle het altesaam meer as 35 400 kilometer gereis! Hierdie vlugte het meer as R35 000 per student gekos. Om geld te spaar, gebruik die Reisafdeling ’n rekenaarbesprekings-app om kaartjies te kry met redelike pryse. Selfs nadat hulle ’n kaartjie bespreek het, hou die program vir weke en selfs maande aan om na kaartjies te soek met beter pryse. Die Reisafdeling gebruik ook lugredery-geskenkbewyse wat geskenk is om kaartjies te koop.

Baie van die studente het ’n visum nodig om in die Verenigde State in te kom. Daarom help die Regsafdeling van die Wêreldhoofkwartier hulle om ’n studente-visum te kry. Die visum- en registrasiefooie kos omtrent R7 700 per student.

Hoe help die opleiding van hierdie studente ons? Hendra Gunawan dien as ’n ouerman in Suidoos-Asië. Hy is in ’n gemeente saam met ’n getroude paartjie wat in Gilead opgelei is. Hy sê: “Ons gemeente het nie voorheen gewone pioniers gehad nie. Maar nadat die gegradueerdes hier aangekom het, het hulle ywerige en gewillige gees na ander in die gemeente versprei, wat toe besluit het om te begin pionier. Een suster in ons gemeente het later selfs die Skool vir Koninkrykspredikers bygewoon!”

Sergio Panjaitan werk saam met Gilead-gegradueerdes by ’n Bethel in Suidoos-Asië. Hy sê: “Die opleiding wat hulle ontvang het, was nie net ’n seëning vir hulle nie, maar dit het ook ’n seëning vir ons geword. Hulle het so baie geleer! Maar hulle het nie probeer om uit te staan as gevolg hiervan nie. Hulle het eerder met ons gedeel wat hulle geleer het. Dit moedig ons aan, en dan moedig ons weer ander aan.”

Hoe word die koste van hierdie skool gedek? Deur donasies aan die wêreldwye werk waarvan baie deur middel van donate.mt1130.com gemaak word. Dankie vir julle vrygewige bydraes wat hierdie skool met studente van regoor die wêreld ondersteun.

a Die leerplan vir hierdie skool word ontwikkel en aangepas deur die Teokratiese Skole-afdeling onder die leiding van die Onderrigtingskomitee van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies. Die skool word aangebied deur instrukteurs van daardie afdeling sowel as ander instrukteurs, insluitende lede van die Bestuursliggaam.