JESÚS MARTÍN | LEWENSVERHAAL
‘Jehovah het my in my donkerste uur gered’
Ek is in 1936 in Madrid gebore. Vir die Spanjaarde van my geslag was dit ’n jaar wat niemand sou vergeet nie. Dit was die jaar toe ’n wrede burgeroorlog in Spanje uitgebreek het.
Daardie burgeroorlog het byna drie jaar lank baie swaarkry in Spanje veroorsaak, wat baie mense fisies en emosioneel seergemaak het. My pa was een van hulle. Hy het altyd in God geglo, maar hy was teleurgesteld en kwaad toe hy sien hoe betrokke die Katolieke priesters by die oorlog was. So hy het besluit dat ek en my broer nie in die Katolieke Kerk gedoop sou word nie.
In 1950 het twee van Jehovah se Getuies aan ons deur geklop. My pa het na hulle geluister en ingestem om die Bybel elke week saam met hulle te studeer. Ek was toe maar net 14 jaar oud, en sokker was my passie. My pa wou hê dat ek van die publikasies moes lees wat die Getuies by hom gelos het, maar ek wou nie. Toe ek een middag ná ’n sokkerwedstryd by die huis gekom het, het ek my ma gevra: “Ma, is daardie Bybelonderwysers weer hier?” Sy het geantwoord: “Ja, hulle is saam met jou pa in die eetkamer.” Ek het vinnig weer uit die huis gehardloop!
Ek was beïndruk dat my pa nooit toegelaat het dat my gesindheid teenoor Bybelleringe hom ontmoedig het nie. Om die waarheid te sê, sy liefde vir die waarheid was so groot dat hy in 1953 as een van Jehovah se Getuies gedoop is. Dit het my nuuskierig gemaak, so ek het begin om my pa baie vrae te vra. Ek het hom selfs vir my eie Bybel gevra. Hy het gereël dat Máximo Murcia, ’n jong Getuie, die Bybel met my studeer. Twee jaar later, op die ouderdom van 19, is ek in die Jarama-rivier, net oos van Madrid, as een van Jehovah se Getuies gedoop.
Die predikingswerk gedurende die Franco-diktatorskap
Gedurende die 1950’s was dit moeilik om te preek en bymekaar te kom. Diktator Francisco Franco was die heerser van Spanje, en hy wou gehad het dat almal in die land Katolieke moes wees. As gevolg hiervan het die polisie dikwels Jehovah se Getuies geteister. Ons het in privaat huise bymekaargekom, en ons was baie versigtig sodat die bure niks sou opmerk en dan die polisie sou laat weet het nie. Ons het ook probeer om so min as moontlik die aandag op onsself te vestig wanneer ons deelgeneem het aan die huis-tot-huis-bediening. Ons het twee of drie huise gekies en dan vinnig aanbeweeg na ’n ander gebied. Baie mense het na ons boodskap geluister, maar nie almal het goed gereageer nie.
Ek onthou toe ek ’n Katolieke priester eenkeer ontmoet het. Toe ek aan hom verduidelik hoekom ons daar was, het hy gevra: “Wie het vir julle die reg gegee om dit te doen? Het jy geweet dat ek jou by die polisie kan aangee?” Ek het verduidelik dat ons verwag dat so iets kan gebeur. Ek het vir hom gesê: “Jesus Christus se vyande het ook probeer om hom te laat arresteer. Is dit dan nie redelik om te verwag dat dit ook met sy volgelinge sal gebeur nie?” Omdat die priester glad nie beïndruk was met my antwoord nie, het hy ingegaan om die polisie te bel. En ek het natuurlik die gebou so gou as moontlik verlaat.
Al het ons sulke negatiewe ondervindinge gehad, het die paar honderd verkondigers in Spanje baie mense gevind wat na hulle boodskap wou luister. In Februarie 1956, toe ek nog 19 jaar oud was, is ek aangestel as ’n spesiale pionier. a Die meeste van ons pioniers was jonk en onervare. Maar daar was ’n paar sendelinge wat ons opgelei en aangemoedig het. Ek en ’n ander jong pionier is toegewys na die stad Alicante, waar daar nog nie met die predikingswerk begin is nie. Binne net ’n paar maande het ons baie Bybelstudies begin en honderde publikasies geplaas.
Natuurlik het mense gesien wat ons doen. Nadat ons net ’n paar maande in Alicante gepreek het, is ons deur die polisie gearresteer en het hulle ons Bybels weggeneem. Hulle het ons 33 dae in die tronk aangehou, waarna ons na Madrid geneem is en toe vrygelaat is. Daardie tydjie in die tronk was net ’n voorsmakie van wat nog sou gebeur.
My donkerste uur
Toe ek 21 jaar oud was, was ek beveel om by die weermag aan te sluit. Ek moes na ’n weermagkamp in Nador gaan – ’n stad in Noord-Marokko wat destyds onder die beskerming van Spanje was. Daar, voor die hoofluitenant, het ek op ’n respekvolle manier my standpunt verduidelik. Ek sou nie in die weermag dien nie, en ek sou ook nie hulle uniform dra nie. Die militêre polisie het my na die Rostrogordo-tronk in Melilla gevat, waar ek moes wag om deur ’n militêre hof verhoor te word.
Voor my verhoor het die Spaanse militêre hoof in Marokko besluit dat die soldate my sou slaan totdat ek van plan verander. As gevolg daarvan was ek beledig, 20 minute lank met ’n sweep geslaan en geskop totdat ek half bewusteloos op die grond geval het. Omdat die hoof van die tronk nog nie tevrede was nie, het hy met sy militêre stewel op my kop getrap en eers opgehou toe die bloed begin loop het. Ek is toe na sy kantoor gevat waar hy op my geskree het: “Moenie dink dat ek klaar is met jou nie. Wees elke dag gereed vir dieselfde en nog meer!” Hy het die wagte beveel om my in ’n ondergrondse sel toe te sluit. Die sel was donker en nat, en my vooruitsigte het selfs donkerder gelyk.
Ek onthou nog hoe ek op die grond van my tronksel gelê het met bloed wat nog op my kop was. Ek het net ’n dun kombers gehad om myself toe te maak, en daar was ook ’n paar rotte wat elke nou en dan uitgekom het. Al wat ek kon doen, was om vir Jehovah te bid om my krag te gee en my te help om te volhard. In daardie koue, donker sel het ek oor en oor gebid. b
Die volgende dag is ek weer geslaan. Hierdie keer was dit ’n korporaal. Die hoof van die tronk het toegekyk om seker te maak dat ek genoeg geslaan was. Ek moet erken dat ek op hierdie punt begin wonder het of ek hierdie behandeling langer sou kon verduur. Daardie tweede aand in my sel het ek Jehovah gesmeek om my te help.
Op die derde dag moes ek weer na die hoof van die tronk se kantoor gaan. Ek was bang dat ek weer geslaan sou word. Terwyl ek na die kantoor toe geloop het, het ek tot Jehovah gebid. Don Esteban, c die sekretaris van die militêre hof, het vir my gewag. Hy was daar om die saak teen my te begin.
Toe Don Esteban die verbande om my kop sien, het hy my gevra wat gebeur het. Ek was huiwerig om hom te vertel wat gebeur het omdat ek bang was dat hulle my weer sou slaan. Maar ek het hom die waarheid vertel. Nadat hy gehoor het wat gebeur het, het Don Esteban gesê: “Ek kan nie keer dat jy voor die hof moet verskyn nie. Maar jy kan daarvan seker wees dat niemand jou ooit weer sal slaan nie.”
Net soos hy belowe het, het niemand my weer geslaan gedurende die res van die tyd wat ek in die tronk was nie. Ek het nooit uitgevind hoekom die regter, Don Esteban, daardie dag met my gepraat het nie. Wat ek wel weet, is dat my gebede op ’n buitengewone manier beantwoord is. Ek het gesien hoe Jehovah my in my donkerste uur gered het en nie toegelaat het dat ek ’n versoeking deurmaak wat ek nie kon hanteer nie (1 Korintiërs 10:13). Gedurende my hofsaak het ek ten volle op Jehovah vertrou.
Die militêre hof het my tot 19 jaar tronkstraf gevonnis. Later het hulle nog drie jaar bygevoeg vir “ongehoorsaamheid”. Ná omtrent 15 maande in Marokko is ek oorgeplaas na die Ocaña-tronk, nie ver van Madrid nie, om die res van my tronkstraf uit te dien. My oorplasing na Ocaña was ’n seën van Jehovah af. Dit was soos ’n paradys in vergelyking met Rostrogordo. My sel het ’n bed, ’n matras en ’n paar lakens gehad. En ná ’n rukkie was ek aangestel om die tronk se finansies te hanteer. Maar so ’n lang tronkstraf het ook gemaak dat ek met tye baie eensaam was. Een van my grootste uitdagings was dat ek Jehovah nie saam met my geestelike broers en susters kon aanbid nie.
My ouers het my soms besoek, maar ek het regtig meer aanmoediging nodig gehad. My ouers het my vertel dat daar ook ander broers was wat geweier het om militêre diens te doen. So ek het vir Jehovah gebid dat ten minste een broer na dieselfde tronk as ek gestuur moet word. En skielik het Jehovah my vurige gebede verhoor – op ’n baie beter manier as wat ek verwag het. Kort voor lank was drie getroue broers – Alberto Contijoch, Francisco Díaz en Antonio Sánchez – saam met my in Ocaña-tronk. Ná vier jaar in afsondering kon ek nou aanmoedigende assosiasie met my geestelike broers geniet. Die vier van ons het saam gestudeer en vir ander wat ook in die tronk was, gepreek.
Vry en weer aan die werk
Uiteindelik is ek in 1964 vrygelaat op parool. My vonnis van twee en twintig jaar is verkort na net ses en ’n half jaar. Die dag toe ek vrygelaat is, het ek my eerste vergadering bygewoon. Ek moes die bietjie geld wat ek gehad het, gebruik vir ’n taxi om in Madrid te kom, en ek was net betyds vir die vergadering. Wat ’n seën om weer saam met die broers te wees! Maar ek wou nie net met die broers assosieer nie. Ek wou so gou as moontlik weer begin pionier. Alhoewel die polisie nog die broers en susters geteister het, het baie mense op die goeie nuus gereageer, en daar was baie werk om te doen.
Gedurende daardie tyd het ek Mercedes, ’n jong ywerige suster wat as ’n spesiale pionier gedien het, ontmoet. Mercedes was ’n nederige suster wat gretig was om vir enige iemand te getuig. Sy was ook vriendelik en vrygewig, eienskappe wat my na haar toe aangetrek het. Ons het verlief geraak, en ’n jaar later is ons getroud. Met Mercedes aan my sy, was ek werklik geseënd.
’n Paar maande ná ons troue was ons genooi om in die reisende werk te dien. Ons het elke week ’n ander gemeente besoek waar ons saam met die broers hulle vergaderinge bygewoon het en aan die predikingswerk deelgeneem het. Daar was nuwe gemeentes regdeur Spanje, en die broers het hulp en aanmoediging nodig gehad. Ek het ook vir ’n kort rukkie die voorreg gehad om op sekere dae met die werk by die geheime kantoor van Jehovah se Getuies in Barcelona te help.
In 1967 het ons situasie verander. Nadat die regering ’n wet uitgereik het waarin alle Spaanse burgers godsdiensvryheid gekry het, was dit nie meer vir ons nodig om in die geheim te aanbid nie. Uiteindelik, in 1970, is die werk van Jehovah se Getuies wetlik erken. Nou kon ons vryelik bymekaarkom, en ons eie Koninkryksale en selfs ’n takkantoor hê.
Nuwe teokratiese toewysings
In 1971 was ek en Mercedes genooi om permanent by die nuwe takkantoor in Barcelona te dien. Maar ’n jaar later het Mercedes swanger geraak en geboorte gegee aan ons pragtige dogter, Abigail. Dit het beteken dat ons Bethel moes verlaat. Maar ons het nou ’n nuwe toewysing gehad, om ons dogter groot te maak.
Toe Abigail in haar tienerjare was, het die takkantoor ons gevra of ons weer aan die reisende werk kon deelneem. Natuurlik het ons daaroor gebid en met volwasse broers gepraat. Een ouerman het gesê: “Jesús, as hulle julle in die veld nodig het, moet julle ja sê.” En so het nog ’n bevredigende ondervinding in ons lewe begin. Eers het ons gemeentes besoek wat naby ons huis was sodat ons kon aanhou om vir Abigail te sorg. Sy het natuurlik grootgeword en met haar eie lewe begin, wat ons die geleentheid gegee het om ons spesiale voltydse diens uit te brei.
Ek en Mercedes het 23 jaar lank in die reisende werk gedien. Ek het hierdie voorreg baie geniet. Dit het my die geleentheid gegee om my eie ondervindinge te gebruik om jongmense aan te moedig. Soms, wanneer ek as ’n onderrigter vir ouermanne en voltydse bedienaars gedien het, het ons by Bethel in Madrid gebly. Dit is baie interessant dat die Jarama-rivier, waarin ek in 1955 gedoop is, net drie kilometer van waar Bethel is, vloei. Ek het destyds nooit gedink dat ek jare later na dieselfde omgewing sou terugkeer om jong mans en vrouens te help voorberei vir groter verantwoordelikhede in Jehovah se diens nie.
In 2013 het ons weer as spesiale pioniers begin dien. Ek moet erken dat dit nie maklik was om aan te pas by pionierdiens nadat ons die reisende werk gedoen het nie, maar dit was die regte ding om te doen. Ek het onlangs gesondheidsprobleme gehad, onder andere ’n groot hartoperasie. In tye soos dié moes ek ook op Jehovah vertrou, en soos gewoonlik het hy my nooit verlaat nie. En die afgelope 56 jaar het my vrou, Mercedes, my getrou ondersteun. Sy is ’n ware metgesel in al my teokratiese toewysings.
Ek dink baie terug aan die tyd toe ek ’n onderrigter was. Ek sien nog steeds die jong, gretige gesigte van die studente. Hulle ywer het my herinner aan toe ek jonk was en hoe ek gevoel het toe ek ’n lewe in Jehovah se diens begin het. Ja, ek moes gedurende donker tye volhard, maar ek het ook wonderlike ondervindinge gehad. Selfs die moeilikste uitdagings het my belangrike lesse geleer – die belangrikste een is om nie op my eie krag staat te maak nie. Die moeilike tye wat ek deurgemaak het, het my gehelp om te sien hoe Jehovah op kragtige maniere my altyd versterk het – selfs in my donkerste uur. – Filippense 4:13.
a ’n Spesiale pionier is ’n voltydse bedienaar wat ’n vrywilliger is en bereid is om deur die takkantoor van Jehovah se Getuies na ’n gebied gestuur te word waar daar ’n groot behoefte aan Bybelonderrigters is.
b Hierdie leë sel wat sewe maande lank my tuiste was, was net vier vierkante meter groot en het nie ’n toilet gehad nie. Ek het op die vuil vloer geslaap met net een kombers.
c “Don” is ’n eretitel wat uit respek in Spaanssprekende lande voor ’n persoon se naam gebruik word.