Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

God se Wette oor higiëne was ver voor hulle tyd

God se Wette oor higiëne was ver voor hulle tyd

 Kort voordat die nasie Israel die Beloofde Land binnegegaan het ongeveer 35 eeue gelede, het God gesê dat hy hulle sou beskerm teen “die bose kwale” wat hulle in Egipte geken het (Deuteronomium 7:15). Een manier hoe hy dit gedoen het, is deur vir hulle gedetailleerde instruksies te gee oor hoe om siektes te voorkom en te keer dat dit versprei. Byvoorbeeld:

  •   Die nasie se wette het vereis dat hulle moet bad en hulle klere moet was. – Levitikus 15:4-27.

  •   In verband met die ontlasting van mense het God gesê: “’n Privaat plek moet buite die kamp vir jou beskikbaar wees, en daarheen moet jy uitgaan. En ’n pen moet by jou gereedskap vir jou beskikbaar wees, en wanneer jy buite hurk, moet jy daarmee ’n gat grawe en omdraai en jou ontlasting bedek.” – Deuteronomium 23:12, 13.

  •   Wanneer daar vermoed is dat iemand ’n aansteeklike siekte het, is hy onder kwarantyn geplaas – ’n tyd lank van mense af weggehou. Voordat dié wat van hulle siekte genees is, kon terugkeer, moes hulle hulle klere was en hulleself in water bad as hulle as “rein” beskou wou word. – Levitikus 14:8, 9.

  •   Enigiemand wat aan ’n dooie liggaam geraak het, is onder kwarantyn geplaas. – Levitikus 5:2, 3; Numeri 19:16.

 Die Israeliete se wette het mediese konsepte en beskouings oor sanitasie bevat wat ver voor hulle tyd was.

 Op ander plekke was outydse standaarde van higiëne algemeen. Byvoorbeeld:

  •   Vullis is in strate gegooi. Besoedelde water en kos en ander tipe afval het onhigiëniese toestande veroorsaak en het bygedra tot ’n hoë siektesyfer en die dood van babas.

  •   Eertydse dokters het min of geen kennis van kieme en patogene gehad. Egiptenare het “geneesmiddels” soos akkedisbloed, pelikaanmis, dooie muise, urine en vermufte brood gebruik. Die afval van mense en diere is ook algemeen gebruik in hulle mediese prosedures.

  •   Die eertydse Egiptenare het siek geword as gevolg van verskillende parasiete van die besoedelde water van die Nylrivier en sy besproeiingskanale. En baie babas in Egipte het gesterf as gevolg van diarree en soortgelyke siektes wat deur besoedelde kos veroorsaak is.

 Maar die Israeliete het baat gevind en redelik gesond gebly omdat hulle die standaarde in God se Wet gevolg het.