“Waaghalssport”—Moet jy jou lewe in gevaar stel?
Die Bybel se beskouing
“Waaghalssport”—Moet jy jou lewe in gevaar stel?
“AL HOE MINDER VAN ONS IS DEESDAE TOESKOUERS; ONS SPRING SELF UIT VLIEGTUIE, GLY MET ’N TOU TEEN BERGE AF, VAAR MET KANO’S OOR WATERVALLE EN DUIK SAAM MET HAAIE.”—DIE KOERANT THE WILLOW GLEN RESIDENT.
HIERDIE kommentaar beskryf ’n groeiende neiging in sport. Die feit dat sportsoorte soos vryval-valskermspring, ysklim, valskermsweef en struktuurspring (BASE jumping) * baie gewild geword het, toon dat die wêreld daarmee behep is om risiko’s te loop. Mense gebruik ook sneeuplanke, bergfietse, skaatsplanke en inlynskaatse om hulleself tot die uiterste te dryf deur die stylste berge, die hoogste kranse en die verste spronge aan te durf. Soos die tydskrif Time sê, toon die toenemende gewildheid van “waaghalssport”—sportsoorte waarin deelnemers hulle lewe in groot gevaar stel—hoe gretig miljoene is om op “die spreekwoordelike rand [deel te neem], waar gevaar, vaardigheid en vrees saamsmelt om naweek-entoesiaste sowel as professionele atlete die gevoel te gee dat hulle hulle eie beperkings oortref”.
Maar hierdie toename in gewildheid gaan ook gepaard met ’n hoë persoonlike prys. Al hoe meer mense word beseer wanneer betreklik veilige sportsoorte tot die uiterste toe gedryf word. Gedurende 1997 in die Verenigde State het beserings weens skaatsplankverwante ongelukke wat in ongevalleafdelings behandel is met 33 persent toegeneem, weens sneeuplankongelukke met 31 persent en weens bergklim met 20 persent. Vir ander sportsoorte is die gevolge selfs ernstiger, soos gesien kan word in die groeiende aantal sterfgevalle wat met waaghalssport verband hou. Voorstanders van hierdie sportsoorte is bewus van die gevare. Een vrou wat tot die uiterstes gaan met skiëry, sê: “Ek het altyd die dood in my agterkop.” ’n Professionele sneeuplankryer som die situasie op deur te sê dat “’n mens nie hard genoeg probeer as jy nie seerkry nie”.
Hoe moet ’n Christen deelname aan sulke bedrywighede beskou in die lig van hierdie feite? Hoe kan die Bybel ons help om te besluit of ons aan waaghalssport moet deelneem? ’n Ondersoek van
hoe God oor die heiligheid van lewe voel, sal ons help om hierdie vrae te beantwoord.God se beskouing van lewe
Die Bybel sê vir ons dat Jehovah “die fontein van die lewe” is (Psalm 36:10). Behalwe dat hy die mensdom geskep het, het hy ook groot sorg aan die dag gelê om ons te gee wat ons nodig het om die lewe te geniet (Psalm 139:14; Handelinge 14:16, 17; 17:24-28). Dit is derhalwe redelik om te dink dat hy van ons verwag om te sorg vir wat hy so goedgunstiglik aan ons gegee het. Wette en beginsels wat aan die nasie Israel gegee is, help ons om hierdie feit te verstaan.
Die Mosaïese Wet het vereis dat ’n persoon maatreëls tref om die lewe van ander te beskerm. As dit nie gedoen is nie en iemand sy lewe verloor het, was die een wat die tragedie kon voorkom het bloedskuldig. ’n Huiseienaar is byvoorbeeld beveel om ’n lae muurtjie of reling om die plat dak van sy nuwe huis te bou. Anders sou bloedskuld op die huis kom as iemand van die dak afgeval en gesterf het (Deuteronomium 22:8, NW). As ’n bul iemand onverwags stoot sodat hy sterf, sou die eienaar van die bul nie aanspreeklik gehou word nie. Aan die ander kant, as die bul daarvoor bekend was dat hy gevaarlik is en die eienaar gewaarsku is, maar hy nie die bul behoorlik opgepas het nie, was die eienaar van die bul bloedskuldig en sou hy die doodstraf kry as die bul iemand gestoot het (Exodus 21:28, 29). Aangesien lewe vir Jehovah kosbaar is, het sy Wet hoë agting vir die behoud en beskerming van lewe weerspieël.
Getroue knegte van God het verstaan dat hierdie beginsels ook van toepassing was wanneer iemand hom aan gevare blootgestel het. In een Bybelverslag het Dawid sy begeerte uitgespreek om water “te drink uit die put van Betlehem”. Betlehem was op daardie stadium onder die beheer van die Filistyne. Toe drie van Dawid se soldate sy versoek gehoor het, het hulle deur die laer van die Filistyne gebreek, water uit die put van Betlehem geskep en dit na Dawid gebring. Wat het Dawid gedoen? Hy het geweier om die water te drink, maar dit op die grond uitgegooi. Hy het gesê: “Mag my God my bewaar, dat ek dit sou doen! Sou ek die bloed van hierdie manne drink? Met lewensgevaar, ja, met lewensgevaar het hulle dit gebring” (1 Kronieke 11:17-19). Vir Dawid was dit ondenkbaar om ’n lewe vir sy persoonlike bevrediging in gevaar te stel.
Jesus het op ’n soortgelyke manier gereageer toe die Duiwel hom, waarskynlik in ’n visioen, versoek het om van die kanteel van die tempel af te spring om te sien of die engele hom sou beskerm sodat hy nie seerkry nie. Jesus het geantwoord: “Jy mag Jehovah jou God nie op die proef stel nie” (Matteus 4:5-7). Ja, Dawid sowel as Jesus het besef dat dit verkeerd in God se oë is om onnodige risiko’s te loop wat menselewe in gevaar kan stel.
Met hierdie voorbeelde in gedagte wonder ons dalk: ‘Hoe onderskei ’n mens wat ’n waaghals- of gevaarlike sport is? Hoe kan ons vasstel hoe ver ons moet gaan, aangesien selfs ’n algemene vorm van ontspanning, wat nie op sigself gevaarlik is nie, tot uiterstes gedryf kan word?’
Is dit die risiko werd?
As ons enige bedrywigheid waaraan ons dink om deel te neem eerlik in oënskou neem, sal dit ons help om ’n antwoord te vind. Ons kan ons byvoorbeeld afvra: ‘Wat is die ongeluksyfer vir hierdie sportsoort? Het ek die nodige opleiding en beskermende toerusting om my teen beserings te beskerm? Wat sal die gevolge wees as ek val of ’n sprong verkeerd skat of as my veiligheidstoerusting onklaar raak? Sal dit ’n klein ongeluk veroorsaak of bestaan daar ’n moontlikheid dat ek my ernstig kan beseer of my lewe kan verloor?’
As ’n ware Christen hom ter wille van ontspanning aan onnodige gevare blootstel, kan dit sy kosbare verhouding met Jehovah raak, sowel as sy geskiktheid om spesiale voorregte in die gemeente te ontvang (1 Timoteus 3:2, 8-10; 4:12; Titus 2:6-8). Dit is beslis verstandig van Christene om die Skepper se beskouing van die heiligheid van lewe in ag te neem, selfs wanneer hulle aan verskillende vorme van ontspanning deelneem.
[Voetnoot]
^ par. 4 Die Engelse woord BASE staan vir building, antenna, span en earth. Hierdie sport, wat behels dat ’n mens met ’n valskerm van vaste voorwerpe soos geboue, brûe en kranse spring, word as so gevaarlik beskou dat die Nasionale Parkeafdeling in die Verenigde State dit verbied het.