Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Troeteldiere—Behou ’n gebalanseerde beskouing

Troeteldiere—Behou ’n gebalanseerde beskouing

Troeteldiere—Behou ’n gebalanseerde beskouing

SOOS voorheen genoem is, het die mens die opdrag gekry om vir die aarde en al die diere daarop te sorg. Die Bybel sê: “Alles het [God] onder sy voete gestel: kleinvee en beeste, hulle almal, en ook die diere van die oop veld, die voëls van die hemel en die visse van die see.”—Psalm 8:6-8; 115:16.

Die manier waarop mense hulle verantwoordelikheid teenoor diere nakom, is belangrik. God se Woord sê: “Die regverdige sorg vir die siel van sy mak dier” (Spreuke 12:10). Trouens, God se wette vir Israel het herhaaldelik beklemtoon dat dit nodig is om diere se behoeftes in ag te neem (Deuteronomium 22:4, 10; 25:4). In nakoming van hulle verantwoordelikheid het mense dikwels mak diere as troeteldiere aangehou en selfs wilde diere getem en hulle ook as troeteldiere aangehou.—Genesis 1:24.

Maar ons moet onthou dat die Bybel die verskil tussen mense en diere beklemtoon. Mense, nie diere nie, is ‘na die beeld en gelykenis van God’ gemaak (Genesis 1:26). En terwyl diere met ’n beperkte lewensduur geskep is, het mense die vooruitsig om vir ewig op die aarde te lewe (Genesis 3:22, 23; Psalm 37:29). Jesus Christus het gesê dat ons geloof moet beoefen en kennis van God moet inneem—wat diere nie kan doen nie—as ons die “ewige lewe” wil geniet (Johannes 3:36; 17:3). Bowendien vergelyk die Bybel diegene wat nie ’n opstanding verdien nie met die “redelose diere wat van nature gebore word om gevang en vernietig te word”.—2 Petrus 2:9-12.

Tot voordeel van die mens voorsien

God het diere ter wille van die mens geskep. Diere kan hulle help om hulle werk te doen en kan as geselskap of as troeteldiere dien. Hulle verheerlik ook God se liefde en wysheid. Dit is ongetwyfeld genotvol om na pragtige diere te kyk en meer omtrent die Skepper te leer deur hulle wonderlike instinktiewe wysheid te bestudeer (Psalm 104:24; Spreuke 30:24-28; Romeine 1:20). Een van die talle voorbeelde van hierdie wysheid kan in die insekwêreld gesien word. Die manier waarop bye met mekaar kommunikeer en aanwysings na voedselbronne volg, is inderdaad merkwaardig—om nie eens te praat van hoe hulle hulle ingewikkelde heuningkoeke bou nie.

Diere kan ook as voedsel vir die mens dien. God het oorspronklik net plante as voedsel vir die mens voorsien. Maar meer as 1 600 jaar later—ná die Vloed van Noag se dag—het God gesê: “Al die diere wat beweeg en lewe, mag vir julle as voedsel dien. Soos in die geval van die groen plante, gee ek dit alles aan julle” (Genesis 1:29; 9:3). God het dus die toegewing gemaak dat mense diere kon eet. Hierdie toegewing was klaarblyklik tot voordeel van die mens, hoewel God aanvanklik nie vleis by die mens se dieet ingesluit het nie.

Probleme met troeteldiere vandag

Deur die geskiedenis heen is troeteldiere blykbaar selde in die huis toegelaat, en dit is vandag nog in die meeste wêrelddele die geval. Maar namate mense in onlangse tye na stede getrek en welvarend geword het, het troeteldiere in die huis algemeen geword. Dit het ’n paar probleme in ontwikkelde lande veroorsaak.

Van die nagenoeg 500 miljoen troeteldiere in die wêreld is ’n verstommende 40 persent of wat in die Verenigde State. Sowat 59 miljoen honde en 75 miljoen katte word daar aangetref. Maar Londen sowel as Parys het meer troeteldiere per huishouding as New York!

’n Paar jaar gelede is 70 bromponies wat caninettes genoem word, in Parys gehuur om hondemis met ’n soort stofsuier van die sypaadjies af op te ruim. Volgens skatting laat die ongeveer 250 000 honde in Parys daagliks 25 ton mis agter, waarvan minder as die helfte deur die caninettes opgetel is. Honderde mense is elke jaar volgens berig beseer en in die hospitaal opgeneem nadat hulle op hondemis gegly het.

Dan is daar die geraasprobleem. Sommige honde-eienaars duld gedrag van hulle troeteldiere wat hulle nooit van mense sou duld nie. Volgens die Forum vir Troeteldiersorg “ontwikkel die eienaars van probleemblaffers oënskynlik die vermoë om die geraas te ignoreer”. Party doen byvoorbeeld niks om hulle hond te probeer stilmaak nie, al maak die geraas dit onmoontlik om ’n belangrike gesprek te voer.

Aan die ander kant is ’n hond miskien rustig en tevrede wanneer hy by sy eienaar is, maar ’n nagmerrie vir die buurt wanneer die eienaar weg is. Troeteldiereienaars is miskien lief vir hulle diere ten spyte van sulke tekortkominge, maar die buurman wat skofte werk of die ma in die huis langsaan wat haar baba aan die slaap probeer kry, is dalk minder toegeeflik. Daarbenewens kan verveelde diere vernielsugtig, angstig en selfs aggressief word.

Die tempo waarteen troeteldiere voortplant, is veral in stede ’n probleem. Daar is al geskat dat 17 miljoen honde en 30 miljoen katte elke jaar in die Verenigde State gebore word. Miljoene van hulle beland in dierebeskermingsentrums, waar ongeveer vier- tot sesmiljoen jaarliks in daardie land alleen van kant gemaak word.

Waarom word soveel diere na beskermingsentrums geneem? Dit is dikwels omdat liefde vir ’n troeteldier van korte duur kan wees. Die oulike hondjie of katjie word later ’n groter dier wat versorging nodig het. Maar niemand in die huis het moontlik die tyd of geduld om met die troeteldier te speel of dit te leer nie. Die skrywer en dierekenner dr. Jonica Newby sê: “In teenstelling met die algemene mening het studies wat in alle wêrelddele gedoen is, deurgaans getoon dat die helfte van die honde wat vir dierebeskermingsentrums gegee word, nie weggegooi is nie, maar soontoe geneem is deur hulle eienaars wat nie met hulle troeteldier se geblaf, vernielsugtigheid of uitbundigheid kan saamleef nie.”

’n Feiteblad oor die oorbevolking van troeteldiere som die situasie soos volg op: “Lewende diere het weggooibare goedere geword wat vertroetel word wanneer hulle oulik is en weggegooi word wanneer dit ongerieflik word om hulle aan te hou. Hierdie minagting van dierelewe deurdring en ondermyn ons kultuur.”

Belangrike faktore om te oorweeg

Veral as ’n mens ’n troeteldier in die stad wil aanhou, moet jy ernstig daaroor nadink. Lewenslustige troeteldiere het daagliks fisiese oefening nodig om gesond te bly. Die “Nasionale Opname van Mense en Troeteldiere” in Australië het gesê: “Stap en oefening is ’n fisiese vereiste sowel as verstandelike stimulasie vir die hond. Honde wat nie genoeg oefening kry nie, kan moeilik word om te beheer.” Maar baie eienaars is ná ’n dag se harde werk te moeg om met hulle hond te gaan stap sodat hy van al sy opgehoopte energie ontslae kan raak.

Dit sal dus goed wees as voornemende troeteldiereienaars hulle afvra: ‘Sal ek genoeg aandag aan my troeteldier kan gee? Sal my troeteldier weens my lewenswyse die grootste deel van die dag alleen wees? Sal ek genoeg tyd hê om met my troeteldier te gaan stap of met hom te speel? Is ek bereid om my hond self te leer of hom na ’n gehoorsaamheidskool te neem as hy geleer moet word? Sal dit inbreuk maak op tyd vir belangriker bedrywighede as ek ’n troeteldier aanhou?’

’n Ander faktor om in gedagte te hou, is dat dit duur kan wees om ’n troeteldier aan te hou. ’n Opname onder troeteldiereienaars het getoon dat die gemiddelde jaarlikse veeartskoste in die Verenigde State R1 407 is as jy ’n hond aanhou en R746 is as jy ’n kat aanhou. Dit sluit natuurlik nie die nodige kos en ander daaglikse behoeftes in nie. Daarbenewens moet ’n mens in sommige gemeenskappe registrasiefooie betaal.

’n Gebalanseerde beskouing is ’n uitdaging

Dit behaag ongetwyfeld ons Skepper as ons ons verlustig in die diere wat hy geskep het en hulle met liefdevolle sorg behandel. Sou jy dan saamstem dat dit ongepas sou wees om diere wreed te behandel? Nogtans laat mense dikwels toe dat diere soos bulle, honde en hoenders vir vermaak wreed mishandel en in gevegte doodgemaak word. Mense het diere ongelukkig nie altyd met die deernis behandel wat God wou hê nie.

Aan die ander kant is party mense meer besorg oor troeteldiere as oor sake van groter belang. Om die waarheid te sê, wanneer liefde vir diere nie met redelikheid gepaardgaan nie, kan die lewe van troeteldiere as belangriker as dié van mense beskou word. Byvoorbeeld, toe troeteldiereienaars tydens ’n brand by ’n dierehospitaal buite saamgedrom het, het party volgens berig “deur die kordon probeer breek en geskreeu dat hulle saam met hulle liefling wil doodgaan”.

Dit kan natuurlik baie hartseer, selfs tragies, wees om ’n geliefde troeteldier te sien doodgaan. Maar selfs in so ’n geval moet ’n mens gebalanseerd wees. Soos vroeër gemeld is, is diere nie na God se beeld geskep nie, en in teenstelling met mense is hulle nie bedoel om vir ewig te lewe nie. Die Bybel sê van die manier waarop God mense gemaak het: “Hy het selfs die ewigheid in hulle verstande geplaas.” Maar niks soortgelyks word van diere gesê nie.—Prediker 3:11, Byington.

Die Bybel sê dus nie dat dit verkeerd is om diere dood te maak nie—trouens, hulle is vandag ’n algemene bron van voedsel vir miljoene mense. Maar wat daarvan om ’n troeteldier van kant te maak—een wat byvoorbeeld siek is en ly? Wat ’n moeilike, pynlike besluit kan dit tog wees! ’n Troeteldierliefhebber kan nietemin tot die slotsom kom dat dit beter is om dit vinnig en pynloos te doen as om sy getroue troeteldier duur behandeling te laat kry wat net sy lyding verleng—en moontlik selfs druk op ’n gesin se finansies plaas.

God het sy menseskepping innig lief; moet ons dan nie ook die diere oppas en liefhê wat hy aan ons sorg en toesig toevertrou het nie? Diegene wat hierdie liefde het, is al dikwels aangetrek deur die wonderlike vooruitsig om diere se geselskap te geniet soos ons Skepper dit oorspronklik wou hê. Die laaste artikel in dié reeks sal hierdie aspek bespreek.

[Prent op bladsy 7]

Waarom word miljoene troeteldiere jaarliks in dierebeskermingsentrums van kant gemaak?

[Erkenning]

© Hulton-Deutsch Collection/CORBIS

[Prente op bladsy 8, 9]

Veral vir stadsbewoners kan ’n troeteldier veel meer verg as wat baie mense besef

[Prent op bladsy 9]

Dit behaag ons Skepper as ons diere goed behandel