Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Om te vertrou of nie te vertrou nie

Om te vertrou of nie te vertrou nie

“Moenie verrotte planke vertrou nie”, het die Engelse dramaturg William Shakespeare geskryf. Ja, voordat ’n mens jou voet op die houtplanke van ’n boot sit, sal jy seker wil wees dat die hout nie verrot is nie.

DIE woorde van Shakespeare stem ooreen met wat die wyse koning Salomo van eertydse Israel ongeveer 3 000 jaar gelede geskryf het: “’n Dwaas sal enigiets glo; verstandige mense gee ag op hulle voetstappe” (Spreuke 14:15, Today’s English Version). Ja, slegs ’n dwaas sal alles wat hy hoor, vir soetkoek opeet en sy besluite en optrede op ondeurdagte raad of ongegronde leringe baseer. Misplaaste vertroue kan—soos om jou voet op verrotte planke te sit—tot rampspoed lei. Jy wonder dalk: ‘Is daar enige bron van leiding wat wel ons vertroue waardig is?’

Miljoene mense regoor die wêreld stel hulle volle vertroue in ’n ou boek wat die Heilige Bybel genoem word. Hulle maak staat op hierdie boek om hulle voetstappe te rig. Hulle baseer hulle besluite op die raad daarin en tree in ooreenstemming met die leringe daarvan op. Plaas hierdie persone hulle voete as ’t ware op verrotte planke? Die antwoord op hierdie vraag hang grootliks af van die antwoord op ’n ander vraag: Is daar grondige redes om die Bybel te vertrou? Hierdie spesiale uitgawe van die Ontwaak! ondersoek die bewyse.

Die doel van hierdie uitgawe van die Ontwaak! is nie om godsdiensoortuigings en -beskouings op jou af te dwing nie. Dit wil eerder bloot die kragtige getuienis voorlê wat miljoene oortuig het dat die Bybel wel hulle vertroue verdien. Nadat jy die volgende artikels gelees het, kan jy self besluit of die Bybel jou vertroue waardig is.

Hierdie onderwerp verdien meer as net terloopse aandag. As die Bybel per slot van rekening wel ’n betroubare bron van leiding van ons Skepper is, is jy dit aan jouself en jou geliefdes verskuldig om te ondersoek wat die Bybel sê.

Maar laat ons eers ’n paar uitsonderlike feite oor die Bybel noem. Op sy minste is dit waarlik ’n unieke boek.