Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sleutel 3—Bly aktief

Sleutel 3—Bly aktief

“As oefening ’n pil was, sou dit die medikasie wees wat die meeste in die wêreld voorgeskryf word” (Mediese Fakulteit van die Emory-universiteit). Van al die dinge wat ons vir ons gesondheid kan doen, is daar min wat vir ons algehele gesondheid so nuttig is soos fisiese oefening.

Span jou in. As ons ’n fisies aktiewe lewe lei, kan dit ons help om gelukkiger te voel, helderder te dink, meer energie te hê, produktiewer te wees en, tesame met ’n gebalanseerde dieet, ons gewig te beheer. Oefening hoef nie pynlik of oormatig te wees om doeltreffend te wees nie. Dit kan baie voordelig wees om gereeld, ’n paar keer per week, matige oefening te doen.

As jy draf, vinnig stap, fietsry of aan aktiewe sportsoorte deelneem—genoeg om jou hart vinniger te laat klop en jou ook te laat sweet—kan dit jou uithouvermoë verbeter en hartaanvalle en beroertes help voorkom. As jy sulke aërobiese oefeninge met matige gewigsoefeninge en ligte gimnastiek kombineer, help dit om jou gebeente, inwendige spiere en ledemate te versterk. Hierdie bedrywighede dra ook by tot ’n vinniger metabolisme, wat outomaties help om jou gewig te beheer.

Oefening kan genotvol wees

Gebruik jou voete. Oefening is nuttig vir mense van alle ouderdomme, en ’n mens hoef nie by ’n gimnasium aan te sluit om oefening te kry nie. Om eenvoudig jou voete te gebruik in plaas van ’n motor, bus of hysbak, is ’n goeie begin. Waarom vir ’n vervoermiddel wag as jy na jou bestemming kan stap, en dalk nog gouer daar kan kom? Ouers, spoor julle kinders aan om fisies aktief te wees en buite te speel wanneer dit ook al moontlik is. Sulke oefening versterk hulle liggaam en help hulle om volledige liggaamskoördinasie te ontwikkel op maniere wat passiewe vermaak, soos videospeletjies, nie kan doen nie.

Ongeag hoe oud jy is wanneer jy begin, jy kan baat vind by matige fisiese oefening. As jy ouer is of gesondheidsprobleme ondervind en nie gewoonlik oefening doen nie, sal dit verstandig wees om ’n dokter te raadpleeg oor hoe om te begin. Maar sorg dat jy begin! Oefening waarmee daar geleidelik begin word en wat nie oordoen word nie, kan selfs die oudste persone help om spierkrag en beenmassa te behou. Dit kan bejaardes ook help om nie so maklik te val nie.

Oefening het Rustam, wat in die eerste artikel van hierdie reeks gemeld word, gehelp. Sewe jaar gelede het hy en sy vrou elke oggend, vyf dae per week, ’n klein entjie gaan draf. “In die begin het ons verskonings uitgedink om nie te gaan nie”, vertel hy. “Maar om ’n maat te hê, was vir ons al twee ’n aansporing. Nou is dit ’n goeie gewoonte, en ons geniet dit.”