Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gee God om?

Gee God om?

DIE stad Lissabon, Portugal, is die oggend van 1 November 1755 deur ’n aardbewing geskud. ’n Tsoenami en brande wat hierop gevolg het, het ’n groot deel van die stad verwoes en die dood van duisende veroorsaak.

Ná die aardbewing in 2010 in Haïti het ’n hoofartikel in die Kanadese koerant National Post gesê: “Alle groot tragedies toets die mensdom se geloof in ’n hoër mag. Maar party, soos hierdie hedendaagse herhaling van [daardie groot tragedie in] Lissabon, toets dit meer as ander.” Die artikel het afgesluit: “Dalk het God Haïti verlaat.”

As “die Almagtige” het Jehovah God onbeperkte mag, insluitende die vermoë om ’n einde te maak aan lyding (Psalm 91:1). Wat meer is, ons kan seker wees dat hy omgee. Waarom?

Wat weet ons omtrent God?

God het medelye met mense wat ly. Toe die Israeliete slawe in Egipte was en deur hulle gevangenemers mishandel is, het God vir Moses gesê: “Ek het ongetwyfeld die ellende gesien van my volk wat in Egipte is, en ek het hulle geroep gehoor oor dié wat hulle dryf om te werk; want ek weet goed watter pyn hulle ly” (Eksodus 3:7). Waarop dui dit? Dat God nie onverskillig staan teenoor menselyding nie. Inteendeel, die profeet Jesaja het eeue later aangaande die Israeliete geskryf: “In al hulle benoudheid het dit vir hom benoudheid veroorsaak.”—Jesaja 63:9.

“Al sy weë is geregtigheid” (Deuteronomium 32:4). God is regverdig en onpartydig in alles wat hy doen. “Hy sal die weg van sy lojales bewaak”, maar hy sal ook “verdrukking . . . vergeld aan dié wat [vir die regverdiges] verdrukking veroorsaak” (Spreuke 2:8; 2 Tessalonisense 1:6, 7). Omdat hy onpartydig is, “kies [hy] nie kant vir heersers nie, en ook bevoordeel hy nie die ryke bo die arme nie, want hy het almal geskep” (Job 34:19, Today’s English Version). God weet ook wat die beste manier is om die mensdom se lyding te verwyder. In teenstelling hiermee is menslike oplossings soos om ’n pleister op ’n skietwond te plak. Hoewel die pleister die probleem dalk sal verbloem, sal dit nie die onderliggende probleem oplos nie en nog minder die slagoffer se lyding beëindig.

Sal ’n dokter ’n pleister gebruik om ’n bloeiende skietwond te behandel?

God is “’n barmhartige en genadige God, wat . . . oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid” (Eksodus 34:6). Die woord “barmhartigheid”, soos dit in die Bybel gebruik word, dra die gedagte oor van innige meegevoel en jammerte wat een persoon beweeg om ’n ander te help. Die grondwoord van die Hebreeuse woord wat met “genade” vertaal word, word omskryf as “’n hartgrondige reaksie wat ontstaan by iemand wat iets het om te gee aan iemand wat ’n behoefte het”. Volgens die Theological Dictionary of the Old Testament beteken die woord wat met “liefderyke goedhartigheid” vertaal word, onder andere “ingryping ten behoewe van iemand wat teëspoed of benoudheid ondervind”. Jehovah God voel dus nie net hartseer  wanneer iemand ly nie, maar word ook deur sy barmhartigheid, genade en liefderyke goedhartigheid beweeg om hulp aan te bied. Ons kan dus seker wees dat hy ’n einde aan lyding sal maak.

Die vorige artikel het drie faktore geïdentifiseer wat vandag grootliks tot menselyding bydra en waarvan nie een aan God toegeskryf kan word nie. Kom ons ondersoek nou hierdie faktore.

Persoonlike keuses

Adam is oorspronklik deur God regeer. Maar toe hy voor ’n keuse te staan gekom het, het hy besluit om goddelike heerskappy te verwerp en om uit te vind wat die gevolge sal wees van onafhanklikheid van God. Hy het Jehovah se waarskuwing verontagsaam wat in Genesis 2:17 opgeteken is: “Jy [sal] sekerlik sterf.” Omdat Adam hom nie aan God se volmaakte heerskappy onderwerp het nie, het dit sonde en onvolmaaktheid tot gevolg gehad. Die Bybel verduidelik dat “[sonde] deur een mens . . . in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het” (Romeine 5:12). Maar God sal die gevolge van sonde verwyder.

Toevallige gebeure

Soos hierbo gemeld is, het die eerste mens, Adam, goddelike leiding verwerp—juis die leiding wat nodig is om mense te beskerm, selfs teen natuurrampe. Sy besluit kan vergelyk word met ’n pasiënt wat behandeling deur ’n bekwame en ervare dokter verwerp. Die pasiënt is dalk nie bewus van die gevare en potensiële gesondheidsprobleme waarvan die dokter bewus is nie, en daarom kan hy ly omdat hy verkies het om in onkunde te bly. Net so is die mens se wanbestuur van die aarde, onveilige boumetodes en onkunde aangaande die aarde se natuurkragte dikwels die oorsaak van natuurrampe. God sal egter nie toelaat dat hierdie situasie vir altyd voortduur nie.

“Die heerser van hierdie wêreld”

Waarom het God Satan toegelaat om ná sy opstand oor die wêreld te heers? Volgens een bron “het enige nuwe regering ’n kort aanvangstydperk waarin hulle die vorige regering vir probleme kan blameer”. As Jehovah Satan, “die heerser van hierdie wêreld”, te vroeg verwyder het, kon Satan die vorige Heerser, God, vir sy tekortkominge blameer het (Johannes 12:31). Maar die tyd wat Satan gegee is om sy gesag ten volle oor die wêreld uit te oefen, het bewys dat hy as heerser misluk het. Nietemin wonder mense nog steeds: Hoe kan ons seker wees dat lyding tot ’n einde sal kom?