’n Lewe sonder lyding—’n Betroubare belofte
“[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.
IS HIERDIE hartverblydende belofte betroubaar? Dink aan een van die eerste waarskuwings wat aan die mens gegee is. God het vir Adam gesê dat hy “sekerlik [sou] sterf” as hy ongehoorsaam was (Genesis 2:17). En hy het gesterf, presies soos God gesê het sou gebeur. Hierdie feit asook die dood en lyding wat die mensdom oorgeërf het, bewys dat ons God kan vertrou. Is daar dan enige rede om te twyfel dat God se belofte om volmaakte toestande op die aarde te herstel, bewaarheid sal word?
Dink ook aan God se eienskappe, wat in die vorige artikel bespreek is. Ons begeerte om ’n einde te maak aan lyding, is eintlik net ’n weerspieëling van Gód se medelye, liefde en geregtigheid. Wat meer is, wêreldgebeure en gesindhede wat vandag algemeen is, bewys dat die tyd wanneer God gaan optree, vinnig nader kom.—Sien die venster “Wanneer sal hierdie dinge wees?”
Waarom is Jehovah God volkome bevoeg om menselyding te beëindig? Hy is in staat om die grondoorsake van lyding uit die weg te ruim en het gereël om dit—deur middel van sy Seun Jesus—te doen.
Persoonlike keuses.
Ons voorvader Adam het ’n keuse gemaak wat verskriklike gevolge vir al sy nakomelinge gehad het. Die apostel Paulus het geskryf dat “die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly” (Romeine 8:22). God se oplossing is absoluut regverdig, uiters barmhartig en besonder eenvoudig. Romeine 6:23 verduidelik: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood, maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here.”
Die volmaakte man Jesus het ’n sondelose lewe gelei. Sy dood aan ’n folterpaal het die grondslag voorsien om gehoorsame mense van die vloek van sonde en die dood te bevry. Ons het nou die vooruitsig op die ewige lewe in ’n wêreld waar ons sondige neiging om onverstandige besluite of keuses te maak, iets van die verlede sal wees. Mense wat ander opsetlik laat ly, sal ook weg wees, want “die kwaaddoeners sal uitgeroei word”.—Psalm 37:9.
Toevallige gebeure en onvolmaaktheid.
God se aangestelde Koning, Jesus Christus, het die mag om die aarde se natuurkragte te beheer. In die eerste eeu HJ, toe Jesus en sy apostels eenkeer op ’n vissersboot was, het “’n baie groot windstorm . . . losgebars, en die golwe het aanhoudend by die boot ingeslaan, sodat die boot al byna vol was”. Toe die apostels Jesus gevra het om hulle te help, “het hy opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: ‘Bedaar! Wees stil!’ En die wind het gaan lê, en daar het ’n groot kalmte gekom.” Sy apostels was verbaas. “Selfs die wind en die see gehoorsaam hom”, het hulle gesê.—Markus 4:37-41.
Onder Jesus se heerskappy sal gehoorsame mense “in veiligheid woon en nie deur vrees vir rampspoed versteur word nie” (Spreuke 1:33). Hierdie rampspoed sluit ook natuurrampe in. Wat meer is, wanbestuur van die aarde, onveilige boumetodes en onkunde oor die aarde se natuurkragte, sowel as ander menslike foute, sal iets van die verlede wees. Niemand sal ooit weer ly omdat hy op die verkeerde tyd op die verkeerde plek is nie.
Terwyl Jesus op die aarde was, het hy nog ’n aspek van sy heerskappy genoem wat enige lyding as gevolg van toevallige, onvoorsiene gebeurtenisse, ongedaan kan maak. “Ek is die opstanding en die lewe”, het hy gesê (Johannes 11:25). Ja, Jesus het die mag en die begeerte om miljoene mense wat tragies gesterf het as gevolg van natuurrampe, weer lewend te maak. ’n Leë belofte? Jesus het ons ’n vaste grondslag vir vertroue in hom gegee deur opstandings te verrig toe hy op die aarde was. Drie van hierdie opstandings is in die Bybel opgeteken.—Markus 5:38-43; Lukas 7:11-15; Johannes 11:38-44.
“Die heerser van hierdie wêreld.”
Christus Jesus is deur God aangestel om “die een tot niet te maak wat die vermoë het om die dood te veroorsaak, dit is die Duiwel” (Hebreërs 2:14). Jesus het gesê: “Nou vind daar ’n oordeel van hierdie wêreld plaas; nou sal die heerser van hierdie wêreld uitgewerp word” (Johannes 12:31). Hy sal “die werke van die Duiwel . . . verbreek” deur die Duiwel se invloed op wêreldaangeleenthede te verwyder (1 Johannes 3:8). Stel jou net voor hoe anders die mensegemeenskap sal wees wanneer die Duiwel se gierige, verdorwe en selfsugtige gees uit die weg geruim is!