Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die oordeelsdag—Vrese loop hoog

Die oordeelsdag—Vrese loop hoog

DIE oordeelsdagstories wat in die vorige artikel gemeld is, is weliswaar vergesog, maar daar is nietemin kommerwekkende probleme wat ernstige oorweging verdien. Baie mense is bekommerd oor oorbevolking en die water- en voedseltekorte wat dit kan meebring. Ander kwel hulle oor die gevolge van ’n wêreldwye finansiële insinking. Wat van natuurrampe, epidemies of kernoorlog? Kan sulke gebeurtenisse tot ’n aardwye ramp aanleiding gee?

Kom ons kyk kortliks na ’n paar oordeelsdagscenario’s wat dikwels onder bespreking kom. Hoewel nie elkeen van hierdie scenario’s die einde van die mensdom sal beteken nie, lyk dit beslis asof dit die potensiaal het om ’n einde te maak aan die beskawing soos ons dit ken. Dit sluit die volgende in.

 Supervulkane

In 1991 het die uitbarsting van die berg Pinatubo, in die Filippyne, die lewe van meer as 700 mense geëis en ongeveer 100 000 dakloos gelaat. ’n Yslike aswolk het 30 kilometer in die lug opgerys, waarna die as na die aarde teruggeval het. Gewasse was daaronder begrawe, en die dakke van geboue het daaronder ineengestort. Pinatubo en ander soortgelyke vulkane veroorsaak klimaatsveranderinge wat etlike jare ná die uitbarsting voortduur.

Superuitbarstings, soos dié wat in die verre verlede plaasgevind het, sal honderde kere groter en verwoestender wees as enige ander opgetekende uitbarstings en sal baie meer skade aanrig. Benewens die onmiddellike verwoesting wat dit sal saai, sal wêreldwye klimaatsverandering mislukte oeste, voedseltekorte en grootskaalse hongersnood tot gevolg hê.

“Vulkaanuitbarstings laat plante en diere kilometers daarvandaan doodgaan; supervulkane kan hele spesies laat uitsterf deur die klimaat regoor die planeet te verander.”—“National Geographic.”

Asteroïede

Vroeg een oggend in 1908 het ’n man gesit op die voorstoep van ’n handelspos in Vanavara, Siberië, toe ’n ontploffing hom uit sy stoel geslinger het. Die hitte daarvan was so intens dat dit gevoel het asof sy hemp aan die brand was. Die ontploffing het sowat 60 kilometer daarvandaan plaasgevind. Dit is veroorsaak deur ’n asteroïed wat omtrent 35 meter in deursnee was en ongeveer 100 miljoen kilogram geweeg het. Nadat die asteroïed die aarde se atmosfeer binnegedring het, het dit ontplof weens die druk en hitte wat deur sy vinnige val veroorsaak is. Die ontploffing het energie gelykstaande aan 1 000 Hirosjima-bomme vrygestel en ongeveer 2 000 vierkante kilometer Siberiese woud platgevee. ’n Groter asteroïed sal natuurlik baie groter skade aanrig, aangesien dit ontsaglike vuurstorms sal veroorsaak, wat die aarde se temperatuur vinnig sal laat daal en grootskaalse uitsterwings tot gevolg sal hê.

“Deur die aarde se geskiedenis heen is ons gebombardeer deur komete en asteroïede uit die ruimte. [Dit] het meer dikwels in die verlede gebeur, maar dit sal weer gebeur. Die vraag is net wanneer.”—Chris Palma, senior lektor in sterrekunde en astrofisika aan die Universiteit van Pennsilvanië.

 Klimaatsverandering

Wetenskaplikes meen dat ’n styging in die aarde se gemiddelde temperatuur, uiterste weerstoestande, die smelting van yskappe en gletsers sowel as die dood van koraalriwwe en belangrike spesies alles op aardwye klimaatsverandering dui. Hoewel dit ’n omstrede onderwerp is, meen baie dat klimaatsverandering veroorsaak word deur motors en nywerhede wat steenkool, olie en aardgas verbrand—fossielbrandstowwe wat groot hoeveelhede koolstofdioksied in die atmosfeer vrystel.

Party deskundiges meen dat hierdie gasse ’n kweekhuiseffek veroorsaak omdat dit die ontsnapping van hitte uit die aarde se atmosfeer belemmer, wat temperature laat styg. Aangesien bome koolstofdioksied absorbeer, dra grootskaalse ontbossing moontlik ook tot klimaatsverandering by.

“As aardverwarming teen die huidige tempo voortduur en die vrystelling van koolstofdioksied nie verminder word nie, sal die Aarde se gemiddelde temperatuur volgens baie wetenskaplikes aanhou styg, wat groter en onvoorspelbaarder klimaatsveranderinge sal veroorsaak, asook hoër seevlakke, wat ’n gevaar kan inhou vir die laagliggende kusgebiede, waar ’n groot deel van die mensdom woon.”—“A Mind for Tomorrow: Facts, Values, and the Future.”

Pandemies

In die 14de eeu het die Swart Dood ’n derde van Europa se bevolking binne net twee jaar uitgewis. Tussen 1918 en 1920 het die Spaanse griep ten minste 50 miljoen mense gedood. Stadige reismetodes het die verspreiding van hierdie siektes vertraag. Maar aangesien stede vandag al hoe groter word en dit makliker is om internasionaal te reis, kan ’n soortgelyke siekte vinnig na alle vastelande versprei.

So ’n pandemie kan natuurlike oorsake hê. Maar daar is ook toenemende vrese oor biologiese wapens, mensgemaakte siektes. Deskundiges op hierdie gebied sê dat ’n klein groepie mense wat die nodige vaardighede het, toerusting op die Internet kan koop en dodelike biologiese wapens kan maak.

“Siektes wat natuurlik voorkom, hou steeds ’n ernstige biologiese bedreiging in; maar ’n intelligente vyand kan met dieselfde kieme—of met kieme wat [teen etlike geneesmiddels bestand is] of kunsmatig vervaardig is—’n katastrofe veroorsaak.”—Die Tweeparty-navorsingsentrum vir WMV-terrorisme.

 Die uitsterwing van noodsaaklike spesies

Oor die afgelope vyf jaar het byeboere in die Verenigde State elke jaar ongeveer 30 persent van hulle bye verloor as gevolg van kolonie-ineenstorting, ’n wêreldwye verskynsel waartydens hele byekolonies skielik en onverklaarbaar uit hulle korwe verdwyn. Bye voorsien ons nie net van heuning nie. Hulle bestuif belangrike gewasse, waaronder druiwe, appels, sojabone en katoen. Ons is afhanklik van bye.

Ons is ook afhanklik van fitoplankton. Daarsonder sou ons geen vis hê nie. En sonder wurms om die grond te deurlug, sou opbrengste baie kleiner wees. Die uitsterwing van sulke noodsaaklike spesies sal voedseltekorte en hongersnood tot gevolg hê, wat tot geweld en oproere aanleiding sal gee. Besoedeling, oorbevolking, oorbenutting, habitatvernietiging en klimaatsverandering laat dierespesies moontlik tot 1 000 keer vinniger uitsterf as wat hulle van nature sou.

“Elke jaar sterf tussen 18 000 en 55 000 spesies uit. Die oorsaak: menslike bedrywighede.”—Die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram.

Kernoorlog

Een kernontploffing kan ’n stad binne oomblikke uitwis—’n droewige feit wat twee keer in Augustus 1945 toegelig is. ’n Kernontploffing is ontsettend kragtig. Dit saai vernietiging en eis lewens deur middel van ’n skokgolf, wind, hitte, vuur en straling. Straling besoedel ook voedsel en water. ’n Kernoorlog sal die lug met tonne stof vul, wat sal keer dat sonlig die aarde bereik en sal veroorsaak dat temperature regoor die aarde skerp daal. Voedselgewasse en ander plante sal doodgaan. Sonder voedsel sal mense en diere van honger doodgaan. Sowat nege lande het blykbaar die vermoë om kernaanvalle te loods. En dit wil voorkom asof ’n paar ander nasies besig is om hulle eie kernwapens te ontwikkel. Terroristeorganisasies is natuurlik alte gretig om dit in die hande te kry.

“Kernwapens is steeds die ernstigste en mees onmiddellike bedreiging vir die mensdom. . . . Daar is nog steeds sowat 25 000 kernwapens regoor die wêreld . . . Terroriste sal die bom uiteindelik in die hande kry.”—Unie van Besorgde Wetenskaplikes.