Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is dit ontwerp?

Die sensors van die Melanophila-kewer

Die sensors van die Melanophila-kewer

Bosbrande skrik die meeste diere af, maar nie die Melanophila-kewer nie. Hy word daardeur aangetrek. Waarom? Omdat bome wat pas gebrand het, vir hierdie insekte die ideale plek is om hulle eiers te lê. Wat meer is, brande verdryf roofdiere, wat dit vir die kewer moontlik maak om in veiligheid te eet, te paar en eiers te lê. Maar hoe vind hierdie kewers bosbrande in die eerste plek?

Die kewer se infrarooireseptors

Dink hieraan: Op sy lyf, langs sy middelste pote het die kewer reseptororgane, oftewel sensors, wat gevoelig is vir die infrarooistraling van ’n bosbrand. Die straling verwek hitte in die reseptororgane en lei die kewer dan in die rigting van die vlamme.

Maar hierdie kewers het ook ander sensors in hulle “gereedskapskissie” wat hulle help om brande op te spoor. Wanneer hulle gunstelingbome brand, bespeur die kewers se antennas klein hoeveelhede van sekere chemikalieë wat deur brande in die lug vrygestel word. Volgens party navorsers kan die kewers hulle “rookverklikker”-antennas gebruik om selfs net een smeulende boom meer as 0,8 kilometer van hulle af te vind. Danksy die kombinasie van hierdie vermoëns kan die kewers bosbrande blykbaar oor ’n afstand van meer as 48 kilometer bespeur en vind!

Navorsers bestudeer die Melanophila-kewer se reseptororgane en antennas om toestelle te verbeter wat infrarooistraling en vuur opspoor. Konvensionele hoëresolusie-infrarooisensors moet koel gehou word, en die kewer sal wetenskaplikes moontlik help om beter sensors te ontwikkel wat teen kamertemperatuur kan funksioneer. Die kewer se antennas het ingenieurs geïnspireer om sensitiewer brandverklikkerstelsels te ontwikkel wat kan onderskei tussen die byprodukte van bosbrande en ander chemiese samestellings.

Navorsers is verstom deur die unieke manier waarop die Melanophila-kewer ’n plek vind om eiers te lê. “Hoe het die kewers hierdie vermoë ontwikkel?” vra E. Richard Hoebeke, ’n kewerkenner aan die Cornell-universiteit, in die Verenigde State. “Eintlik weet ons maar min van insekte met uiters sensitiewe en ingewikkelde sensoriese meganismes.”

Wat dink jy? Het die Melanophila-kewer se vermoë om bosbrande te bespeur deur middel van evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?