Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense vra

Hoe kan ek stres hanteer?

Hoe kan ek stres hanteer?

Hoeveel stres het jy?

  • Stres? Ek weet nie eens wat dit is nie

  • Ek kan dit hanteer

  • Dit begin te veel raak vir my

  • Ek voel oorweldig deur stres

STRES kan met ’n swaar vraghouer vergelyk word. ’n Groot vragmotor kan dit maklik oor groot afstande vervoer. Maar ’n motor kan nie. As ’n motor so ’n swaar vrag selfs net oor ’n kort afstand sleep, kan dit die enjin heeltemal beskadig. Dieselfde kan met jou “enjin” gebeur as jy deur stres oorweldig word.

Is die situasie hopeloos? Glad nie! Om te keer dat jy uitbrand, moet jy jou vrag ligter maak of ’n kragtiger enjin kry. Eintlik kan jy albei doen. Kom ons kyk hoe.

Maak jou vrag ligter

DIE PROBLEEM: Te veel om te doen.

“Soms vra iemand my om met iets te help of om te kom kuier wanneer daar eintlik ander dinge is wat ek moet doen. En ek wil niemand teleurstel nie.”—Karina. *

DIE OPLOSSING: Leer om nee te sê.

“Wysheid is by die beskeidenes”, sê die Bybel (Spreuke 11:2). As jy beskeie is, oftewel jou beperkings aanvaar, sal dit jou in staat stel om nee te sê wanneer die vrag vir jou te swaar sal wees.

Jy sal natuurlik nie altyd nee mag sê nie—soos wanneer jou ouers jou aan jou takies herinner! Maar as jy toelaat dat almal tot jou vrag bydra, sal dit uiteindelik te veel vir jou raak. Selfs die grootste vragmotors het ’n spesifieke vragvermoë.

Wenk: As dit vir jou moeilik is om reguit vir iemand nee te sê, kan jy sê: “Ek sal jou laat weet.” Voordat jy ’n definitiewe antwoord gee, kan jy jou dan afvra: ‘Het ek werklik genoeg tyd en energie hiervoor?’

DIE PROBLEEM: Uitstellery.

“As dit lyk of ’n taak moeilik is, stel ek dit uit. Maar dan bekommer ek my oor die feit dat ek dit nog moet doen. Wanneer ek dit uiteindelik aanpak, moet ek jaag om klaar te kry, en dan raak ek eers gestres.”—Serena.

DIE OPLOSSING: Begin—al maak jy nie nou klaar nie.

“Moenie traag wees in julle bedrywighede nie”, sê die Bybel (Romeine 12:11). Om ’n moeilike taak aan te pak, is klaar erg genoeg—waarom dan die vrag swaarder maak deur uit te stel? Dit sal die stres net uitrek!

Om jou te motiveer, kan jy ’n lysie maak van wat jy moet doen. Deel groter take op in kleiner, makliker take. “Ek vind dit baie nuttig om ’n lys te maak”, sê ’n jong vrou met die naam Carol. “Gewoonlik skryf ek die take waarvan ek die minste hou, boaan die lys, en namate ek dit afmerk, raak dit al hoe makliker. Voor jy jou kom kry, kan jy die dinge doen wat jy meer geniet!”

Wenk: As jy sukkel om met ’n taak te begin, kan jy ’n alarm stel om oor 10 of 15 minute af te gaan en onmiddellik daaraan begin werk. Wanneer die alarm afgaan, sal 10 of 15 minute van die taak reeds agter die rug wees. As jy eers begin het, sal jy dalk verbaas wees hoeveel makliker dit is om verder aan die taak te werk.

Hou jou kamer netjies! As jou kamer so deurmekaar is dat jy sukkel om jou huiswerk of skoon klere te kry, stoot dit jou stresvlakke op. Vir ’n minder stresvolle oggend kan jy, voordat jy gaan slaap, vyf minute neem om op te ruim

Kry ’n kragtiger “enjin”

Maak seker dat jou “enjin” jou vrag kan hanteer

Sien om na jou liggaam.

Deskundiges is dit eens dat ’n gesonde dieet, gereelde oefening en genoeg slaap jou sal help om meer gedoen te kry. * Moenie bekommerd wees nie—dit is nie so moeilik om na jou liggaam om te sien nie. ’n Paar eenvoudige stappe sal jou help om ’n begin te maak. Neem slaap byvoorbeeld. Probeer die volgende.

  1. Kry genoeg slaap. Probeer om elke aand dieselfde tyd te gaan slaap en elke oggend dieselfde tyd op te staan, veral op skooldae en werksdae.

  2. Gee jouself genoeg tyd om te begin ontspan. Moenie oefening doen drie uur voordat jy gaan slaap nie, en vermy swaar kosse en kafeïen kort voor slapenstyd.

  3. Wanneer dit tyd is om bed toe te gaan, moet jy jou kamer donker, stil en gemaklik probeer maak.

Vra ander om jou te help.

Moenie huiwer om jou ouers en vriende se hulp te vra nie. Sal dit werklik help? Ja, want studies toon dat emosionele ondersteuning die skadelike uitwerking verminder wat verhoogde stresvlakke op jou hart, bloedvate en immuunstelsel kan hê.

Hierdie bevindings strook met wat die Bybel sê: “Angstige besorgdheid in die hart van ’n man sal dit laat neerbuig, maar die goeie woord maak dit bly” (Spreuke 12:25). Wanneer “angstige besorgdheid” jou onderkry, kan ware vriende jou met ’n “goeie woord” aanmoedig, en dit is dalk presies wat jy nodig het om voort te gaan.

Het jy nog hulp nodig om stres te hanteer? Sien die volgende hoofstukke in die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1 en 2, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

DEEL 1

  • Hoofstuk 18: Hoe kan ek stres by die skool die hoof bied?

  • Hoofstuk 21: Hoe kan ek my tyd goed bestuur?

DEEL 2

  • Hoofstuk 26: Hoe kan ek my emosies beheers?

  • Hoofstuk 27: Waarom voel ek dat ek nooit ’n fout mag maak nie?

 

^ par. 12 Van die name in hierdie artikel is verander.

^ par. 24 Vir wenke in verband met dieet en oefening, sien hoofstuk 10 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

VRA JOU OUERS

Met watter soort stres het julle te kampe? Wat het julle gevind is die doeltreffendste manier om stres te hanteer?