Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ONS BESKOU DIE WÊRELD

Ons beskou die wêreld

Golf van Mexiko

Ná ’n ongeluk in April 2010 op ’n olieboorplatform het enorme hoeveelhede olie en gas byna drie maande lank in die see ingestroom. ’n Span navorsers het in ’n studie bevind dat van die besoedelstowwe twee en ’n half maande later verdwyn het—volgens hulle is dit verorber deur bakterieë wat ’n voorliefde vir metaan het. Party deskundiges is egter skepties. Hulle meen dat baie van die olie op die seebodem gaan lê het.

Rusland

Volgens ’n opname glo 59 persent van Russe tussen die ouderdom van 18 en 35 dat “jy soms in stryd met jou sedelike beginsels en standaarde moet optree om sukses te behaal in die lewe”, berig die koerant Rossiiskaja Gazeta.

Peru

Van die oudste mieliestronke wat nog gevind is (soos die een hierbo), dui daarop dat die inwoners van Noord-Peru ten minste 3 000 jaar gelede al springmielies en mielieblom gemaak het.

Italië

Lucio Soravito de Franceschi, die Katolieke biskop van Adria-Rovigo, meen dat ’n godsdiensboodskap eerder oorgedra moet word deur middel van “regstreekse kontak met individue” by hulle huis. “Ons pastorale sorg moenie toegespits wees op die lui van kerkklokke nie, maar op die lui van deurklokkies”, sê hy.

Suid-Afrika

Die straatwaarde van renosterhoring vir mediese doeleindes het gestyg tot R540 000 per kilogram. In 2011 is daar in Suid-Afrika alleen ’n rekordgetal van 448 renosters deur wildstropers van kant gemaak. Bendes wat renosterhorings in die hande wil kry, het al by museums en vendusiesale in Europa ingebreek. Selfs renosters in Europese dieretuine is vermoedelik in gevaar.