Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL SE BESKOUING

Gesondheid

Gesondheid

Hoe voel God oor die manier waarop ons na ons liggaam omsien?

“Moenie onder die wynsuipers wees, onder die vraatsugtige vleiseters nie.”—Spreuke 23:20.

WAAROM MAAK DIT SAAK?

Die Bybel is nie ’n mediese handleiding nie; ook gee dit nie riglyne oor elke aspek van mensegedrag nie. Dit kan nogtans vir jou nuttig wees om te verstaan wat God se beskouing van gesondheid is, soos dit in die Bybel uiteengesit word.

WAT DIE BYBEL SÊ

Baie Bybelgedeeltes werp lig op hoe God voel oor die manier waarop ons na ons liggaam omsien. Byvoorbeeld, die Bybel veroordeel skadelike oordadighede, insluitende dronkenskap en vraatsug (Spreuke 23:20). Die Wet wat God aan eertydse Israel gegee het, het maatreëls ingesluit wat siektes sou beheer en in party gevalle selfs sou voorkom. Die Wet het ook spesifieke veiligheidsvoorskrifte ingesluit om beserings te voorkom (Deuteronomium 22:8). Dit is duidelik dat die Bybel ons aanspoor om na ons liggaam om te sien en redelike maatreëls te tref om ons gesondheid te beskerm.

 Wat is volgens die Bybel die oorsaak van siekte?

“Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde.”—Romeine 5:12.

WAT MENSE SÊ

Baie mense glo dat siekte eenvoudig ’n ongelukkige gevolg is van die evolusie van die mens. Ander dink dat duistere magte, soos bose geeste, die oorsaak is van ons gesondheidsprobleme.

WAT DIE BYBEL SÊ

Volgens die Bybel word ons siek weens die eerste mens se opstand teen God (Romeine 5:12). Voordat ons eerste ouers, Adam en Eva, in opstand gekom het, het hulle volmaakte gesondheid geniet. Hulle het geweet dat hulle sou sterf as hulle hulle aan God se liefdevolle sorg onttrek (Genesis 2:16, 17). Hulle het nogtans hulle vriendskap met God doelbewus verbreek en hulle volmaaktheid verloor. *

Ons het ons onvolmaakte toestand van ons opstandige eerste menseouers geërf. Daarom word ons steeds siek, ten spyte van al die pogings om ’n einde aan menslike siektes te maak.

WAT KAN JY DOEN?

Die Bybel leer dat jy uiteindelik volmaakte gesondheid in ’n aardse paradys sal geniet as jy met God versoen raak deur sy wyse beginsels te gehoorsaam (Jesaja 33:24). God belowe om pyn, siekte en die dood uit die weg te ruim.—Openbaring 21:3, 4.

Raai die Bybel ons af om mediese behandeling te kry?

“Dié wat gesond is, het nie ’n geneesheer nodig nie, maar dié wat siek is, het wel.”—Matteus 9:12.

WAT MENSE SÊ

Party staan geloofsgenesing voor eerder as mediese behandeling.

WAT DIE BYBEL SÊ

In Bybeltye het God toegelaat dat bekwame mense gesondheidsorg aan sy volk voorsien (Genesis 38:28; Kolossense 4:14). Daar is niks in die Bybel wat daarop dui dat God ontevrede was met hulle gebruik van medisinale plante, salwe, voorgeskrewe diëte en ander gesondheidsbehandelings nie. Trouens, Jesus het erken: “Dié wat gesond is, het nie ’n geneesheer nodig nie, maar dié wat siek is, het wel.”—Matteus 9:12.

Die Bybel staan egter nie die idee voor dat goeie gesondheid ten alle koste nagestreef moet word nie. Die Bybel staan byvoorbeeld nie geloofsgenesing voor, wat vandag beoefen word nie. En genesings wat spiritistiese gebruike behels, dra nie God se goedkeuring weg nie (Galasiërs 5:19-21). Hoewel diegene wat siek is, gebruike sal vermy wat deur die Bybel veroordeel word, sal dit verstandig wees van hulle om so gou as moontlik gepaste gesondheidsorg te probeer kry, indien dit beskikbaar is.

^ par. 10 In hierdie artikel gebruik ons die woorde “volmaakte” en “volmaaktheid” om te verwys na die gesonde toestand waarin God die eerste mense geskep het, sonder siekte, kwale en die dood.