Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om jou kooplus te beteuel

Hoe om jou kooplus te beteuel

Buiten die druk wat bemarking op ons uitoefen, kan ons eie gevoelens en gewoontes ons ook beweeg om te veel geld uit te gee. Hier is ses wenke wat jou kan help om jou kooplus te beteuel.

  1. Moenie op die ingewing van die oomblik koop nie. Is dit vir jou opwindend om inkopies te doen en ’n winskopie te vind? Indien wel, is jy dalk geneig om op die ingewing van die oomblik te koop. Om die versoeking te weerstaan, moet jy eers wag en logies dink aan die langtermyngevolge wat dit inhou om die artikel te koop, te besit en in stand te hou. Dink na oor vorige kere toe jy op die ingewing van die oomblik gekoop het en later spyt was. Wag ’n rukkie voordat jy besluit.

  2. Moenie inkopies doen om jou beter te laat voel nie. Inkopies kan tydelike verligting bied as jy in ’n slegte luim is. Maar wanneer negatiewe gevoelens terugkeer, sal die versoeking miskien nog groter wees om verligting te kry deur geld uit te gee. Moenie inkopies doen om jou beter te laat voel nie; besoek eerder ondersteunende vriende of doen oefening, soos om te gaan stap.

  3. Moenie inkopies doen vir ontspanning nie. Groot winkelsentrums het inkopies ’n vorm van ontspanning gemaak. Hoewel jy dalk net vir die pret na ’n winkelsentrum gaan of deur die Internet blaai, is baie van wat jy sien, bedoel om jou kooplus aan te wakker. Doen net inkopies as jy iets spesifieks wil koop, en moet niks anders koop nie.

  4. Kies jou vriende versigtig. Die lewenstyl en gesprekke van jou vriende het ’n groot invloed op jou begeertes. As jy te veel geld uitgee omdat jy by jou vriende wil byhou, moet jy vriende kies wat minder klem op geld en materiële dinge lê.

  5. Gebruik kredietkaarte verstandig. Kredietkaarte maak dit vir jou maklik om te koop sonder om aan die gevolge te dink. Probeer om elke maand die hele uitstaande bedrag op jou kredietkaart te betaal. Vind uit watter rente en fooie op jou kredietkaart gehef word, en vergelyk kredietaanbiedings om die bekostigbaarste kaarte te vind. Wees versigtig vir premiumkaarte waarop hoër rente gehef word en wat voordele bied wat jy nie nodig het nie. Moenie op skuld koop nie; spaar eerder vir groot aankope en betaal kontant.

  6. Wees bewus van jou finansiële posisie. Dit is makliker om te veel geld uit te gee as jy nie seker is wat jou finansiële posisie is nie. Hou verslae op datum en wees ten volle bewus van jou finansiële situasie. Stel ’n realistiese maandelikse begroting op na gelang van jou inkomste en vorige uitgawes. Hou boek van jou uitgawes, en vergelyk dit met jou begroting. Vra ’n betroubare vriend om finansiële sake te verduidelik wat jy nie goed verstaan nie.