Ons beskou die wêreld
Verenigde State
Elke dag pleeg meer as 20 voormalige lede van die Verenigde State se weermag selfmoord. Onder die oudsoldate wat baat vind by die hulpprogram van die Amerikaanse Departement van Veteranesake, is daar elke maand sowat 950 wat selfmoord probeer pleeg.
China
“Byna die helfte van vroulike trekarbeiders onder 30 het as ongetroude vroue swanger geword, ’n skerp toename in vergelyking met die aantal ongetroude [Chinese] moeders van die vorige geslag”, berig China Daily. In die Chinese samelewing is dit blykbaar nou ook “aanvaarbaarder . . . dat ongetroude paartjies saamwoon”.
Griekeland
In Griekeland het malaria, ’n siekte wat in 1974 feitlik uit die land uitgewis is, weer kop uitgesteek. Dit word toegeskryf aan ekonomiese probleme en ’n vermindering in besteding aan openbare gesondheidsorg.
Indië
Ten spyte van vinnige maatskaplike veranderinge verkies 74 persent van mense onder wie ’n opname gedoen is, nog steeds ’n gereëlde huwelik bo ’n “liefdeshuwelik”. ’n Oorweldigende 89 persent verkies ook om eerder by hulle uitgebreide gesin te woon as om saam te woon as ’n “kerngesin”, wat uit ouers en kinders bestaan.
Italië
“Die [Katolieke] Kerk is sonder aantrekkingskrag, in welgestelde Europa sowel as in Amerika. Ons kultuur is verouderd, ons kerke is groot, ons kloosters is leeg en die administratiewe stelsel van die Kerk is nie meer doeltreffend nie, ons ritusse en ons ampsgewade is vertonerig. . . . Die Kerk is 200 jaar agter.”—Onderhoud met die Katolieke kardinaal Carlo Maria Martini, ná sy dood uitgegee deur Corriere della Sera.