Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ONDERHOUD | IRÈNE HOF LAURENCEAU

’n Ortopedis verduidelik waarom sy aan God glo

’n Ortopedis verduidelik waarom sy aan God glo

Dr. Irène Hof Laurenceau praktiseer as ’n ortopedis in Switserland. Sy het op ’n stadium getwyfel of God bestaan. Maar later het sy tot die slotsom gekom dat God wel bestaan en dat hy die Skepper van lewe is. Ontwaak! het met haar gesels oor haar werk en haar geloof.

Wat het jou in die wetenskap laat belangstel?

Toe ek ’n kind was, het die natuur vir my ’n groot bekoring ingehou. Ek het grootgeword in Richterswil, ’n pragtige Switserse dorpie aan die oewer van die Zürich-meer. My ouers en my ouer broer en suster het dikwels saam met my gaan stap en my vertel van die diere en plante wat ons langs die pad gesien het.

Waarom het jy ortopediese snykunde gestudeer?

My pa het ’n rukkie as ’n helper in ’n operasiekamer by ’n plaaslike hospitaal gewerk. Wat hy gesien het, het hom beweeg om geesdriftig oor snykunde te praat. Dit het so ’n groot indruk op my gemaak dat ek later snykunde as beroep gekies het. Ek het in ortopediese snykunde gespesialiseer omdat ek van die meganiese aspekte daarvan hou. Ortopediste moet soos ’n ingenieur dink om die bene, spiere en senings te herstel wat dit vir ons moontlik maak om rond te beweeg.

Bowenal verskaf dit my groot vreugde om te sien hoe my pasiënte se gesondheid verbeter. Ek geniet dit baie om met mense te werk.

Waarom het jy getwyfel of God bestaan?

My twyfelgedagtes het begin toe ek nog jonk was, en daar was veral twee dinge wat my beïnvloed het. Eerstens het ek uitgevind dat sekere godsdiensonderrigters van die kerk onsedelik is, en dit het my baie ontstel. Tweedens het party van my biologieonderwysers by die skool geglo aan evolusie—’n lering wat ek later aanvaar het, veral toe ek op universiteit was.

Waarom het jy evolusie aanvaar?

Ek het my professore geglo. En ek het gedink dat die ooreenkomste in die anatomie van verskillende diersoorte op ’n gemeenskaplike  afkoms dui en die idee steun dat genetiese mutasies nuwe spesies tot gevolg het.

Maar jy het mettertyd van gedagte verander. Waarom?

’n Vriend het my genooi na ’n vergadering van Jehovah se Getuies. Ek is beïndruk deur die vriendelike gemeente en die insiggewende toesprake. Later het ’n gawe dame van die gemeente my kom besoek, en ek het haar gevra: “Hoe kan ek seker wees dat die Bybel waar is?”

Sy het my Bybelprofesieë gewys oor baie gebeure wat ons tyd kenmerk. ’n Voorbeeld is Jesus se profesie dat die laaste dae van die teenswoordige wêreld gekenmerk sou word deur internasionale oorlogvoering, “groot aardbewings” en wydverspreide “pessiektes en voedseltekorte”. * Sy het ook vir my profesieë gewys oor die maatskaplike verval en toename in gierigheid en ander slegte eienskappe wat vandag so algemeen is. * Ek het kort voor lank ’n ernstige studie van die Bybel begin maak en het gou besef dat die voorspellings daarin altyd bewaarheid word. Ek het ook my beskouings oor die oorsprong van lewe weer in oënskou geneem.

Het jou mediese navorsing jou gehelp om oor die oorsprong van lewe te redeneer?

Ja. Toe ek die Bybel begin studeer het, was ek besig met navorsing oor knie-operasies. Vanaf die laat 1960’s het wetenskaplikes die knie se ingewikkelde meganisme beter begin verstaan. Hulle het uitgevind dat ons knie nie soos ’n skarnier net op een as beweeg nie. Dit rol en skuif eerder—’n vindingryke kombinasie wat die knie ’n groter bewegingsomvang gee en ons in staat stel om te loop, te dans, te skaats en baie ander dinge te doen.

Navorsers probeer al sowat 40 jaar lank om ’n kunsmatige knie te ontwerp. Maar omdat die mens se knie so kompleks is, is dit moeilik om na te maak. Wat meer is, in vergelyking met ons knie het ’n kunsmatige ledemaat ’n redelike kort lewensduur. Hoewel ontwerpers verbeterde materiale tot hulle beskikking het, hou hulle produkte hoogstens 20 jaar. Ons knie bestaan natuurlik uit lewende selle wat heeltyd hernieu word. Vir my getuig die knie nie van toevallige evolusieprosesse nie, maar van God se wysheid.

Wat van mutasies en die ooreenkomste in die anatomie van verskillende spesies?

Hierdie ooreenkomste dui daarop dat hulle dieselfde Ontwerper het. Wat meer is, mutasies verbeter nie die ontwerp van lewende organismes deur hulle tot ’n hoër lewensvorm te verhef nie. Mutasies is eerder geneig om gene te beskadig. ’n Ongeluk kan natuurlik voordele inhou—soos as ’n brug onder ’n trein ineenstort en ’n stad sodoende teen ’n invallende leër beskerm word. Maar hierdie ongeluk het nie die stad verbeter nie. Net so word lewende organismes nie deur mutasies verbeter nie. En mutasies kan nooit iets tot gevolg hê wat so uitstekend ontwerp is soos die mens se knie nie—om nie eers te praat van ander dele van die menseliggaam nie.

Mutasies kan nooit iets tot gevolg hê wat so uitstekend ontwerp is soos die mens se knie nie

Waarom het jy een van Jehovah se Getuies geword?

Toe ek Bybelbeginsels begin toepas het, het my lewensgehalte baie verbeter. En in 2003 het ek ’n internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon en daar merkwaardige eenheid soos dié in ’n gesin gesien, selfs onder byeenkomsgangers wat mekaar nooit tevore ontmoet het nie. Dit was liefde in aksie, en ek wou deel daarvan wees.