Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Groot oë—Klein lyfie!

Groot oë—Klein lyfie!

DIE meeste sal sê dat dit oulik is; party sal dit dalk as vreemd beskryf. Dit het spykerbeentjies, ’n sagte pels en yslike blink oë. Sy lyf is omtrent 12 sentimeter lank, en hy weeg ongeveer 110 gram. Wat is dit? Dit is die spookapie!

Kom ons kyk ’n bietjie na een van hierdie diertjies, die Filippynse spookapie. Sy oë, ore, hande, voete, bene en stert lyk te groot vir sy klein lyfie. Maar as ons hierdie eienaardige diertjie van naderby bekyk, sien ons vindingryke ontwerp.

GEHOOR: Die spookapie se papierdun ore kan toevou, oopvou en draai om uiters sagte geluide op te vang. Sy skerp gehoor help hom nie net om roofvyande, soos wildekatte, te vermy nie, maar ook om prooi te vind. Ná sononder is die spookapie se ore daarop ingestel om krieke, termiete, kewers, voëls en paddas te hoor. Wanneer hy iets hoor, draai hy sy hele kop om sy uitpeuloë in die rigting van sy potensiële maaltyd te rig.

GREEP: Die spookapie se hande is spesiaal ontwerp om dun takke vas te gryp. Sy vingerpunte het uitsonderlike kussinkies met riffels wat soos die groewe in ’n motorband werk. Selfs wanneer hy slaap, moet die spookapie styf vasklou. Riffels aan die onderkant van sy lang stert help hom om stewig in posisie te bly totdat hy wakker word.

VISIE: Geen ander soogdier het sulke groot oë in vergelyking met sy liggaam nie. Om die waarheid te sê, elkeen van die spookapie se oë is groter as sy brein! Die spookapie se oë kan nie draai nie; dit staar altyd reguit vorentoe. Is hierdie ontwerp ’n nadeel? Nie eintlik nie. Want die spookapie het ’n buigsame nek wat dit vir hom moontlik maak om sy kop 180 grade na links of regs te draai.

RATSHEID: Die spookapie se lang bene stel hom in staat om tot 6 meter ver te spring—meer as 40 keer sy eie lengte! Wanneer hy jag, spring hierdie nagroofdiertjie met uitgestrekte vingers deur die donkerte en gryp hy sy slagoffer met groot akkuraatheid.

Spookapies oorleef selde in gevangenskap, gedeeltelik omdat hulle ’n onversadigbare aptyt vir lewende insekte het en glad nie daarvan hou om aan gevat te word nie. Nietemin fassineer hierdie unieke diertjie nog steeds die Filippyners. Byna elke deel van hierdie oulike woudbewoner met sy uitpeuloë is verbasend.