Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“God help ons om te herstel”

“God help ons om te herstel”

NATALIA en haar negejarige seun, Aslan, het styf teen mekaar gesit naby Zarina en haar twaalfjarige dogter, Anzjelika. Meer as 1 000 ander kinders en volwassenes het ook naby hulle gesit. Almal is deur swaar gewapende aanvallers bewaak.

Vroeër daardie Woensdagoggend 1 September 2004 was hierdie kinders en ouers in Beslan, ’n dorpie in Alanië, Rusland, buite besig met voorbereidings om die eerste skooldag te vier. Skielik het gewapende mans en selfmoordbomaanvallers tussen hulle ingehardloop terwyl hulle skote in die lug gevuur en geskreeu het. Die meer as 30 aanvallers het die verskrikte skare in die skoolgimnasium ingejaag en bomme op verskeie plekke in die vertrek aangebring.

Die onderhandelinge en die slagting

So het drie dae van gespanne onderhandelinge tussen die aanvallers en die veiligheidsmagte begin, maar dit het elke keer ’n dooie punt bereik. “Ek het nog nooit so baie gebid nie”, sê Natalia, wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer het.

Dit was laat somer, en die gimnasium het baie warm geword. Vanaf die oggend van die tweede dag het die aanvallers die gyselaars geen kos of water gegee nie, en teen die derde dag—Vrydag—het party gyselaars selfs urine begin drink en blomme geëet wat die kinders vir hulle onderwysers gebring het. “’n Seun wat naby ons gesit het, het ’n blaar in my hand gesit”, sê Natalia. “Ek het dit in twee geskeur en die een helfte vir Anzjelika en die ander helfte vir Aslan gegee.”

Later op die derde dag het die slagting begin. “Ontploffings het my op die grond neergeslinger”, vertel Natalia. “Dik rook het die saal gevul, en ’n skietery het begin.” Gedurende die skietery tussen die soldate en die terroriste het Natalia en Aslan na veiligheid gekruip. ’n Plaaslike man met die naam Alan het hulle na veiligheid gelei. Maar baie ander het nie weggekom nie.

Die gevolge

Anzjelika is gedurende die skietery dood

Honderde kinders en volwassenes het gesterf, insluitende Anzjelika. Die inwoners van Beslan het weke lank gehuil en geweeklaag. Natalia se woonstel het ’n uitsig op die skool, en selfs nadat ’n nuwe skool daar naby gebou is, kon Aslan eenvoudig nie daar ingaan nie. Hy het nie eers buite gaan speel nie. “Ons het Jehovah gesmeek om hom te help om sy vrese te oorkom”, sê Natalia. Mettertyd het hy die moed bymekaargeskraap om terug te gaan skool toe.

Vir Natalia was dit ’n uitdaging om Christelike vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon. “Elke keer dat ek saam met baie mense in ’n beknopte plek was, het ek half verwag dat die gebou binnegeval gaan word”, vertel sy. “Ek het gebid dat niks moet gebeur nie. Ná ’n ruk het ek opgehou om vergaderinge by te woon. Ek het ook geworstel met die gedagte dat baie mense dood is terwyl ons die aanval oorleef het.”

Die herstel

“Ek is dankbaar teenoor die gemeentelede wat aangehou het om my te help”, sê Natalia. “’n Getuie met die naam Tatiana het my elke drie dae besoek. Later het sy nog ’n Getuie begin saambring—die liefdevolle, taktvolle en sagmoedige Oeljana—wat die Bybel goed ken. Sy het my geprys vir die pogings wat ek aangewend het, en sy het werklik geluister wanneer ek gepraat het.

“Ek kan uiteindelik sonder bitterheid of vrees oor daardie dag praat”

“Oeljana het vir my die woorde van die Christenapostel Paulus in 2 Korintiërs 1:9 gelees. Ná ’n beproewing in Asië het Paulus gesê: ‘Ons het by onsself gevoel dat ons die doodsvonnis ontvang het.’ Sy het ook Jesaja 40:31 gelees: ‘Dié wat op Jehovah hoop, sal nuwe krag kry. Hulle sal opvaar met vlerke soos arende.’ Sulke verse, tesame met die volgehoue emosionele ondersteuning van Oeljana en ander, het my versterk om weer Christelike vergaderinge saam met my kinders by te woon. Maar ek voel nog steeds ongemaklik wanneer ek in ’n saal is.”

Zarina het later een van Jehovah se Getuies geword en sien nou daarna uit om Anzjelika in die opstanding terug te verwelkom tot lewe op ’n pragtige, vreedsame aarde, onder die heerskappy van God se Koninkryk (Matteus 6:9, 10; Handelinge 24:15). Natalia en haar kinders is in 2009 gedoop. Hulle woon nog naby die ruïnes van die gimnasium, maar het die afgryslike ondervinding verwerk. “Ek kan uiteindelik sonder bitterheid of vrees oor daardie dag praat”, sê Natalia. “God help ons om te herstel.”