DIE PAD VAN GELUK
’n Doel in die lewe
DIE MENS IS OP BAIE MANIERE UNIEK — ONS SKRYF, ONS SKILDER, ONS ONTWERP EN MAAK NUWE DINGE EN ONS DINK OOR DIE BELANGRIKE VRAE VAN DIE LEWE: Hoekom bestaan die heelal? Hoe het ons hier gekom? Wat is die doel van die lewe? Wat gaan in die toekoms gebeur?
Party mense wil nie oor hierdie vrae praat nie, want hulle dink dat die antwoorde te moeilik is. Ander sê dat hierdie vrae tyd mors omdat die lewe maar net toevallig deur evolusie ontstaan het. William Provine, ’n professor in geskiedenis en biologie, het gesê: “Daar is geen gode, geen doel nie . . . Daar is geen standaard waarop ’n mens se gedrag gebaseer moet word nie, en daar is geen dieper doel aan die lewe nie.”
Maar daar is baie mense wat glad nie met hierdie negatiewe uitkyk saamstem nie. Hulle sien dat die heelal goed ontwerp is en deur ordelike en wetenskaplike wette beheer word. Hulle is baie beïndruk met hoe wonderlik alles in die natuur ontwerp is, en hierdie ontwerpe word selfs gebruik om mense se produkte te verbeter. Hulle glo nie dat alles net vanself kon ontstaan het nie. Wanneer hulle na alles om hulle kyk en sien hoe slim dit ontwerp is, is hulle daarvan oortuig dat daar ’n slim Ontwerper moet wees.
Sulke feite het party wat aan evolusie glo, oortuig dat daar ’n Skepper is. Kom ons kyk na twee voorbeelde:
DOKTER ALEKSEI MARNOF (’N SPESIALIS WAT OP DIE SENUWEESTELSEL OPEREER.) “Die skole wat ek bygewoon het, het my geleer dat evolusie ’n feit is en dat God nie bestaan nie. As enigiemand aan God geglo het, het ander gedink dat hy niks weet nie”, het hy gesê. Maar in 1990 het hy dinge anders begin sien.
Hy sê: “Ek het nog altyd probeer verstaan wat die doel van iets is, soos byvoorbeeld die mens se brein. Daar is geen struktuur waarvan mense weet wat so kompleks soos hierdie wonderlike orgaan is nie. Maar is die doel van die brein om nuwe dinge te leer en te verbeter en dan net dood te gaan? Dit maak glad nie vir my sin nie. Ek het toe begin wonder: ‘Hoekom is ons hier? Wat is die doel van die lewe?’ Nadat ek mooi hieroor gedink het, het ek besef dat daar ’n Skepper moet wees.”
Omdat Aleksei wou weet wat die doel van die lewe is, het hy die Bybel begin studeer. Sy vrou is ’n mediese dokter en het ook nie geglo dat God bestaan nie. Maar later het sy van die Bybel begin leer. Hoekom? Want sy wou bewys dat die Bybel verkeerd is! Maar nou glo hulle al twee dat God bestaan. En die Bybel het hulle geleer wat die doel van die lewe is.
DOKTOR HUABI YIN (’N WETENSKAPLIKE WAT DIE SON SE PLASMA STUDEER.) Huabi Yin het fisika gestudeer, en vir baie jare het sy oor die son se plasma navorsing gedoen. Plasma is die vierde vorm van materie, die ander drie is vaste stowwe, vloeistowwe en gasse. Die son se plasma bestaan meestal uit elektrone en positiewe ione.
Huabi sê: “Wanneer ons as wetenskaplikes navorsing doen oor die wonderlike dinge in die natuur, sien ons dat dit altyd deur ordelike wette beheer word. Ek het gewonder: ‘Waar kom hierdie wette vandaan? Selfs ’n vuur waarop ons kos gaarmaak, moet beheer word. So wie het dan die wette gemaak wat die son beheer?’ Later het ek besef dat die eerste sin in die Bybel hierdie vraag logies beantwoord: ‘In die begin het God die hemel en die aarde geskep.’” — Genesis 1:1.
Die wetenskap het al baie antwoorde gegee op vrae wat met “hoe” begin. Soos byvoorbeeld: Hoe werk breinselle? En hoe maak die son hitte en lig? Maar Aleksei en Huabi het gesien dat die Bybel belangriker vrae beantwoord, vrae wat met “hoekom” begin: Hoekom bestaan die heelal? Hoekom word dit deur wette beheer? En hoekom bestaan ons?
Die Bybel sê dat God die aarde “gevorm het om bewoon te word” en “nie verniet geskep het nie” (Jesaja 45:18). God het ’n doel met die aarde. En in die volgende artikel sal ons sien dat hierdie doel hand aan hand gaan met ons hoop vir die toekoms.