KAN ONS PLANEET OORLEEF?
Lug
ONS het lug nodig, maar nie net om asem te haal nie. Lug beskerm ons planeet teen die meeste van die son se skadelike strale. Sonder lug sou temperature regoor die wêreld tot onder vriespunt daal.
Dinge wat ons lug bedreig
Lugbesoedeling hou ’n dodelike gevaar in vir lewe op die aarde. Net een persent van die aarde se bevolking asem lug in wat voldoen aan die Wêreldgesondheidsorganisasie se standaarde van veiligheid.
Lugbesoedeling is al verbind met asemhalingsiekte, longkanker en hartvatsiekte. Lugbesoedeling veroorsaak dat omtrent 7 000 000 mense elke jaar ’n vroeë dood sterf.
Ons planeet – Ontwerp om te oorleef
Ons planeet het die natuurlike vermoë om ’n konstante voorraad gesonde lug te handhaaf vir elke lewende ding op die aarde. Maar dit kan dit net doen wanneer mense die besoedeling van die omgewing beperk. Kyk na net ’n paar voorbeelde.
-
Woude se vermoë om koolstofdioksied uit die lug te absorbeer, is welbekend. Maar iets wat minder bekend is, is die feit dat vleilande by die kus met baie wortelbome dit selfs beter kan doen. Wortelbome speel ’n belangrike rol daarin om tot soveel as vyf keer meer koolstofdioksied uit ons lug te verwyder as wat tropiese woude kan.
-
Onlangse studies wys dat party groot alge soos kelp nie net koolstofdioksied uit die atmosfeer vasvang nie, maar dit ook begrawe. Blaaragtige kelpblaaie het klein sakkies vol lug wat dit in staat stel om oor groot afstande te dryf. Ver weg van die kus bars die sakkies, en die kelp wat vol koolstofdioksied is, sink tot op die bodem van die oseaan. Dit bly heel moontlik vir baie eeue veilig daar begrawe.
-
Ons atmosfeer se vermoë om te herstel van skadelike vlakke van besoedeling, kon gesien word gedurende die COVID-19-inperking. In 2020, toe die wêreld se fabrieke en voertuie amper heeltemal opgehou het om besoedelstowwe vry te laat, het die luggehalte vinnig verbeter. Volgens die “2020 World Air Quality Report” het meer as 80 persent van die lande wat hulle bestudeer het, gesê dat hulle skoner lug het kort nadat die inperking begin het.
Wat gedoen word
Regerings hou aan om vir besighede te sê om lugbesoedeling te verminder. En wetenskaplikes hou aan om nuwe maniere te ontdek om die gevolge van besoedeling ongedaan te maak. Byvoorbeeld, een proses gebruik mikrobes om besoedelstowwe in nie-giftige stowwe te verander. Deskundiges moedig mense ook aan om te stap of om fietse te gebruik in plaas daarvan om te ry en om maniere te vind om minder krag in hulle huise te gebruik.
Maar meer is nodig, soos gesien kan word in ’n 2022-verslag wat saamgestel is deur internasionale agentskappe, insluitende die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Wêreldbank.
Die verslag sê dat omtrent ’n derde van mense in die wêreld in 2020 dinge gebruik het wat die lug besoedel wanneer hulle kook. In baie gebiede kan min mense nuwe stowe bekostig of het hulle toegang tot alternatiewe brandstowwe.
Redes vir hoop – Wat die Bybel sê
“Dít is wat die ware God, Jehovah, sê, die Skepper van die hemele en . . . die Een wat die aarde en die opbrengs daarvan uitgesprei het, die Een wat asem aan die mense daarop gee.” – Jesaja 42:5.
God het die lug wat ons inasem en die natuurlike kringlope wat die lug skoonmaak, geskep en hy het oneindige krag en liefde vir mense. So dit is redelik om te glo dat hy besoedeling uit die lug sal verwyder. Sien die artikel “God belowe dat ons planeet sal oorleef”.