Waak teen die bygelowige gebruik van die Bybel
“DIE woord van God is lewend en oefen krag uit” (Heb. 4:12). Met hierdie woorde het die apostel Paulus die krag beklemtoon wat die woord van God het om harte te bereik en lewens te verander.
Hierdie beskouing van die krag van die Bybel se boodskap is egter vertroebel toe die voorspelde afvalligheid ná die dood van die apostels wortelgeskiet het (2 Pet. 2:1-3). Ná verloop van tyd het kerkleiers towerkrag aan God se Woord begin toeskryf. Professor Harry Y. Gamble het geskryf oor “die towerkragtige gebruik van Christelike geskrifte”. Hy het gemeld dat die kerkvader Origines in die derde eeu gesê het: “Selfs net die klank van heilige woorde in die oor is voordelig: as woorde in heidense toorkuns krag het, hoeveel kragtiger sal die waarlik goddelike woorde van die skrif tog sekerlik wees.” John Chrysostom, wat laat in die vierde eeu gelewe het, het geskryf dat “die duiwel dit nie sal waag om naby ’n huis te kom waarin daar ’n Evangelie is nie”. Hy het ook berig dat party mense gedeeltes van die Evangelieverslae as ’n kragtige amulet om hulle nekke gehang het. Professor Gamble het verder geskryf dat die Katolieke teoloog Augustinus “gedink het dat dit toelaatbaar was om met ’n eksemplaar van die Evangelie van Johannes onder jou kussing te slaap as jy ’n hoofpyn het”! Bybelgeskrifte is dus op towerkragtige wyse gebruik. Beskou jy die Bybel as ’n amulet, of ’n gelukbringer, wat jou teen onheil kan beskerm?
Bibliomansie is moontlik ’n algemener manier waarop die Bybel verkeerd gebruik word. Wat is dit? Dit is wanneer ’n boek, dikwels die Bybel, oopgeslaan word en die eerste teks gelees word waarop die oog val omdat daar geglo word dat hierdie woorde die nodige leiding sal voorsien. Professor Gamble het byvoorbeeld geskryf dat Augustinus, toe hy een keer ’n kind in die huis langsaan hoor sê het: “Vat dit en lees, vat dit en lees”, dit beskou het as ’n goddelike bevel om die Bybel oop te slaan en die eerste teks te lees waarop sy oog val.
Het jy al gehoor van mense wat tot God bid wanneer hulle in ’n moeilike situasie is en dan die Bybel op enige plek oopslaan omdat hulle glo dat die eerste vers wat hulle sien, hulle sal help om die probleem te bowe te kom? Hoewel hulle dalk goeie bedoelings gehad het, is dit nie die manier waarop Christene leiding in die Bybel moet soek nie.
Jesus het sy dissipels verseker dat hy hulle “die helper, die heilige gees” sal stuur. Hy het verder gesê: “Dié sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat ek julle vertel het” (Joh. 14:26). In teenstelling hiermee vereis bibliomansie geen kennis van die Bybel nie.
Bibliomansie en ander bygelowige gebruike van die Bybel kom algemeen voor. Maar God se Woord veroordeel die soek van voortekens (Lev. 19:26; Deut. 18:9-12; Hand. 19:19). “Die woord van God is lewend en oefen krag uit”, maar ons moet dit op vaardige wyse gebruik. Juiste Bybelkennis, nie die bygelowige gebruik van die boek nie, verbeter mense se lewens. Hierdie kennis het baie mense gehelp om goeie sedes te ontwikkel, ’n vernietigende lewenswyse agter te laat, hulle gesinslewe te verbeter en ’n persoonlike verhouding met die Bybel se Outeur op te bou.