Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah het hulle beskerm in die skaduwee van die berge

Jehovah het hulle beskerm in die skaduwee van die berge

TOE die vrou vroeg die oggend by haar voordeur uitkom, sien sy ’n pakkie by haar deur. Sy tel dit op en kyk rond, maar die straat is leeg. Die een of ander onbekende besoeker moes dit gedurende die nag daar gelaat het. Sy maak die pakkie effens oop, gaan vinnig weer in die huis in en maak die deur toe. Geen wonder nie! Die pakkie bevat verbode Bybellektuur! Sy hou die pakkie styf teen haar vas en sê ’n stille gebed om Jehovah vir die kosbare geestelike voedsel te dank.

Tonele soos hierdie het gedurende die 1930’s in Duitsland afgespeel. Nadat die Nazi’s in 1933 aan die bewind gekom het, is die werk van Jehovah se Getuies in ’n groot deel van die land verbied. “Ons was oortuig dat die verkondiging van Jehovah en sy naam nie deur so ’n mensgemaakte verordening gestuit sou kon word nie”, sê Richard Rudolph, wat nou meer as 100 jaar oud is. * “Bybellektuur was belangrik sodat ons kon studeer en in die bediening kon uitgaan. Maar weens die verbod was dit nie vryelik beskikbaar nie. Ons het gewonder hoe die werk sou voortgaan.” Richard het gou besef dat hy op ’n baie ongewone manier kon help om in hierdie behoefte te voorsien. Dit sou in die skaduwee van die berge gedoen word.—Rigt. 9:36.

IN SMOKKELAARS SE SPORE

As jy stroomop reis op die Elberivier (of, Laberivier), sal jy uiteindelik die Reusegebergte (Krkonoše) bereik, wat op die huidige grens tussen die Tsjeggiese Republiek en Pole lê. Hoewel die berge net ongeveer 1 600 meter hoog is, is dit al die Arktiese eiland in die middel van Europa genoem. Die riwwe word die helfte van die jaar deur sneeu van tot drie meter diep bedek. Diegene wat onderskat hoe onvoorspelbaar die weer hier is, kan oorval word deur die digte mis wat die bergpieke soms skielik omhul.

Deur die eeue heen het hierdie bergreeks ’n natuurlike grens gevorm tussen provinsies, koninkryke en lande. Dit was moeilik om hierdie gevaarlike terrein te patrolleer, en daarom het baie in die gebied in die verlede goedere oor hierdie berge gesmokkel. In die 1930’s, toe die Reusegebergte die grens tussen Tsjeggo-Slowakye en Duitsland gevorm het, het vasberade Getuies die verlate voetpaaie van die smokkelaars begin gebruik. Om wat te doen? Om kosbare Bybellektuur te vervoer van plekke waar dit vryeliker beskikbaar was. Die jong Richard was een van hierdie Getuies.

GEVAARLIKE “STAPTOGTE”

“Oor naweke het ons na die berge gestap in groepe wat bestaan het uit ongeveer sewe jong broers wat soos voetslaners aangetrek is”, vertel Richard. “Van die Duitse kant af het dit ons omtrent drie uur geneem om die berge oor te steek en by Špindlerův Mlýn uit te kom”—’n oord wat ongeveer 16,5 kilometer daarvandaan aan die Tsjeggiese kant was. Destyds het baie Duitsers in daardie gebied gewoon. Een van hulle was ’n boer wat ingestem het om die broers te help. Met ’n perdekar wat gewoonlik gebruik is om vakansiegangers te vervoer, het hy bokse lektuur wat per trein van Praag af gestuur is, in ’n nabygeleë dorp gaan haal. Hy het die bokse na sy plaas teruggeneem en dit in die hooisolder weggesteek totdat die koeriers wat die lektuur na die Duitse kant sou neem, dit kom haal het.

Richard vertel verder: “Wanneer ons by daardie plaas aangekom het, het ons ons rugsakke gepak, wat spesiaal ontwerp is om die swaar vragte te dra. Elkeen van ons het sowat 50 kilogram gedra.” Hulle het in die donker gestap sodat hulle nie ontdek sou word nie—hulle het met sononder begin stap en het voor sonop weer by die huis aangekom. Ernst Wiesner, wat destyds ’n kringopsiener in Duitsland was, het party van die veiligheidsmaatreëls beskryf: “Twee broers het vooruitgestap en wanneer hulle enigiemand teëgekom het, het hulle onmiddellik met hulle flitsligte ’n sein gegee. Vir die broers wat met hulle swaar rugsakke omtrent 100 meter agter hulle gestap het, was dit ’n teken dat hulle in die bosse langs die pad moet wegkruip totdat die twee broers wat vooruitgeloop het, teruggekom het en ’n sekere wagwoord gesê het, wat elke week verander het.” Die Duitse polisie in hulle blou uniforms was egter nie die enigste gevaar nie.

“Een aand moes ek laat werk”, vertel Richard, “en daarom het ek later as die res van my broers na die Tsjeggiese kant vertrek. Dit was donker en mistig, en ek het gebewe terwyl ek in die yskoue reën gestap het. Ek het tussen die dwergdennebome verdwaal en kon etlike ure lank nie my pad vind nie. Baie voetslaners het al so omgekom. Eers toe my broers vroeg die oggend op pad terug was, het ek hulle gevind.”

Die klein groep moedige broers het ongeveer drie jaar lank elke week na die berge gegaan. In die winter het hulle hulle kosbare vragte met behulp van ski’s of sleë vervoer. Van tyd tot tyd het groepe van tot 20 broers met behulp van gemerkte staproetes die grens gedurende die dag oorgesteek. ’n Paar susters het saamgegaan om die indruk te skep dat hulle net ’n groep voetslaners is. Party van hulle het vooruitgestap en hulle hoede in die lug gegooi wanneer hulle enige gevaar vermoed het.

Weens die sneeubedekte pieke was dit gevaarlik om die Reusegebergte oor te steek

Wat het gebeur wanneer die koeriers van hulle nagtelike staptogte teruggekeer het? Daar was reëlings om seker te maak dat die lektuur onmiddellik onder die broers versprei word. Hoe is dit gedoen? Die publikasies is as seep verpak en na die treinstasie in Hirschberg geneem. Die pakkies is na verskillende dele van Duitsland gestuur, waar broers en susters dit onopsigtelik by medegelowiges afgelewer het, soos aan die begin beskryf is. Soveel mense was by hierdie ondergrondse verspreidingsnetwerk betrokke dat dit verreikende gevolge kon hê as ’n deel daarvan ontdek sou word. En eendag het die broers wel ’n onverwagse terugslag ondervind.

In 1936 is ’n lektuurdepot naby Berlyn ontdek. Onder die dinge wat daar gevind is, was daar drie pakkies van ’n onbekende persoon in Hirschberg. Die polisie het ’n belangrike lid van die groep deur middel van handskrifontleding geïdentifiseer en hom in hegtenis geneem. Kort daarna is nog twee verdagtes, insluitende Richard Rudolph, in hegtenis geneem. Omdat die broers alle verantwoordelikheid aanvaar het, kon ander nog ’n tyd lank aanhou om die staptogte, wat al hoe gevaarliker geword het, te doen.

’N LES VIR ONS

Die publikasies wat in rugsakke oor die Reusegebergte gebring is, het ’n aansienlike deel van die Duitse Getuies se voorraad Bybellektuur uitgemaak. Maar die Reusegebergte is nie die enigste roete wat gebruik is nie. Al langs die grens tussen Duitsland en Tsjeggo-Slowakye was daar soortgelyke roetes totdat Duitse magte Tsjeggo-Slowakye in 1939 beset het. In Duitsland se ander buurlande, soos Frankryk, Nederland en Switserland, het Getuies aan albei kante groot risiko’s geneem om hulle medegelowiges, wat vervolging moes verduur, van geestelike voedsel te voorsien.

Vandag kan die meeste van ons Bybellektuur in voldoende hoeveelhede en verskeie formate verkry. Hetsy jy ’n nuwe publikasie by die Koninkryksaal kry of dit van die webwerf jw.org/af aflaai, jy kan gerus ’n oomblik neem om te dink aan die werk wat dit geverg het om dit te voorsien. Dit was miskien nie so dramaties soos om sneeubedekte bergpieke in die middel van die nag oor te steek nie, maar dit het beslis harde werk geverg van baie medegelowiges wat jou onselfsugtig dien.

^ par. 3 Hy het in die Hirschberg-gemeente in Silesië gedien. Die stad Hirschberg is nou Jelenia Góra in die suidweste van Pole.