Hoe om dié te help wat gesondheidsprobleme het
DIE BYBEL SÊ: “’n Ware vriend betoon altyd liefde en is ’n broer gedurende moeilike tye.” – SPREUKE 17:17.
Wat dit beteken
Ons kan maklik oorweldig voel wanneer ’n vriend aan ’n verstandelike siekte ly. Maar ons kan wys hoe baie ons omgee deur ons vriend te help om ’n verskriklike verstandelike gesondheidsprobleem te hanteer. Hoe?
Hoe dit kan help
“Wees [gou] om te hoor.” – JAKOBUS 1:19.
Een van die beste maniere om jou vriend te help, is om te luister wanneer hy wil praat. Moenie voel dat jy op alles moet reageer wat hy sê nie. Wys vir hom dat jy luister en dat jy vir hom omgee. Probeer verstaan hoe hy voel, en moenie gou tot gevolgtrekkings kom of hom oordeel nie. Onthou dat hy dalk dinge sal sê wat hy nie bedoel nie en waaroor hy later spyt is. – Job 6:2, 3.
“Praat vertroostend.” – 1 TESSALONISENSE 5:14.
Jou vriend is dalk angstig of hy sukkel dalk met gevoelens van waardeloosheid. As jy hom verseker dat jy omgee, kan jy hom vertroos en aanmoedig, al weet jy nie presies wat om te sê nie.
“’n Ware vriend betoon altyd liefde.” – SPREUKE 17:17.
Bied praktiese hulp aan. Moenie aanneem dat jy weet hoe om te help nie, vra eerder wat jy kan doen. As dit vir jou vriend moeilik is om te verduidelik wat hy nodig het, probeer iets prakties voorstel wat julle saam kan doen, soos om te gaan stap. Of jy kan aanbied om te help met inkopies, skoonmaakwerk of iets anders. – Galasiërs 6:2.
“Wees geduldig.” –Jou vriend sal dalk nie altyd lus wees om te praat nie. Verseker jou vriend dat jy graag sal luister wanneer hy ook al wil praat. As gevolg van sy siekte sal jou vriend dalk dinge sê of doen wat jou seermaak. Hy sal dalk planne met jou kanselleer of in ’n slegte bui wees. Wees geduldig en probeer hom verstaan terwyl jy hom ondersteun. – Spreuke 18:24.
Jou ondersteuning kan ’n verskil maak
“Ek maak seker dat ek ’n vriend is waarop sy kan staatmaak. Al kan ek nie haar probleme oplos nie, maak ek ’n punt daarvan om te luister na wat sy sê. Soms het sy net ’n luisterende oor nodig om haar te laat beter voel.” – Farrah, a wie se vriend aan ’n eetversteuring, angstigheid en kliniese depressie ly.
“Een van my vriende is so liefdevol en positief. Sy het my na haar huis toe genooi vir ’n lekker ete. In daardie liefdevolle atmosfeer kon ek oor my gevoelens praat. Dit het my regtig aangemoedig!” – Ha-eoen, wat aan kliniese depressie ly.
“Geduld is baie belangrik. Wanneer my vrou iets doen wat my ontstel, herinner ek myself daaraan dat dit haar siekte is wat veroorsaak dat sy so optree. Dit help my om nie kwaad te word nie en om liefdevoller teenoor haar te wees.” – Jacob, wie se vrou aan kliniese depressie ly.
“My vrou ondersteun en vertroos my verskriklik baie. Wanneer my angstigheid my oorweldig laat voel, dwing sy my nooit om enige iets te doen waarvoor ek nie lus is nie. Soms beteken dit dat sy ook nie iets kan doen wat sy graag sou wou doen nie. Haar selfopofferende gesindheid en vrygewigheid is baie spesiaal vir my.” – Enrico, wat aan angstigheid ly.
a Party name is verander.