Kan opvoeding en geld ’n beter toekoms waarborg?
Baie mense dink dat diegene wat ’n goeie opvoeding het en ryk is, ’n beter toekoms sal hê. Hulle dink dat ’n universiteitsgraad ’n persoon kan help om ’n beter werker, ’n beter gesinslid en ’n beter burger te wees. Hulle voel dalk ook dat ’n goeie opvoeding hulle sal help om ’n werk met ’n goeie salaris te kry. En hulle dink dat mense wat baie geld maak, gelukkig sal wees.
’N BESLUIT WAT BAIE MAAK
Kyk na wat Zhang Chen, wat van China af kom, gesê het: “Ek het geglo dat ’n universiteitsgraad my sal help om nie meer arm te wees nie. Ek het ook gedink dat ’n werk met ’n goeie salaris ’n gelukkige en vervullende lewe sou waarborg.”
Om ’n beter lewe te kry, wil baie mense graag aan bekende universiteite studeer wat dalk in ander lande is. Dit is iets wat al hoe meer gebeur het totdat COVID-19 dit moeilik vir mense gemaak het om oorsee te reis. ’n Verslag in 2012 deur die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling sê: “Van al die studente wat oorsee studeer, is 52% van die studente mense wat van Asië af kom.”
Ouers maak dikwels groot opofferings sodat hulle kinders na ’n universiteit oorsee kan gaan. ’n Man van Taiwan sê: “My ouers was nie ryk nie, maar hulle het al vier hulle kinders na universiteite in die Verenigde State gestuur.” Om vir sulke opvoeding te betaal, moes sy gesin, soos baie ander, baie skuld maak.
WAT IS DIE GEVOLGE?
As jy geleerd is, kan dit jou lewe op party maniere verbeter, maar dinge werk nie altyd uit soos studente verwag nie. Byvoorbeeld, nadat hulle jare lank hard gewerk het en baie geld geleen het om vir hoër onderwys te betaal, kan baie nie die werk kry wat hulle wil hê nie. ’n Berig deur Rachel Mui in Singapoer se Business Times sê: “Al hoe meer mense wat ’n universiteitsgraad het, kan nie werk kry nie.” Djiandjie, ’n man met ’n doktorsgraad wat in Taiwan woon, sê: “Baie mense word gedwing om ’n werk te vat wat niks met hulle graad te doen het nie.”
Diegene wat wel ’n werk in die beroep van hulle keuse kan kry, vind dalk dat hulle lewe nie uitgedraai het soos hulle gedink het nie. Niran, wat van Thailand af kom, het ’n werk in sy veld gekry nadat hy aan ’n universiteit in die Verenigde Koninkryk gestudeer het. “Soos ek verwag het, het ’n graad my gehelp om ’n werk met ’n beter salaris te kry. Maar ek moes baie hard en lang ure werk om die beter salaris te verdien. Uiteindelik het die maatskappy die meeste van sy werkers, wat my ingesluit het, afgedank. Ek het besef dat geen werk ’n beter toekoms kan waarborg nie.”
Selfs diegene wat ryk is of wat lyk asof hulle suksesvol is, het nog steeds gesinsprobleme, sukkel met siektes en is bekommerd oor geld. Katsutoshi, van Japan, erken: “Ek het baie geld gehad, maar ek was nog steeds ongelukkig omdat ander jaloers was op my en my sleg behandel het.” Lam, ’n vrou wat in Viëtnam woon, sê: “Ek sien baie mense wat graag ’n werk met ’n goeie salaris wil hê sodat hulle finansiële sekuriteit kan kry. Maar in werklikheid het dit die teenoorgestelde uitwerking – onsekerheid, gesondheidsprobleme, emosionele uitputting en depressie.”
Baie het, soos Franklin, besef dat daar belangriker dinge in die lewe is as hoër onderwys en rykdom. Eerder as om op materiële dinge te fokus, dink baie mense dat hulle ’n beter toekoms sal hê as hulle ’n goeie mens is en goeie dinge vir ander doen. Sal dit ’n beter toekoms waarborg? Die volgende artikel gee die antwoord.