Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Tetragrammaton, die heilige naam van God, Jehovah, in Hebreeuse letters. Dit word van regs na links gelees

Die kleinste Hebreeuse letter gee ons ’n kragtige versekering

Die kleinste Hebreeuse letter gee ons ’n kragtige versekering

Kan ons doodseker wees dat al God se beloftes waar sal word? Jesus was hiervan oortuig en wat hy sy volgelinge geleer het, het hulle ook op God laat vertrou. Kyk in Matteus 5:18 na die illustrasie wat hy in sy Bergpredikasie gebruik het: “Ek sê voorwaar vir julle dat hemel en aarde eerder sal verbygaan as dat één van die kleinste lettertjies of een deeltjie van ’n letter hoegenaamd uit die Wet sal verbygaan en alles nie plaasvind nie.”

Die kleinste letter van die Hebreeuse alfabet is י (yod). * Dit is ook die eerste letter van die Tetragrammaton, die heilige naam van God, Jehovah. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het nie net elke woord en letter van God se Wet as belangrik beskou nie, maar selfs elke “deeltjie van ’n letter”.

Jesus het gesê dat daar ’n groter kans is dat die hemel en die aarde verby sou gaan as wat die kleinste besonderheid in die Wet nie vervul sou word nie. Tog verseker die Bybel ons dat die letterlike hemel en aarde vir ewig sal bestaan (Psalm 78:69). Hierdie treffende woorde wys vir ons dat selfs die kleinste besonderheid van die Wet vervul sal word.

Is klein besonderhede vir Jehovah God belangrik? Ja, beslis. Dink hieraan: Die eertydse Israeliete is beveel om nie ’n been van die Pasgalam te breek nie (Eksodus 12:46). Dit was miskien iets kleins. Het hulle verstaan waarom hulle dit nie moes doen nie? Seker nie. Maar Jehovah God het geweet dat dit ’n profetiese besonderheid in verband met die dood van die Messias is. Toe die Messias op die folterpaal doodgemaak is, is daar ook nie een van sy bene gebreek nie.—Psalm 34:20; Johannes 19:31-33, 36.

Wat leer Jesus se woorde ons? Dat ons doodseker kan wees dat al Jehovah God se beloftes tot in die kleinste besonderheid vervul sal word. Wat ’n kragtige versekering gee die kleinste Hebreeuse letter ons tog!

^ par. 3 Die kleinste letter van die Griekse alfabet is iota en is blykbaar soortgelyk aan die Hebreeuse י (yod). Omdat die Wet van Moses oorspronklik in Hebreeus geskryf en oorgedra is, het Jesus waarskynlik na die Hebreeuse letter verwys.