Het jy geweet?
Hoekom het die eertydse Israeliete ’n bruidsprys betaal?
IN BYBELTYE het die bruidegom of sy familie die bruidsprys aan die bruid se familie betaal wanneer die twee families ’n huweliksooreenkoms gemaak het. Die bruidsprys kon waardevolle items, diere of geld ingesluit het. Soms kon die bruidegom die bruidsprys betaal deur vir ’n sekere tydperk vir die bruid se familie te werk. Jakob het byvoorbeeld sewe jaar lank vir Ragel se pa gewerk sodat hy met haar kon trou (Gen. 29:17, 18, 20). Wat was die doel van die bruidsprys?
Carol Meyers, ’n Bybelgeleerde, sê: “’n Bruidsprys is dalk as vergoeding aan die bruid se familie betaal omdat hulle nie meer ’n dogter sou hê wat vir hulle kon werk nie. En ’n dogter se werk was belangrik vir families [wat geboer het].” Die bruidsprys het dalk ook gehelp om die vriendskap tussen die twee families te versterk. En die lede van die twee families kon mekaar gedurende moeilike tye help. Die bruidsprys het ook as ’n teken gedien dat die vrou nou verloof is en dat sy die sorg en beskerming van haar pa sal verlaat en dan onder die sorg van haar man sal wees.
Die bruidsprys het nie beteken dat die vrou ’n voorwerp was wat gekoop of verkoop kon word nie. Die boek Ancient Israel—Its Life and Institutions sê: “Hierdie verpligting om ’n som geld, of die ekwivalent daarvan, aan die meisie se familie te betaal, gee natuurlik aan die Israelitiese huwelik die uiterlike voorkoms van ’n transaksie. Die [bruidsprys] is blykbaar nie soseer die prys wat vir die vrou betaal is nie, maar eerder ’n vergoeding wat vir die familie gegee is.”
In party lande betaal mense nog steeds ’n bruidsprys. Wanneer Christenouers verwag dat ’n bruidsprys betaal word, laat hulle hulle “redelikheid aan alle mense bekend word” deur nie vir meer te vra as wat redelik is nie (Fil. 4:5; 1 Kor. 10:32, 33). Deur dit te doen, wys hulle dat hulle nie “geldgierig” is nie (2 Tim. 3:2). En as die bruidsprys nie onredelik hoog is nie, sal die toekomstige bruidegom nie die troue hoef uit te stel totdat hy genoeg geld gespaar het om die bruidsprys te betaal nie. En ’n toekomstige bruidegom sal nie verplig voel om op te hou pionier en voltyds te werk sodat hy ’n baie hoë bruidsprys kan betaal nie.
In sekere dele van die wêreld is daar landswette in verband met die bruidsprys. Wanneer dit die geval is, sal Christenouers gehoorsaam wees aan daardie wette. Hoekom? God se Woord sê dat Christene “onderdanig [moet] wees aan die hoër owerhede” en dat hulle gehoorsaam moet wees aan wette wat nie met God se wette bots nie. – Rom. 13:1; Hand. 5:29.