Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Watter rol het bestuurders in Bybeltye gespeel?

IN Bybeltye het ’n bestuurder die huishouding of eiendom van ’n ander persoon bestuur. Die Hebreeuse en Griekse woorde wat met “bestuurder” vertaal word, verwys soms na ’n opsiener of ’n persoon wat ’n huishouding bestuur.

Toe Josef, Jakob se seun, ’n slaaf in Egipte was, het Josef die bestuurder oor sy heer se huis geword. Om die waarheid te sê, sy Egiptiese heer het “alles wat syne was, in Josef se hand gelaat” (Gen. 39:2-6). Later, toe Josef self ’n magtige heerser in Egipte geword het, het hy ’n bestuurder oor sy eie huis aangestel. – Gen. 44:4.

In Jesus se dag het grondeienaars dikwels in stede weg van hulle plase af gebly. So die grondeienaars het bestuurders aangestel om toesig te hou oor die werk wat op die plase gedoen is.

Wie kon as ’n bestuurder dien? Die eerste-eeuse Romeinse skrywer Columella het gesê dat ’n slaaf wat as ’n opsiener, of ’n bestuurder, aangestel was, iemand moes wees wat “geleer het om die werk goed te doen”. Dit moes iemand wees wat “seker sou maak dat die werkers hulle werk doen, maar sonder om wreed te wees”. Hy het ook gesê dat die belangrikste ding vir ’n bestuurder was om nie te dink dat hy alles weet nie en dat hy altyd bereid moet wees om nuwe dinge te wil leer.

God se Woord gebruik die voorbeeld van ’n bestuurder en sy werk om party van die bedrywighede te verduidelik wat in die Christengemeente gebeur. Die apostel Petrus moedig Christene byvoorbeeld aan om die vermoëns te gebruik wat God hulle gegee het “om mekaar te dien as goeie bestuurders van God se onverdiende goedhartigheid”. – 1 Pet. 4:10.

Jesus het self die voorbeeld van ’n bestuurder gebruik in die illustrasie wat in Lukas 16:1-8 opgeteken is. En in ’n profesie oor die teken van sy teenwoordigheid as Koning, het Jesus sy volgelinge verseker dat hy ’n “getroue en verstandige slaaf”, of “getroue bestuurder,” sou aanstel. Die belangrikste toewysing van daardie bestuurder sou wees om Christus se volgelinge al die geestelike voedsel te gee wat hulle nodig sou hê gedurende die tyd van die einde (Matt. 24:45-47; Luk. 12:42). Ons is dankbaar dat ons deel is van dié wat die geloofversterkende publikasies ontvang wat die getroue bestuurder voorberei en wêreldwyd beskikbaar maak.