Spring na inhoud

 Sleutels tot gesinsgeluk

Hoe om probleme op te los

Hoe om probleme op te los

Hy sê: “Waar is die meisiekinders?”

Sy sê: “By die winkels; hulle koop nuwe klere.”

Hy sê: [Ergerlik en met ’n harde stem] “Wat bedoel jy ‘hulle koop nuwe klere’? Hulle het dan net verlede maand nuwe klere gekoop!”

Sy sê: [Verdedigend omdat sy seergemaak en beskuldig voel] “Maar daar is ’n uitverkoping. In elk geval, hulle het my eers gevra, en ek het gesê hulle kan gaan.”

Hy sê: [Verloor sy humeur en skreeu] “Jy weet ek háát dit wanneer die meisies geld uitgee sonder om my te vra! Hoe kon jy so ’n oorhaastige besluit neem sonder om met my te praat?”

WATTER probleme dink jy moet die egpaar wat hierbo aangehaal word, oplos? Die man sukkel ongetwyfeld om sy humeur te beteuel. Maar dit lyk ook of die egpaar verskil oor hoeveel vryheid hulle kinders moet hê. En blykbaar is daar ’n kommunikasieprobleem.

Geen huwelik is volmaak nie. Alle egpare sal probleme van die een of ander aard ondervind. Hetsy die kwessies groot of klein is, dit is noodsaaklik dat ’n man en vrou leer om dit op te los. Waarom?

Met verloop van tyd kan onopgeloste probleme versperrings word wat kommunikasie verhinder. “Daar is twiste wat soos die grendel van ’n woontoring is”, het die wyse koning Salomo gesê (Spreuke 18:19). Hoe kan jy die deur tot doeltreffender kommunikasie open wanneer probleme ontstaan?

As kommunikasie die lewensbloed van ’n huwelik is, dan is liefde en respek die hart en longe van die verhouding (Efesiërs 5:33). Wanneer ’n egpaar probleme moet oplos, sal liefde hulle beweeg om foute van die verlede—en die gevolglike emosionele letsels—oor te sien en hulle toe te spits op die kwessie wat nou ter sprake is (1 Korintiërs 13:4, 5; 1 Petrus 4:8). Egpare wat respek vir mekaar toon, laat die ander een vryelik praat en probeer hoor wat bedoel word, nie net wat gesê word nie.

Vier stappe om probleme op te los

Kyk na die vier stappe wat hieronder uiteengesit word en let op hoe Bybelbeginsels jou kan help om probleme op ’n liefdevolle en respekvolle manier op te los.

1. Stel ’n tyd vas om die kwessie te bespreek.

“Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd, . . . ’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat” (Prediker   3:1, 7). Soos die voorgemelde woordewisseling getoon het, kan party probleme sterk emosies laat ontstaan. As dit gebeur, moet ’n mens die selfbeheersing hê om die gesprek vir eers te beëindig—om “stil te bly”—voordat humeure opvlam. Jy kan voorkom dat julle verhouding groot skade berokken word as jy die Bybel se raad volg: “Om rusie te begin, is om ’n damwal te breek; staak liewer die getwis voor die vloed jou tref.”—Spreuke 17:14, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

Maar daar is ook “’n tyd om te praat”. Probleme floreer soos onkruid wanneer niks daaromtrent gedoen word nie. Moet dus nie die geskil ignoreer en hoop dat dit net sal verdwyn nie. As jy ’n gesprek beëindig, moet jy respek vir jou maat toon deur ’n tyd in die nabye toekoms te kies wanneer julle oor die probleem sal praat. So ’n belofte kan julle albei help om die gees van die Bybel se raad toe te pas: “Laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie” (Efesiërs 4:26). Jy sal jou belofte dan natuurlik moet nakom.

PROBEER DIE VOLGENDE: Kies ’n vaste tyd elke week om gesinsprobleme te bespreek. As jy agterkom dat jy op ’n sekere tyd van die dag meer geneig is om te argumenteer—byvoorbeeld, wanneer jy net van die werk af by die huis kom of voordat jy geëet het—moet jy instem om probleme nie op hierdie tye te bespreek nie. Kies eerder ’n tyd wanneer julle albei waarskynlik minder gespanne sal wees.

2. Spreek jou mening eerlik en respekvol uit.

“[Praat] die waarheid . . . , elkeen van julle met sy naaste” (Efesiërs 4:25). As jy getroud is, is jou intiemste naaste jou huweliksmaat. Wees dus eerlik en spesifiek oor jou gevoelens wanneer jy met jou maat praat. Margareta, * wat al 26 jaar getroud is, sê: “Toe ek pas getroud was, het ek verwag dat my man eenvoudig sal weet hoe ek voel wanneer ’n probleem ontstaan. Ek het geleer dat dit onrealisties is om so iets te verwag. Nou probeer ek my gedagtes en gevoelens duidelik uitspreek.”

Wanneer julle ’n probleem bespreek, moet jy onthou dat dit nie jou doelwit is om ’n stryd te wen of ’n vyand te verower nie, maar bloot om jou gedagtes aan jou maat oor te dra. Om dit op ’n doeltreffende wyse te doen, moet jy meld wat jy dink die probleem is, dan sê wanneer dit opduik en dan verduidelik hoe dit jou laat voel. Byvoorbeeld, as jou maat se slordigheid jou irriteer, kan jy respekvol sê: ‘Wanneer jy van die werk af by die huis kom en jou klere op die vloer laat lê [die wanneer en wat van die probleem], voel dit vir my of my pogings om die huis netjies te hou, nie waardeer word nie [dit verduidelik presies hoe jy voel].’ Stel dan taktvol voor wat jy dink die probleem sal oplos.

PROBEER DIE VOLGENDE: Om jou te help om jou gedagtes mooi agtermekaar te kry voordat jy met jou maat praat, kan jy neerskryf wat jy meen die probleem is en hoe jy dit sal wil oplos.

3. Luister na en erken jou maat se gevoelens.

Volgens die dissipel Jakobus moet Christene “gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). Daar is min dinge wat meer ongelukkigheid in ’n huwelik veroorsaak as die indruk dat jou maat nie verstaan hoe jy oor ’n probleem voel nie. Wees dus vasbeslote om nie hierdie indruk by jou maat te skep nie!—Matteus 7:12.

Wolfgang, wat al 35 jaar getroud is, sê: “Wanneer ons probleme bespreek, voel ek hoe die spanning in my opbou, veral wanneer ek meen dat my vrou nie verstaan hoe ek dink nie.” Dianna, wat nou al 20 jaar getroud is, erken: “Ek kla dikwels by my man dat hy nie regtig na my luister wanneer ons probleme bespreek nie.” Hoe kan jy hierdie struikelblok oorkom?

Moenie aanneem dat jy weet wat jou maat dink of voel nie. “Deur vermetelheid  veroorsaak ’n mens net ’n stryd, maar by dié wat saam beraadslaag, is wysheid”, sê God se Woord (Spreuke 13:10). Verleen aan jou maat die waardigheid om sy of haar mening uit te spreek sonder om in die rede geval te word. Om seker te maak dat jy verstaan het wat gesê is, kan jy dan in jou eie woorde aan jou maat herhaal wat jy gehoor het, sonder om sarkasties of aggressief te wees. Laat jou maat toe om jou reg te help as jy iets van wat gesê is, verkeerd verstaan het. Moenie al die praatwerk doen nie. Neem so beurte om te praat totdat julle albei voel dat julle die ander een se gedagtes en gevoelens oor die saak verstaan.

Dit verg weliswaar nederigheid en geduld om aandagtig na jou maat te luister en sy of haar mening te erken. Maar as jy die leiding daarin neem om sulke eer aan jou maat te betoon, sal jou maat meer geneig wees om jou te eer.—Matteus 7:2; Romeine 12:10.

PROBEER DIE VOLGENDE: Wanneer jy jou maat se kommentare herhaal, moet jy nie sy of haar presiese woorde gebruik nie. Probeer op ’n medelydende manier beskryf wat jy meen jou maat sê sowel as voel.—1 Petrus 3:8.

4. Besluit saam op ’n oplossing.

“Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle harde werk. Want as een van hulle val, kan die ander sy metgesel ophelp” (Prediker 4:9, 10). Min probleme in ’n huwelik kan opgelos word tensy albei maats saamwerk en mekaar ondersteun.

Dit is so dat Jehovah die man as hoof van die gesin aangestel het (1 Korintiërs 11:3; Efesiërs 5:23). Maar hoofskap beteken nie diktatorskap nie. ’n Verstandige man sal nie besluite neem sonder om met sy vrou daaroor te praat nie. David, wat al 20 jaar getroud is, sê: “Ek probeer om iets te vind waaroor ek en my vrou saamstem en om met ’n besluit vorendag te kom wat ons albei kan ondersteun.” Tanya, wat nou al sewe jaar getroud is, sê: “Dit gaan nie oor wie reg en wie verkeerd is nie. Soms is daar eenvoudig verskillende menings oor hoe om ’n probleem op te los. Ek het gevind dat die sleutel tot sukses is om buigsaam en redelik te wees.”

PROBEER DIE VOLGENDE: Skep ’n gees van spanwerk deurdat julle albei al die moontlike oplossings vir die probleem waaraan julle kan dink, neerskryf. Wanneer julle idees opraak, kan julle julle lys deurgaan en die oplossing gebruik wat vir julle albei aanvaarbaar is. Daarna kan julle ’n tyd in die nabye toekoms kies wanneer julle sal kyk of die besluit deurgevoer is en hoe suksesvol dit was.

Trek saam, nie afsonderlik nie

Jesus het die huwelik met ’n juk vergelyk (Matteus 19:6). In sy dag was ’n juk ’n houtstaaf waaronder twee diere saam ingespan is sodat hulle werk kon doen. As die diere nie saamgewerk het nie, het hulle nie veel uitgerig nie en het die juk hulle nekke geskaaf. As hulle saamgewerk het, kon hulle swaar vragte trek of ’n landery ploeg.

Net so kan die juk van die huwelik ’n man en vrou wat nie as ’n span saamwerk nie, as ’t ware skaaf. As hulle egter leer om saam te trek, kan hulle bykans enige probleem oplos en baie bereik. ’n Gelukkig getroude man met die naam Kalala som die saak so op: “Ek en my vrou los al 25 jaar lank ons probleme op deur openhartig te praat, ons in die ander een se plek te stel, vir Jehovah se hulp te bid en Bybelbeginsels toe te pas.” Kan jy dieselfde doen?

VRA JOU AF . . .

  • Watter probleem wil ek die graagste met my huweliksmaat bespreek?

  • Hoe kan ek seker maak dat ek verstaan hoe my maat werklik oor hierdie onderwerp voel?

  • Watter probleme kan ek skep as ek altyd daarop aandring om dinge op my manier te doen?

^ par. 17 Van die name is verander.