Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

3. Aanvaar hulp van ander

3. Aanvaar hulp van ander

Hoe jy die Bybel kan verstaan

3. Aanvaar hulp van ander

Toe die ontdekkingsreisiger Edward John Eyre oor die verlate Nullarborvlakte getrek het, het hy by die Aborigines geleer hoe om water uit sandduine en bloekombome te kry. Omdat Eyre hulp aanvaar het van diegene wat kennis van die land gehad het, het dit later sy lewe gered.

SOOS hierdie voorbeeld toelig, het ’n mens dikwels hulp van ’n meer ervare persoon nodig om ’n moeilike taak suksesvol te voltooi. Dieselfde geld wanneer jy die Bybel begin lees.

Jesus het nie van sy volgelinge verwag om die Bybel sonder die hulp van ander te verstaan nie. By een geleentheid “het hy hulle verstand ten volle geopen om die betekenis van die Skrif te begryp” (Lukas 24:45). Jesus het geweet dat Bybellesers hulp nodig het om skriftuurlike leringe te verstaan.

Hulp van wie?

Jesus het sy ware volgelinge die opdrag gegee om hierdie hulp te voorsien. Voor Jesus se hemelvaart het hy beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Christene se vernaamste werk behels onderrigting, wat insluit dat hulle verduidelik hoe Bybelbeginsels in die alledaagse lewe toegepas kan word. Ware Christene help ander om die Bybel te verstaan.

Nie lank nadat Jesus sy volgelinge hierdie opdrag gegee het nie, het iets baie interessants gebeur. Die Bybel vertel van ’n koninklike amptenaar van Etiopië wat ’n gedeelte van Jesaja se profesie gelees het. Hy het op ’n deel afgekom wat hy nie kon verstaan nie. Volgens die Bybelverslag lui die verwarrende verse soos volg: “Soos ’n skaap is hy gebring om geslag te word, en soos ’n lam wat stom is voor sy skeerder, so maak hy nie sy mond oop nie. Gedurende sy vernedering is die oordeel van hom weggeneem. Wie sal die besonderhede van sy geslag vertel? Want sy lewe word van die aarde weggeneem.”—Handelinge 8:32, 33; Jesaja 53:7, 8

Die amptenaar het Filippus, ’n ervare Christen wat goed vertroud was met die Skrif, gevra: “Van wie sê die profeet dit? Van homself of van iemand anders?” (Handelinge 8:34). Die opregte Etiopiër het reeds na Jerusalem gegaan om te aanbid, en hy het waarskynlik vir leiding gebid. Hy het blykbaar met ’n gretige, sagmoedige gesindheid gelees. Maar die amptenaar kon nog steeds nie hierdie gedeelte verstaan nie. Hy het Filippus nederig vir hulp gevra. Filippus se verduideliking het die man so bly gemaak dat hy self ’n Christen geword het.—Handelinge 8:35-39.

Jehovah se Getuies gaan voort met die werk wat Filippus en ander vroeë Christene gedoen het. In meer as 235 lande help die Getuies ander vrywillig om te verstaan wat die Bybel werklik leer. Hulle doen dit deur middel van ’n studie van Bybelonderwerpe. Hierdie progressiewe Bybelstudiemetode behels dat ’n mens ontleed wat die Bybel oor ’n spesifieke onderwerp sê. *—Sien die venster  “Bevredigende antwoorde op Bybelvrae”.

“Al my vrae is beantwoord”

Steven, Valvanera en Jo-Anne, wat in die eerste artikel aangehaal is, het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. “Deur eenvoudig ’n paar skriftuurlike beginsels of verslae te vergelyk, was ek dikwels verstom om te sien dat die waarheid omtrent ’n saak maar nog altyd daar was”, sê Steven. “Voordat ek die Bybel begin studeer het, het niemand my gewys hoe om dit te doen nie. Dit was ’n groot verligting om te weet dat die Bybel nie ’n eindelose kringloop van debatte en teenstrydige menings hoef te wees nie.”

Valvanera stem saam. “Alles was so samehangend en logies”, sê sy. “Dinge was waar, nie net omdat ‘die Kerk’ so sê nie, maar omdat daar ’n redelike verduideliking vir alles is.” Jo-Anne vertel: “Die feit dat al my vrae uit die Bybel beantwoord is, het my met ontsag vervul—’n diepe respek vir die Outeur daarvan—aangesien hy die versiendheid gehad het om ’n gepaste antwoord op enige vraag van mense te laat opteken.”

Ken jy een van Jehovah se Getuies? Vra hom of haar gerus om jou te wys hoe hierdie studieprogram gehou word. As jy nie een van Jehovah se Getuies persoonlik ken nie, kan jy na een van die adresse op bladsy 4 van hierdie tydskrif skryf. Met God se heilige gees, ’n oop gemoed en die persoonlike hulp van ’n bekwame Bybelonderrigter hoef God se Woord nie vir jou ’n geslote boek te wees nie. Jy kan die Bybel verstaan!

[Voetnoot]

^ par. 10 ’n Boek wat al baie mense gehelp het om ’n studie van Bybelonderwerpe te maak, is Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster/Prent op bladsy 8]

 Bevredigende antwoorde op Bybelvrae

Party van die onderwerpe wat deur Jehovah se Getuies in hulle Bybelstudieprogram bespreek word, is:

• Wat is God se voorneme met die aarde?

• Waar is die dooies?

• Lewe ons in “die laaste dae”?

• Waarom laat God lyding toe?

• Hoe kan ek my gesinslewe gelukkig maak?

[Prente op bladsy 7]

Om die Bybel te verstaan, . . . moet jy vir God se gees bid, met ’n oop gemoed lees, hulp van ander aanvaar