Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Noag se ark—Het hulle dit gevind?

Noag se ark—Het hulle dit gevind?

Noag se arkHet hulle dit gevind?

VAN tyd tot tyd is daar opwinding in die media oor die soektog na Noag se ark. Die opgewondenheid is te verstane. Daardie ontsaglike vaartuig waarin Noag en sy gesin die Vloed destyds in 2370-2369 v.G.J. oorleef het, sal beslis ’n merkwaardige argeologiese vonds wees. Maar ten spyte van vele pogings duur die soektog na Noag se ark voort. Daar is baie bespiegelings en sensasionele bewerings oor die ark, maar wat weet ons nou eintlik?

Die Bybel toon dat Noag se ark “op die Araratberge tot rus gekom” het (Genesis 8:4). Die Araratgebied sluit die opvallende piek in wat nou bekend is as die berg Ararat in Oos-Turkye, naby die grense van Armenië en Iran.

Tallose ekspedisies na hierdie gebied om na Noag se ark te soek, het gelei tot interessante bewerings, maar geen onweerlegbare bewyse nie. Interessante lugfoto’s, stukkies teerbedekte hout wat gevind is en berigte dat mense die ark gesien het, het aanleiding gegee tot die soektog na meer tasbare bewyse. Maar die soektog is moeilik. Een moontlike plek wat dikwels genoem word, is meer as 4 500 meter teen die hange van die berg Ararat op. Wat meer is, weens politieke spanning in die gebied verkry buitelandse ekspedisies nie altyd wettige toegang tot die berg nie.

Nietemin is baie ark-entoesiaste gretig om meer ekspedisies na die terrein te sien. Hulle meen dat dele van die ark wat nog heel is, op die sneeubedekte berg Ararat lê, waar dit die grootste gedeelte van die jaar deur sneeu en ys verberg word. Slegs in jare met warm somers, beweer hulle, sal daar enige hoop wees om die ark te sien en te bereik.

Hierdie verwagtinge is deur ’n aantal berigte lewendig gehou. Josefus, ’n Joodse geskiedskrywer van die eerste eeu G.J., verwys na verskeie vroeëre geskiedkundiges wat gesê het dat die ark nog steeds hoog op die Araratreeks sigbaar is. Daar is selfs beweer dat mense stukkies van die teerbedekte hout as aandenkings geneem het. Een van die manne wat deur Josefus aangehaal is, was Berossus, ’n Babiloniese kroniekskrywer van die derde eeu v.G.J.

In die afgelope eeu het ’n besonder interessante berig van ’n Armeense man, George Hagopian, gekom. Hy het vertel dat hy in die vroeë 1900’s die ark as ’n seuntjie saam met sy oom besoek het en selfs daarin rondgeklouter het. Hagopian is in 1972 oorlede, maar sy getuienis vervul baie mense nog steeds met opgewondenheid en verwondering.

’n Ware grondslag vir geloof?

Is daar werklik ’n grondslag om te glo dat ontdekkingsreisigers die ark al ontdek het of dit dalk nog sal doen? Miskien, maar dit lyk of daar selfs groter rede tot skeptisisme oor so ’n vonds is. Om maar een ding te noem, onthou dat die Bybel nie sê presies waar die ark tot rus gekom het toe die vloedwaters afgeneem het nie. Dit meld bloot “die Araratberge”.

Dit spreek vanself dat ontdekkingsreisigers en bespiegelaars die hoogste piek in die gebied sal uitsonder. Maar die Skrif sê nie uitdruklik dat God gereël het dat die ark tot rus kom op die hoogste deel van die berg Ararat, wat vandag ’n ysige en hoë bergpiek van sowat vyf kilometer bo seespieël is nie. * Onthou dat Noag en sy gesin ’n paar maande lank in die ark gewoon het nadat dit tot rus gekom het (Genesis 8:4, 5). Dit is ook onwaarskynlik dat hulle en al die diere, nadat hulle uit die ark gekom het, soos bergklimmers van ’n baie hoë piek sou moes afklim. Dalk was die terrein waar die ark tot rus gekom het, dus meer toeganklik as wat party hedendaagse ontdekkingsreisigers dink, maar nogtans hoog genoeg om aan die beskrywing in Genesis 8:4, 5 te beantwoord. En sou die ark, ongeag waar dit in die Araratgebied tot rus gekom het, nie al eeue gelede verdwyn het weens verrotting en plundering nie?

Verder kan die bewerings wat beriggewers soms oor die godsdienstige belang van hulle ekspedisies maak, bevraagteken word. Die organiseerder van een ekspedisie het beweer dat die ontdekking van die ark “die geloof van miljoene sal versterk . . . en baie mense gelowig sal laat word”. By ’n nuuskonferensie in 2004 het hy gesê dat die ontdekking van die ark “die grootste gebeurtenis sedert die opstanding van Christus” sal wees. Sy ekspedisie is later gekanselleer.

Sal die ontdekking van Noag se ark werklik mense se geloof versterk en selfs geloof voortbring? Die Bybel toon dat ware geloof nie afhanklik is van voorwerpe wat ons kan sien en aanraak nie (2 Korintiërs 5:7). Party mense is so skepties dat hulle volhou dat slegs fisiese bewyse hulle sal help om geloof in sekere Bybelverslae te stel. Die feit is egter dat sulke persone, ongeag hoeveel bewyse daar is, nie geloof sal openbaar nie. Jesus self het gesê dat party mense eenvoudig nie van geestelike waarhede oortuig kan word nie—selfs al sien hulle iemand uit die dode opstaan!—Lukas 16:31.

Daarteenoor is ware geloof nie goedgelowigheid nie; dit berus op gegronde bewyse (Hebreërs 11:1). Is daar gegronde bewyse wat redelike mense vandag kan help om geloof in die Bybelverslag oor die Vloed te stel? Ja, daar is. Jesus Christus het eenvoudig gesê: ‘Noag het in die ark ingegaan, en die vloed het gekom’ (Lukas 17:26, 27). Dit is die beste bewys wat daar is. Waarom?

Jesus was in die hemel voordat hy na die aarde toe gekom het (Johannes 8:58). Hy het toegekyk terwyl die ark gebou is; hy het die Vloed gesien. Wel, watter bewyse klink vir jou die oortuigendste? Die werklike ooggetuienis van Iemand wat volkome betroubaar is en wat bewys het dat hy die Seun van God is? Of die skrale moontlikheid dat ontdekkingsreisigers ou stukke hout op ’n bevrore bergtop sal kry? Wanneer ’n mens dit vanuit hierdie oogpunt beskou, is daar reeds oorweldigende bewyse dat Noag se ark bestaan het.

[Voetnoot]

^ par. 10 Die berg wat vandag die berg Ararat genoem word, is ’n vulkaan wat sedert 1840 onaktief is. Dit is 5 165 meter hoog en is heeljaar met sneeu bedek.

[Lokteks op bladsy 13]

Is daar gegronde bewyse wat die Bybelverslag oor die Vloed staaf?

[Lokteks op bladsy 14]

Jesus Christus het eenvoudig gesê: ‘Noag het in die ark ingegaan, en die vloed het gekom’