Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is alle godsdienste goed?

Is alle godsdienste goed?

ONS lewe in ’n wêreld waarin daar ’n ongelooflike verskeidenheid godsdienste is. Een onlangse opname het wêreldwyd 19 vername gelowe, asook sowat 10 000 kleiner godsdienste, geïdentifiseer. Hierdie verskeidenheid bied mense meer godsdienskeuses as ooit tevore. Maak dit dan saak watter godsdiens jy kies?

Party mense sê dat verskillende godsdienste soos verskillende paaie is wat teen ’n berg op loop. Vir hulle maak dit nie saak watter pad hulle kies nie, aangesien alle paaie na dieselfde plek toe lei. Hulle redeneer dat daar net een almagtige God is en dat alle godsdienste dus uiteindelik na hom toe lei.

Lei alle paaie na God toe?

Wat het Jesus Christus, een van die mees gerespekteerde godsdiensonderrigters in die geskiedenis, oor hierdie onderwerp gesê? “Gaan in deur die nou poort”, het hy vir sy dissipels gesê. Waarom? “Want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”—Matteus 7:13, 14, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

Het Jesus werklik bedoel dat sommige godsdienste “na die verderf” lei? Of het hy geleer dat net ongelowiges op die breë pad is, terwyl dié wat in God glo—ongeag hulle godsdiens—op die smal pad na die lewe is?

Onmiddellik nadat Jesus gesê het dat daar net twee paaie is, het hy gewaarsku: “Pas op vir valse profete. Hulle kom na julle toe en lyk saggeaard soos skape, maar hulle is in werklikheid gevaarlik soos wolwe” (Matteus 7:15, New Century Version). Later het hy gesê: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader  wat in die hemel is” (Matteus 7:21, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). As iemand ’n profeet genoem word of sê dat Jesus sy “Here” is, is dit redelik om te sê dat hy ’n godsdienstige persoon is, nie ’n ongelowige nie. Dit is dus duidelik dat Jesus gewaarsku het dat nie alle godsdienste goed is nie en nie alle godsdiensonderrigters vertrou moet word nie.

Is dit moontlik om die smal pad te identifiseer?

Die Bybel is soos ’n betroubare padkaart wat ’n mens kan help om die regte godsdiensweg te vind

Aangesien nie alle paaie na God toe lei nie, hoe kan jy tussen al die duisende opsies die smal pad na die lewe vind? Beskou die volgende illustrasie: Gestel jy het in ’n groot stad verdwaal. Jy besluit om hulp te vra. Een persoon sê vol vertroue vir jou om oos te gaan. ’n Ander spoor jou aan om wes te gaan. Nog een stel voor dat jy die rigting kies wat jy dink die beste is. Uiteindelik haal ’n medereisiger ’n betroubare kaart uit en wys jou die regte roete. Dan gee hy jou die kaart sodat jy op pad weer daarna kan kyk. Sou jy nie meer vertroue hê dat jy jou bestemming sal bereik nie?

Net so het ons ’n betroubare geestelike padkaart nodig wanneer ons die regte godsdiensweg probeer vind. Bestaan so ’n padkaart? Ja. Daardie kaart is die Bybel, wat sê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek.”—2 Timoteus 3:16, NAB.

Daar is waarskynlik ’n Bybelvertaling in jou taal wat jy as ’n geestelike padkaart kan gebruik. Jehovah se Getuies, die uitgewers van hierdie tydskrif, gee ’n betroubare Bybelvertaling uit wat bekend staan as die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif. Maar as jy nie een van Jehovah se Getuies is nie, verkies jy moontlik om ander vertalings te gebruik wanneer jy ondersoek instel na hoe ’n mens goeie en slegte godsdiens kan identifiseer. Hierdie reeks artikels haal dus uit ’n aantal Bybelvertalings aan wat deur baie ander godsdienste gerespekteer word.

Vergelyk wat jy weet met wat die Bybel sê terwyl jy die volgende artikels lees. Hou Jesus se woorde in gedagte oor hoe ons goeie godsdiens van slegte godsdiens kan onderskei. Hy het gesê: “So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom ook geen goeie vrugte nie” (Matteus 7:17, 18, OAB). Kyk na net drie van die goeie vrugte wat volgens die Bybel die “goeie boom” sou identifiseer.