Waarom doen mense slegte dinge?
Waarom doen mense slegte dinge?
DAAR is een ding waaroor min mense sal stry: Ons is almal onvolmaak, en daarom maak ons foute en doen ons dinge waaroor ons later spyt is. Maar verklaar dit die talle slegte dade, groot sowel as klein, wat ons byna elke dag sien of van hoor, hetsy persoonlik of in die media?
Ten spyte van menslike onvolmaaktheid erken mense oor die algemeen dat daar sedelike perke is wat nooit oorskry moet word nie en dat mense die vermoë het om hulle van bose dade te onthou. Die meeste sal ook geredelik erken dat daar ’n verskil is tussen om onopsetlik ’n leuen te vertel en doelbewus te laster, tussen om iemand per ongeluk te beseer en met voorbedagte rade moord te pleeg. Nietemin word skokkende dade dikwels deur skynbaar gewone mense in die buurt gepleeg. Waarom? Waarom doen mense slegte dinge?
Die Bybel werp lig op hierdie onderwerp. Dit identifiseer met juistheid belangrike redes waarom mense optree op maniere wat hulle weet sleg is. Kom ons kyk wat dit sê.
▪ “Verdrukking kan ’n wyse waansinnig laat optree.”—PREDIKER 7:7.
Die Bybel erken dat mense soms voel dat hulle omstandighede hulle dwing om dinge te doen wat hulle andersins nie sou nie. Party pleeg selfs misdade in ’n poging om teweeg te bring wat hulle beskou as oplossings vir ontberinge en onregte. “In baie gevalle”, sê die boek Urban Terrorism, “is ’n terroris se belangrikste beweegrede ’n ware frustrasie met die skynbaar onveranderbare politieke, maatskaplike en ekonomiese magte.”
▪ “Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande boosheid.”—1 TIMOTEUS 6:10, AMERICAN STANDARD VERSION.
Die ou spreekwoord: Elke man het sy prys, gee te kenne dat selfs goeie mense bereid is om die reëls van welvoeglikheid en sedelikheid te verbreek wanneer daar genoeg geld by betrokke is. Party mense wat onder normale omstandighede gaaf en vriendelik voorkom, ondergaan blykbaar ’n persoonlikheidsverandering wanneer geld op die spel is en verander in aanstootlike en boosaardige karakters. Dink aan al die misdade wat uit gierigheid voortspruit—afpersing, bedrog, ontvoering en selfs moord.
▪ “Omdat die vonnis oor ’n slegte werk nie gou voltrek is nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle volkome daarop gerig om kwaad te doen.”—PREDIKER 8:11.
Hierdie teks wys op die menslike neiging om te dink dat ’n mens enigiets kan doen en skotvry daarvan kan afkom solank persone in gesagsposisies dit nie sien nie. Dit is die geval met mense wat te vinnig ry, in eksamens kul, openbare fondse verduister en selfs erger dinge doen. Wanneer die wet nie streng toegepas word of mense nie bang is dat hulle gevang sal word nie, kan persone wat gewoonlik wetsgehoorsaam is, voel dat hulle maar dinge kan doen wat hulle andersins nie sou nie. “Die feit dat misdadigers dikwels ongestraf bly”, sê die tydskrif Arguments and Facts, “beweeg gewone burgers blykbaar om die gruwelikste misdade te pleeg.”
▪ “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word. Daarna, wanneer die begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde.”—JAKOBUS 1:14, 15.
Alle mense is geneig om verkeerde dinge te dink. Ons word elke dag gebombardeer met tallose voorstelle en versoekings om verkeerde dinge te doen. In Bybeltye is daar vir Christene gesê: “Geen versoeking het oor julle gekom nie, behalwe wat eie is aan mense” (1 Korintiërs 10:13). Die resultaat hang nietemin af van die keuse wat ’n mens maak—om die slegte gedagte gou te verwerp of om daaroor te bly dink en dit te laat groei. Die teks hierbo uit die geïnspireerde brief van Jakobus waarsku dat dit beslis tot slegte dade sal lei as ’n mens toelaat dat die verkeerde begeerte ‘vrugbaar word’.
▪ “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan.”—Die invloed wat ons metgeselle op ons kan hê—ten goede of ten kwade—kan nie oorbeklemtoon word nie. Mense doen so dikwels dinge wat hulle glad nie van plan was om te doen nie—alles weens portuurdruk of omdat hulle met slegte vriende deurmekaar geraak het, met rampspoedige gevolge. In Bybeltaal verwys “sotte” nie na mense wat nie intelligent is nie, maar na mense wat die wyse raad uit God se Woord ignoreer. As ons, of ons nou jonk of oud is, nie ons vriende en metgeselle verstandig kies nie, dit wil sê volgens die goeie standaarde van die Bybel, kan ons verwag dat dit met ons sal “sleg gaan”.
Hierdie en baie ander verse in die Bybel toon duidelik waarom mense—miskien andersins doodgewone mense—slegte, selfs skokkende, dinge doen. Dit is weliswaar nuttig om te verstaan wat mense beweeg om verskriklike dinge te doen, maar is daar hoop dat dinge ten goede sal verander? Ja, want die Bybel verduidelik nie net waarom mense bose dade pleeg nie, maar belowe ook dat sulke dade nie meer daar sal wees nie. Wat is hierdie beloftes? Sal alle slegte dinge in die wêreld werklik tot ’n einde kom? Die volgende artikel voorsien die antwoorde.