Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sleutels tot gesinsgeluk

Wanneer jou adolessent jou geloof bevraagteken

Wanneer jou adolessent jou geloof bevraagteken

Baie jongmense besluit om hulle ouers se godsdiens aan te neem wanneer hulle volwasse begin word (2 Timoteus 3:14). Maar party doen dit nie. Wat kan jy doen as jou adolessent jou geloof begin bevraagteken? Hierdie artikel sal bespreek hoe Jehovah se Getuies hierdie uitdaging hanteer.

“Ek wil nie meer aan my ouers se godsdiens behoort nie. Ek wil eerder net tou opgooi.”—Cora, 18. *

JY IS daarvan oortuig dat jou godsdiens die waarheid omtrent God leer. Jy glo dat die Bybel die beste lewenswyse bevorder. Daarom is dit net natuurlik dat jy jou waardes by jou kind probeer inskerp (Deuteronomium 6:6, 7). Maar sê nou jou kind verloor belangstelling in geestelike dinge namate hy grootword? * Sê nou hy begin die einste geloof bevraagteken wat hy as kind skynbaar gretig aangeneem het?—Galasiërs 5:7.

As dit gebeur, moet jy nie dink dat jy as ’n Christenouer misluk het nie. Daar is dalk ander faktore wat ook ’n rol speel, soos ons sal sien. Maar een ding is seker: Hoe jy jou adolessent se vrae hanteer, sal heel moontlik bepaal of hy jou geloof sal aanneem of sal verwerp. As jy weens hierdie situasie oorlog teen jou adolessent verklaar, moet jy jou gereedmaak vir ’n moeilike stryd—’n stryd wat jy heel waarskynlik gaan verloor.—Kolossense 3:21.

Dit is baie beter om op die apostel Paulus se vermaning ag te slaan. “’n Slaaf van die Here hoef nie te stry nie,” het hy geskryf, “maar moet teer wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig, iemand wat hom . . . in bedwang hou” (2 Timoteus 2:24). Hoe kan jy toon dat jy “bekwaam [is] om te onderrig” as jou adolessent jou geloof bevraagteken?

Lê onderskeidingsvermoë aan die dag

Eerstens moet jy probeer onderskei watter faktore dalk tot jou adolessent se beskouing bydra. Byvoorbeeld:

  • Voel hy eensaam in die Christengemeente, dat hy nie vriende daar het nie? “Omdat ek vriende wou hê, het ek maats gemaak met ’n paar kinders by die skool, en dit het my geestelike groei jare lank belemmer. Ek het amper alle belangstelling in geestelike dinge verloor weens slegte assosiasie, en nou is daar baie dinge waaroor ek spyt is.”—Lenore, 19.

  • Het hy ’n gebrek aan selfvertroue wat dit vir hom moeilik maak om oor sy geloof te praat? “Toe ek op skool was, het ek gehuiwer om met my klasmaats oor my oortuigings te praat. Ek was bang dat hulle sou dink dat ek ‘weird’ is of my as ’n ‘predikantjie’ sou beskou. Al die kinders wat anders was, is uitgesluit, en ek wou nie hê dat dit met my moes gebeur nie.”—Ramón, 23.

  • Voel hy oorweldig deur die verantwoordelikheid om volgens Christelike standaarde te lewe? “Dit voel vir my of die Bybel se belofte van ewige lewe bo-aan ’n groot stel trappe is, en ek is nog nie eers op die eerste trap nie; ek is nog lank nie daar nie. Ek is so bang om die trap te begin klim dat ek dit oorweeg het om my geloof prys te gee.”—Renee, 16.

Praat daaroor

Wat is die onderliggende probleem waarmee jou adolessent moontlik worstel? Die beste manier om uit te vind, is om hom te vra! Maar wees versigtig dat die bespreking nie in ’n argument ontaard nie. Volg eerder die raad in Jakobus 1:19: “Wees [gou] om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.” Wees geduldig met hom. Lê “alle lankmoedigheid” aan die dag en gebruik die “onderrigkuns”, net soos jy sal doen wanneer jy met iemand buite die gesin praat.—2 Timoteus 4:2.

As jou adolessent byvoorbeeld nie Christelike vergaderinge wil bywoon nie, moet jy probeer uitvind of iets anders hom pla. Maar wees geduldig terwyl jy dit doen. Die ouer in die volgende scenario bereik bitter min.

Seun: Ek geniet dit net nie meer om vergaderinge toe te gaan nie.

Vader: [Baie ontsteld] Hoe bedoel jy jy geniet dit nie?

Seun: Dis net so vervelig!

Vader: Is dit hoe jy oor God voel? Dink jy hy is vervelig? Wel, jy’t nie ’n keuse nie! Solank as wat jy onder my dak woon, gaan jy saam met ons—of jy nou daarvan hou of nie!

God verwag dat ouers hulle kinders van hom moet leer en dat kinders hulle ouers moet gehoorsaam (Efesiërs 6:1). Maar jy wil nie hê dat jou kind jou geestelike roetine net blindelings moet volg en teësinnig saam met jou na Christelike vergaderinge moet gaan nie. As dit hoegenaamd moontlik is, wil jy hê dat sy hart en verstand ook daar moet wees.

Jy staan ’n beter kans om dit reg te kry as jy enige onderliggende probleem identifiseer wat dalk tot sy gesindheid bydra. Met dit in gedagte, kyk na hoe die gesprek hierbo doeltreffender hanteer kon word.

Seun: Ek geniet dit net nie meer om vergaderinge toe te gaan nie.

Vader: [kalm] Hoekom voel jy so?

Seun: Dis net so vervelig!

Vader: Dit kan nogal vervelig wees om ’n uur of twee stil te sit. Hoekom dink jy is dit vir jou so vervelig?

Seun: Ek weet nie eintlik nie. Ek sou eerder net êrens anders wou wees.

Vader: Is dit hoe jou vriende voel?

Seun: Wel, dis juis die probleem! Ek het nie vriende nie—ten minste nie meer nie. Vandat my beste vriend weggetrek het, voel dit vir my of daar niemand is met wie ek kan praat nie! Almal behalwe ek het pret. Ek voel so uitgesluit!

Deur die adolessent te kry om te sê hoe hy voel, identifiseer die vader in die scenario hierbo nie net die onderliggende probleem nie—in hierdie geval eensaamheid—maar bou hy ook vertroue op, en sodoende hou hy die kommunikasiekanaal oop vir verdere besprekings.—Sien die bygaande venster  “Wees geduldig!”

Met verloop van tyd leer talle jongmense dat hulle gewoonlik beter oor hulleself en hulle geloof voel as hulle die probleem wat hulle geestelike groei belemmer, oorkom. Kyk na die voorbeeld van Ramón, die jong man wat vroeër aangehaal is en bang was om hom as ’n Christen by die skool te identifiseer. Uiteindelik het Ramón gevind dat dit nie so erg was as wat hy gedink het om oor sy geloof te praat nie—selfs wanneer hy daaroor bespot is. Hy vertel:

“Eenkeer het ’n seun by die skool my oor my geloof gespot. Ek het baie senuweeagtig geword, en ek het besef dat die hele klas na ons luister. Toe het ek besluit om die bordjies te verhang en hom oor sy geloof te vra. Tot my verbasing was hy selfs senuweeagtiger as ek! Toe het ek besef dat talle jongmense godsdiensoortuigings het, maar dit nie verstaan nie. Ten minste kan ek my oortuigings verduidelik. My klasmaats behoort eintlik ongemaklik te voel wanneer hulle oor geloofsake praat—nie ek nie!”

PROBEER DIE VOLGENDE: Moedig jou adolessent aan om sy gedagtes uit te spreek deur hom te vra hoe hy daaroor voel om ’n Christen te wees. Wat dink hy is die voordele? Wat is die opofferings? Oortref die voordele die opofferings? Indien wel, hoe? (Markus 10:29, 30). Jou adolessent kan sy gedagtes in twee kolomme neerskryf—die opofferings in die linkerkantste een en die voordele in die regterkantste een. As jou adolessent sy gedagtes op papier sien, sal dit hom dalk help om sy probleem te identifiseer en ’n oplossing te vind.

Jou adolessent se “denkvermoë”

Ouers en deskundiges het al opgemerk dat daar ’n groot verskil is tussen die manier waarop jong kinders dink en die manier waarop adolessente dink (1 Korintiërs 13:11). Terwyl klein kindertjies dinge gewoonlik as konkreet, as swart en wit, beskou, is adolessente geneig om meer abstrak oor dinge te redeneer. Byvoorbeeld, ’n jong kind kan geleer word dat God alles geskep het (Genesis 1:1). Maar ’n adolessent sal dalk worstel met vrae soos: ‘Hoe weet ek dat daar ’n God is? Waarom sou ’n God van liefde boosheid toelaat? Hoe is dit moontlik dat God nog altyd bestaan het?’—Psalm 90:2.

Jy meen dalk dat sulke vrae toon dat jou adolessent se geloof agteruitgegaan het. In werklikheid verteenwoordig dit heel moontlik vooruitgang in sy geloof. Om vrae te vra, kan immers ’n belangrike aspek van ’n Christen se geestelike groei wees.—Handelinge 17:2, 3.

Daarbenewens leer jou adolessent om sy “denkvermoë” te gebruik (Romeine 12:1, 2). Gevolglik kan hy “die breedte en lengte en hoogte en diepte” van die Christelike geloof begryp op ’n manier wat hy eenvoudig nie as kind kon begryp nie (Efesiërs 3:18). Dit is nou belangriker as ooit tevore om jou adolessent te help om te redeneer oor wat hy glo, sodat hy vaste oortuigings in verband met sy geloof kan ontwikkel.—Spreuke 14:15; Handelinge 17:11.

PROBEER DIE VOLGENDE: Hersien basiese opvattings met jou adolessent, onderwerpe wat jy—en hy—dalk as vanselfsprekend aangeneem het. Moedig hom byvoorbeeld aan om na te dink oor vrae soos: ‘Wat oortuig my dat daar ’n God is? Watter bewyse sien ek wat toon dat God vir my omgee? Waarom dink ek dat dit altyd tot my voordeel is om God se wette te gehoorsaam?’ Wees versigtig om nie jou beskouings op jou adolessent af te dwing nie. Help hom eerder om sy eie oortuigings te ontwikkel. Sodoende sal hy dit makliker vind om vertroue in sy geloof op te bou.

‘Oortuig om te glo’

Die Bybel praat van die jong man Timoteus wat “van kleintyd af” die heilige geskrifte geken het. Nietemin het die apostel Paulus Timoteus aangespoor: “Bly jy egter in die dinge wat jy geleer het en oortuig is om te glo” (2 Timoteus 3:14, 15). Soos Timoteus is jou adolessent dalk van geboorte af Bybelstandaarde geleer. Maar nou moet jy hom oortuig sodat hy daardie standaarde sy eie kan maak.

Die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1, sê: “Solank jou tiener onder jou dak is, het jy die reg om te verwag dat hy of sy ’n geestelike roetine volg. Maar jou einddoel is om liefde vir God in jou tiener te kweek—sodat hy of sy God uit die hart sal dien, en nie net werktuiglik nie.” Deur daardie doel in gedagte te hou, kan jy jou adolessent help om “vas in die geloof” te word sodat dit sy lewenswyse word—nie net joune nie. *1 Petrus 5:9.

^ par. 4 Name in hierdie artikel is verander.

^ par. 5 Ter wille van eenvoud verwys ons in hierdie artikel na die adolessent in die manlike geslag. Maar die beginsels wat bespreek word, is op albei geslagte van toepassing.

^ par. 40 Vir meer inligting, sien Die Wagtoring van 1 Mei 2009, bladsye 10-12, en Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1, bladsye 315-318.

VRA JOU AF . . .

  • Hoe reageer ek wanneer my kind my oortuigings bevraagteken?

  • Hoe kan ek die materiaal in hierdie artikel gebruik om my reaksie te verbeter?