Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy kan ’n suksesvolle toekoms kies—Hoe?

Jy kan ’n suksesvolle toekoms kies—Hoe?

Jy kan ’n suksesvolle toekoms kies—Hoe?

HOE kan jy ware sukses in die lewe behaal? Een manier is om gebruik te maak van die merkwaardige vermoë wat jy het om na te dink oor die moontlike langtermyngevolge van die besluite wat jy nou neem.

Toegegee, jy vind dit dalk moeilik om besluite te neem wat tot jou blywende welsyn sal bydra. Waarom? Want so baie mense lewe vandag volgens die ‘kry dit nou’-filosofie. Byvoorbeeld, jy besef dalk dat dit jou sal help om sterk gesinsbande op te bou as jy Bybelraad toepas (Efesiërs 5:22–6:4). Maar dit sal vereis dat jy gereeld tyd saam met jou gesin deurbring terwyl jy die druk weerstaan om te betrokke te raak by werk, ontspanning of vermaak. Soos in so baie aspekte van die lewe, moet jy kies tussen korttermynbevrediging en langtermynsukses. Waar kan jy die nodige krag vind om ’n wyse weg te kies? Die volgende vier stappe sal jou help.

1 Stel jou die gevolge van jou besluite voor

Wanneer jy ’n besluit moet neem, stel jou die gevolge so realisties as moontlik voor. Die Bybel sê: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het” (Spreuke 22:3). As jy eerlik nadink oor die gevolge, sal jy waarskynlik gemotiveerd wees om ’n weg te vermy wat moontlik nadelig kan wees. As jy aan die anderkant jou die langtermynvoordele van ’n wyse besluit voorstel, kan dit jou meer vasbeslote maak om op te tree.

Vra jou af: ‘Wat sal die gevolge van my besluit oor ’n jaar of selfs 10 of 20 jaar van nou af wees? Watter uitwerking sal dit op my emosionele en fisiese gesondheid hê? Hoe sal my besluit my gesin en ander vir wie ek omgee, raak?’ Nog belangriker: ‘Sal my besluit God se goedkeuring wegdra? Hoe sal dit my vriendskap met hom raak?’ Aangesien die Bybel deur God geïnspireer is, kan dit jou help om vas te stel wat sy goedkeuring sal wegdra en strikke onder jou aandag bring waarvan jy andersins nie bewus sou wees nie.—Spreuke 14:12; 2 Timoteus 3:16.

2 Ondersoek self die opsies

Baie mense neem nie hulle eie besluite nie, maar doen bloot wat ander doen. Maar die feit dat ’n sekere weg gewild is, beteken nie dat dit tot sukses sal lei nie. Ondersoek self die opsies. Neem die voorbeeld van Natalie. * Sy sê: “Ek wou ’n gelukkige huwelik hê. Maar ek het besef dat my lewenswyse dit nie vir my moontlik sou maak nie. Al my vriende op universiteit was baie intelligente jongmense. En tog het hulle herhaaldelik slegte besluite in hulle persoonlike lewe geneem. Hulle het nooit baie lank dieselfde kêrel of meisie gehad nie. Soos hulle, het ek ook al etlike kêrels gehad. Hierdie lewenswyse het tot baie emosionele pyn gelei.”

Natalie het die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer. Sy sê: “Ek het gelukkige jongmense en sterk huwelike onder die Getuies gesien. Hoewel dit nie vir my maklik was nie, het ek my waardes en lewenswyse geleidelik verander.” Wat was die gevolg? “Ek wou nog altyd met iemand trou vir wie ek groot bewondering het”, sê Natalie. “Mettertyd het ek met ’n man getrou wat dieselfde godsdiensoortuigings as ek het. Ek voel dat God my ’n beter gesinslewe gegee het as wat ek my ooit kon voorstel.”

3 Dink aan die langtermyngevolge

Om ’n korttermynbeskouing van dinge te vermy, moet jy ook presies weet watter soort toekoms jy wil hê en hoe jy te werk sal gaan om dit ’n werklikheid te maak (Spreuke 21:5). Moenie net dink aan die 70 of 80 jaar wat mense vandag lewe nie. Stel jou eerder voor hoe jy die ewige toekoms geniet wat die Bybel beskryf.

Die Bybel verduidelik dat God deur middel van die losprysofferande van Christus Jesus dit vir mense moontlik gemaak het om die ewige lewe te verkry (Matteus 20:28; Romeine 6:23). God belowe dat sy oorspronklike voorneme met die mensdom en die aarde binnekort vervul sal word. Diegene wat God liefhet, sal die geleentheid hê om vir ewig op ’n pragtige, herstelde aarde te lewe (Psalm 37:11; Openbaring 21:3-5). Jy kan daardie toekoms geniet as jy aan die langtermyngevolge van jou besluite dink.

4 Span jou in om jou doelwitte te bereik

Wat kan jy doen om deel te hê aan daardie beloofde toekoms? Begin deur kennis van God in te neem (Johannes 17:3). Juiste Bybelkennis sal jou vertroue versterk dat God se beloftes vir die toekoms bewaarheid sal word. Sulke geloof kan jou die krag gee om enige verandering te maak wat nodig is om God se goedkeuring te verkry.

Kyk na Michael se ondervinding. Hy vertel: “Ek het op 12-jarige ouderdom alkohol en dwelms begin misbruik. Ek was deel van ’n bende en het verwag om te sterf voordat ek 30 is. Die woede en frustrasie wat ek ervaar het, het daartoe gelei dat ek ’n hele paar keer selfmoord probeer pleeg het. Ek het gehoop dat daar groter sin in die lewe is, maar ek kon dit eenvoudig nie vind nie.” Terwyl Michael op hoërskool was, het ’n mede-bendelid die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer. Michael het ook tot ’n studie ingestem.

Die dinge wat Michael uit die Bybel geleer het, het verander hoe hy hom sy toekoms voorstel. “Ek het geleer dat die aarde in die toekoms tot ’n paradys herstel sal word en dat mense in vrede sal lewe en nie meer angs sal ervaar nie. Ek het dit as my toekoms begin beskou. Dit het my doelwit geword om ’n goeie vriendskap met Jehovah aan te kweek. Maar dit was nie altyd maklik nie. Selfs nadat ek die Bybel begin studeer het, het ek ’n paar keer dronk geword. En ek het by ’n meisie betrokke geraak.”

Wat het Michael in staat gestel om terugslae te oorkom en sy lewenswyse te verander? Hy sê: “My Bybelonderrigter het my aangespoor om die Bybel elke dag te lees en om met ander te assosieer wat God wil behaag. Ek het besef dat my bendevriende nog steeds ’n invloed op my het. Al was hulle soos my familie, het ek alle bande met hulle verbreek.”

Michael het korttermyndoelwitte en prioriteite gestel wat hom gehelp het om sy groter doelwit te bereik, naamlik om sy lewe in ooreenstemming met God se standaarde te bring. Jy kan dit ook doen. Skryf jou langtermyndoelwitte neer sowel as die stappe wat jou sal help om dit te bereik. Praat oor jou doelwitte met mense wat jou sal ondersteun en vra hulle om jou te help om jou vooruitgang te monitor.

Dit is belangrik dat jy sonder versuim van God leer en sy leiding in jou lewe volg. Doen nou stappe om jou liefde vir God en sy Woord, die Bybel, te vergroot. God se Woord sê die volgende oor iemand wat Bybelbeginsels toepas: “Alles wat hy doen, sal suksesvol wees.”—Psalm 1:1-3.

[Voetnoot]

^ par. 8 Name in hierdie artikel is verander.