Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer uit God se Woord

Wat sal tydens die Oordeelsdag gebeur?

Wat sal tydens die Oordeelsdag gebeur?

Hierdie artikel bespreek vrae wat jy dalk al geopper het en toon waar jy die antwoorde in jou Bybel kan vind. Jehovah se Getuies sal graag hierdie antwoorde met jou bespreek.

1. Wat is die Oordeelsdag?

Soos uitgebeeld word in die meegaande prent, dink baie mense dat miljarde siele op die Oordeelsdag voor God se troon gebring sal word om op grond van hulle vorige dade geoordeel te word—volgens hulle sal party met lewe in die hemel beloon word en sal ander in die hel gepynig word. Die Bybel toon egter dat die doel van die Oordeelsdag is om mense te red van ongeregtigheid (Psalm 96:13). God het Jesus as Regter aangestel om geregtigheid te herstel ten behoewe van die mensdom.—Lees Jesaja 11:1-5; Handelinge 17:31.

2. Hoe sal die Oordeelsdag geregtigheid herstel?

Toe die eerste mens, Adam, opsetlik teen God in opstand gekom het, het hy al sy nakomelinge aan sonde, lyding en die dood onderwerp (Romeine 5:12). Om hierdie onreg reg te stel, sal Jesus miljarde mense uit die dood opwek. Die boek Openbaring toon dat dit gedurende die duisendjarige heerskappy van Christus Jesus sal plaasvind.—Lees Openbaring 20:4, 11, 12.

Diegene wat opgewek is, sal nie geoordeel word op grond van wat hulle gedoen het voor hulle gesterf het nie, maar op grond van wat hulle doen wanneer die inhoud van die “boekrolle” waarvan Openbaring hoofstuk 20 praat, geopenbaar word (Romeine 6:7). Onder diegene wat weer sal lewe en die geleentheid sal hê om oor God te leer, is “die regverdiges sowel as die onregverdiges”, het die apostel Paulus gesê.—Lees Handelinge 24:15.

3. Wat sal deur die Oordeelsdag bereik word?

Diegene wat gesterf het sonder dat hulle Jehovah God ooit leer ken en gedien het, sal die geleentheid hê om hulle weë te verander en goed te doen. As hulle dít doen, sal hulle opstanding “’n opstanding van die lewe” wees. Maar party van diegene wat opgewek is, sal nie Jehovah se weë wil volg nie. Hulle opstanding sal “’n opstanding van oordeel” wees.—Lees Johannes 5:28, 29; Jesaja 26:10; 65:20.

Teen die einde van die duisend jaar lange Oordeelsdag, sou Jehovah die gehoorsame mensdom tot sy oorspronklike volmaakte toestand herstel het (1 Korintiërs 15:24-28). Wat ’n wonderlike vooruitsig is dit tog vir alle gehoorsames! In ’n finale toets sal God Satan die Duiwel uit die afgrond loslaat, waar hy duisend jaar lank gevange gehou is. Satan sal dan weer probeer om mense van Jehovah weg te keer; diegene wat Satan egter weerstaan, sal die ewige lewe op aarde geniet.—Lees Jesaja 25:8; Openbaring 20:7-9.

4. By watter ander oordeelsdag sal die mensdom baat vind?

Die Bybel gebruik ook die woord “oordeelsdag” om te verwys na die gebeurtenis wat die teenswoordige stelsel van dinge tot ’n einde sal bring. Hierdie oordeelsdag sal so skielik soos die Vloed van Noag se dag kom, wat ’n hele goddelose geslag uitgewis het. Hoe bly kan ons tog wees dat die vinnig naderende vernietiging van “goddelose mense” die weg sal baan vir ’n nuwe aardse gemeenskap waarin ‘regverdigheid sal woon’.—Lees 2 Petrus 3:6, 7, 13.