Leer jou kinders
Jotam het getrou gebly ten spyte van probleme by die huis
WANNEER ’n ouer ophou om die ware God, Jehovah, te dien, kan dit die lewe moeilik maak vir ’n kind. Kom ons praat oor Jotam. Ons gaan uitvind watter probleme hy by die huis ondervind het terwyl hy grootgeword het.
Jotam se pa, Ussia, was die koning van Juda. Hy was die magtigste man in die land. Ussia was baie jare lank ’n goeie koning, selfs nog voordat Jotam gebore is. Maar later, toe Jotam nog jonk was, het Ussia trots geword en God se Wet verbreek. Daarom het God hom met melaatsheid, ’n vreeslike siekte, getref. Weet jy wat Jotam toe gedoen het?— *
Jotam het eenvoudig aangehou om Jehovah te dien. Miskien het sy ma, Jerusa, hom gehelp. Maar miskien was dit vir Jotam moeilik om getrou te bly aan Jehovah nadat sy pa, Ussia, nie meer in Jehovah se huis toegelaat is nie.
Sê nou jou pa of ma hou op om Jehovah te aanbid? Dit sal vir jou baie moeilik wees, of hoe?— Maar dit is nie verkeerd om oor so iets te dink nie. Ons kan dit sien uit wat Dawid in die Bybel geskryf het.
Dawid se pa, Isai, was ’n goeie man. Hy het Jehovah gedien, en ons kan seker wees dat Dawid lief was vir sy pa. Maar Dawid het
geleer om vir Jehovah selfs liewer te wees as vir Isai. Kom ons kyk hoe ons dit weet.Blaai asseblief in jou Bybel na Psalm 27:10. Dawid het hier geskryf: “As my eie vader en my eie moeder my sou verlaat, sal Jehovah my opneem.” Dink ’n bietjie hieraan: Die Bybel sê dat as Dawid se pa, Isai, of sy ma sou ophou om Jehovah te dien, Dawid sou aanhou om Hom te dien.
Wat van jou? Sal jy aanhou om Jehovah te dien al dien jou pa of ma hom nie meer nie?— Dit is ’n goeie vraag om jou af te vra. Die rede het te doen met die allerbelangrikste gebod in die Bybel. Dit is: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.”
Hierdie gebod beteken dat ’n mens getrou moet wees aan Jehovah selfs wanneer dit moeilik is om dit te doen. Wie dink jy wil hê ons moet ophou om Jehovah te dien?— God se vyand Satan die Duiwel. Jesus het hom “die heerser van hierdie wêreld” genoem. Die Bybel sê ook dat hy “die god van hierdie stelsel van dinge” is. Hoef ons bang te wees vir Satan?—
Nee, ons hoef nie. Ons moet eerder onthou dat Jehovah magtiger is as Satan. Jehovah sal ons beskerm as ons op hom vertrou. Lees in jou Bybel hoe Jehovah Dawid teen die skrikwekkende reus Goliat beskerm het. Jehovah kan jou ook beskerm as jy getrou bly aan hom.
Lees in jou Bybel
^ par. 4 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.