Sal jy God vertrou?
STEL jou voor dat jy ’n vriend het vir wie jy groot bewondering het, maar hy doen iets wat jy nie kan verstaan nie. Ander kritiseer sy optrede en skryf slegte beweegredes aan hom toe en sê dat jou vriend wreed is. Sal jy gou wees om met hulle saam te stem of sal jy wag om jou vriend se kant van die saak te hoor? Sal jy, as hy nie daar is om te verduidelik nie, geduldig wees en hom die voordeel van die twyfel gee?
Voordat jy antwoord, sal jy dalk meer inligting wil hê. Jy vra dalk: ‘Hoe goed ken ek hierdie vriend werklik, en waarom bewonder ek hom?’ Dit is redelike vrae. Maar dink hieraan: Kan ons nie dieselfde beginsels toepas wanneer dit kom by die vraag of God wreed is nie?
Jy vind dit miskien moeilik om party van die dinge wat God gedoen het, te verstaan, of jy wonder dalk waarom hy toegelaat het dat sekere dinge gebeur. Daar is baie mense wat vir jou sal sê dat God wreed is en wat jou sal aanspoor om slegte beweegredes aan hom toe te skryf soos hulle. Sal jy hom die voordeel van die twyfel gee totdat jy meer inligting kry? Die antwoord hang moontlik af van hoe goed jy God ken. Vra jou af: ‘Watter soort vriend was God tot nou toe vir my?’
As jou lewe moeilik was, kom jy miskien in die versoeking om te sê dat God glad nie vir jou ’n vriend was nie. Maar dink ’n oomblik na. Is God verantwoordelik vir die teëspoed in jou lewe—of vir die seëninge? Soos ons gesien het, is Satan “die heerser van hierdie wêreld”, nie Jehovah nie (Johannes 12:31). Satan is dus verantwoordelik vir baie van die ellende en ongeregtigheid in hierdie wêreld. En sal jy nie saamstem dat ons eie onvolmaakthede en onvoorspelbare omstandighede baie van ons probleme veroorsaak nie?
Is God verantwoordelik vir die teëspoed in jou lewe—of vir die seëninge?
Maar waarvoor is God verantwoordelik? Dink aan wat die Bybel sê: God is “die Maker van hemel en aarde”; sy werke sluit ons liggaam in, wat “wonderbaar gemaak is”; en Jehovah is “die God in wie se hand [ons] asem is” (Psalm 124:8; 139:14; Daniël 5:23). Wat beteken dit alles?
Dit beteken dat ons elke asemteug, ja, die feit dat ons bestaan, aan ons Skepper te danke het (Handelinge 17:28). Dit beteken dat die gawe van die lewe, die prag van die wêreld om ons, die seën van liefde en vriendskap, die vreugde wat dit verskaf om te proe, te voel, te hoor en te ruik—alles gawes van God is (Jakobus 1:17). Sal jy nie saamstem dat hierdie seëninge hom ’n Vriend maak wat ons respek en vertroue verdien nie?
Toegegee, jy vind dit miskien moeilik om God te vertrou. Jy voel dalk dat jy hom nog nie goed genoeg ken om hom te vertrou nie. Dit is te verstane. In hierdie kort artikels kan ons nie redeneer oor al die redes waarom mense sê dat God wreed is nie. Maar sal dit nie die moeite werd wees om God beter te leer ken nie? * As jy dit doen, sal jy ongetwyfeld uitvind wat die waarheid omtrent God is. Is hy wreed? Beslis nie, want “God is liefde”.—1 Johannes 4:8.
^ par. 8 Jy kan byvoorbeeld meer inligting vind oor waarom God goddeloosheid toelaat in hoofstuk 11 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.