Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het ons tale hulle oorsprong by die “toring van Babel”?

Het ons tale hulle oorsprong by die “toring van Babel”?

“Jehovah [het] hulle daarvandaan oor die hele oppervlak van die aarde verstrooi, en hulle het geleidelik opgehou om die stad te bou. Daarom is dit Babel genoem, want daar het Jehovah die taal van die hele aarde verwar.”—Genesis 11:8, 9.

HET hierdie gebeurtenis wat in die Bybel opgeteken is, werklik plaasgevind? Het mense skielik verskillende tale begin praat, soos die verslag meld? Party mense sê dat die Bybel se verslag oor hoe mensetale begin en versprei het, ongeloofwaardig is. ’n Skrywer beweer: “Die mite van die Toring van Babel is beslis een van die belaglikste stories wat nog vertel is.” Selfs ’n Joodse rabbi het dit beskryf as “’n naïewe poging om die oorsprong van nasies te verduidelik”.

Waarom verwerp mense die verslag oor Babel? Eenvoudig gestel, dit weerspreek sekere teorieë oor die oorsprong van taal. Byvoorbeeld, party geleerdes meen dat taalgroepe nie skielik verskyn het nie, maar geleidelik uit een “moedertaal” ontwikkel het. Ander beweer dat verskeie oorspronklike tale afsonderlik ontwikkel het en van eenvoudige gromgeluide tot komplekse spraak gevorder het. Hierdie en ander teenstrydige teorieë het baie mense laat saamstem met professor W.T. Fitch, wat in sy boek The Evolution of Language geskryf het: “Ons het nog nie heeltemal oortuigende antwoorde nie.”

Wat het argeoloë en navorsers uitgevind in verband met die oorsprong en ontwikkeling van mensetale? Bevestig hulle ontdekkings enige van die teorieë wat voorgelê word? Of stem die bevindings ooreen met die verslag oor Babel? Kom ons kyk eers van naderby na hierdie Bybelverslag.

WAAR EN WANNEER HET DIT GEBEUR?

Die Bybel sê dat die verwarring van tale en die verstrooiing van die mense plaasgevind het “in die land Sinear”, wat later Babilonië genoem is (Genesis 11:2). Wanneer het dit gebeur? Die Bybel sê dat “die aarde [“die aarde se bevolking”, voetnoot in NW] verdeeld geraak het” in die dae  van Peleg, wat omtrent 250 jaar voor Abraham gebore is. Die gebeurtenisse by Babel het dus klaarblyklik sowat 4 200 jaar gelede plaasgevind.—Genesis 10:25; 11:18-26.

Party geleerdes doen aan die hand dat hedendaagse tale hulle oorsprong het by een oorspronklike taal—die sogenaamde moedertaal wat hulle dink mense byna 100 000 jaar gelede gepraat het. * Ander beweer dat vandag se tale verwant is aan etlike grondtale wat minstens 6 000 jaar gelede gepraat is. Maar hoe stel taalkundiges vas hoe uitgestorwe tale ontwikkel het? “Dit is moeilik”, sê die tydskrif Economist. “In teenstelling met bioloë het taalkundiges nie fossiele om hulle deur die verlede heen te lei nie.” Die tydskrif voeg by dat ’n sekere evolusionêre taalkundige sy gevolgtrekkings maak deur middel van “berekeninge wat op ingeligte raaiwerk gegrond is”.

Maar daar bestaan wel “taalfossiele”. Wat is hierdie fossiele, en wat openbaar dit oor die oorsprong van mensetale? The New Encyclopædia Britannica verduidelik: “Die vroegste verslae in geskrewe taal, die enigste taalfossiele wat die mens ooit sal hê, is niks ouer as 4 000 of 5 000 jaar nie.” Waar het argeoloë hierdie “taalfossiele”, of “verslae in geskrewe taal”, ontdek? In Benede-Mesopotamië—waar eertydse Sinear geleë was. * Die beskikbare fisiese bewyse stem dus ooreen met die feite in die Bybel.

VERSKILLENDE TALE, VERSKILLENDE DENKWYSES

Die Bybelverslag sê dat God by Babel ‘hulle taal verwar het sodat die een nie die ander se taal kon verstaan nie’ (Genesis 11:7). Gevolglik het die werkers “opgehou om die stad [Babel] te bou” en is hulle “oor die hele oppervlak van die aarde verstrooi” (Genesis 11:8, 9). Die Bybel sê dus nie dat alle hedendaagse tale teruggevoer kan word tot een “moedertaal” nie. Dit toon eerder dat etlike nuwe tale wat blykbaar heeltemal ontwikkeld was en waarin dit moontlik was om alle menslike gevoelens en gedagtes uit te druk, skielik te voorskyn gekom het en dat hulle heeltemal van mekaar verskil het.

’n Kleitablet met spykerskrif, uit Mesopotamië, derde millennium VHJ

Wat van die taalgroepe wat vandag in die wêreld voorkom? Is daar fundamentele ooreenkomste of verskille tussen hulle? Die kognitiewe wetenskaplike Lera Boroditsky het geskryf: “Toe taalkundiges die wêreld se tale (omtrent 7 000, waarvan slegs ’n breukdeel ontleed is) noukeuriger ondersoek het, het tallose onverwagte verskille aan die lig gekom.” Ja, hoewel tale en dialekte van een taalfamilie, soos Kantonnees en Hakka in Suid-China, soortgelyk kan wees, is daar fundamentele verskille tussen hierdie tale en dié van ’n ander taalfamilie, soos byvoorbeeld Wes-Katalaans of Valenciaans in Spanje.

Taal vorm die manier waarop mense die wêreld om hulle beskou en beskryf—kleur, hoeveelheid, plek, rigting. In een taal sê ’n mens byvoorbeeld: “Daar is ’n gogga op jou regterhand.” Maar  in ’n ander taal sê ’n mens: “Daar is ’n gogga op jou suidweshand.” Sulke verskille is verwarrend, om die minste te sê. Geen wonder dat dit vir die bouers by Babel onmoontlik was om hulle projek voort te sit nie.

GROMGELUIDE OF KOMPLEKSE TAAL?

Watter taal het mense oorspronklik gepraat? Volgens die Bybel kon die eerste mens, Adam, nuwe woorde maak toe hy al die diere en voëls name gegee het (Genesis 2:20). Adam het ook digterlike taal gebruik om sy gevoelens vir sy vrou uit te druk, en sy kon maklik verduidelik wat God se bevel was en wat die gevolge van ongehoorsaamheid aan Hom sou wees (Genesis 2:23; 3:1-3). Die eerste taal het mense dus in staat gestel om maklik te kommunikeer en hulle op vindingryke maniere uit te druk.

Die verwarring van tale by Babel het dit onmoontlik gemaak vir mense om hulle verstandelike en fisiese vermoëns te verenig. Maar hulle nuwe tale was kompleks, soos die eerste taal. Binne ’n paar eeue het mense besige stede gebou, magtige leërs versamel en met ander nasies handel gedryf (Genesis 13:12; 14:1-11; 37:25). Sou hulle hierdie vooruitgang kon maak sonder ’n uitvoerige woordeskat en grammatika? Volgens die Bybel was die oorspronklike taal en die tale wat by Babel ontstaan het, nie primitiewe gromgeluide nie, maar komplekse tale.

Hedendaagse navorsing steun hierdie gevolgtrekking. The Cambridge Encyclopedia of Language sê: “Elke kultuur wat al ondersoek is, ongeag hoe ‘primitief’ dit dalk in kulturele terme is, het ’n volledig ontwikkelde taal, wat net so kompleks is soos dié van sogenaamde ‘beskaafde’ nasies.” Professor Steven Pinker van die Harvard-kollege sê eweneens in sy boek The Language Instinct: “Daar is nie iets soos ’n Steentydse taal nie.”

DIE TOEKOMS VAN TAAL

Tot watter gevolgtrekking kom ons noudat ons gekyk het na die ouderdom en ligging van “taalfossiele”, die fundamentele verskille tussen taalgroepe en die kompleksiteit van eertydse tale? Baie kom tot die slotsom dat die Bybelverslag van wat by Babel gebeur het, ’n heeltemal geloofwaardige verduideliking is.

Die Bybel sê vir ons dat Jehovah God die mens se taal by Babel verwar het omdat hulle teen hom in opstand gekom het (Genesis 11:4-7). Hy het egter belowe dat hy “volke tot ’n suiwer taal [sal] laat oorgaan, sodat hulle almal die naam van Jehovah sal aanroep, om hom skouer aan skouer te dien” (Sefanja 3:9). Hierdie “suiwer taal”, die waarheid uit God se Woord, verenig vandag mense van regoor die wêreld. Dit lyk logies dat God in die toekoms die mensdom selfs verder sal verenig deur hulle een gemeenskaplike taal te gee, en hy sal sodoende die verwarring wat by Babel ontstaan het, ongedaan maak.

^ par. 8 Teorieë oor taal is gewoonlik gegrond op die veronderstelling dat mense uit aapagtige skepsele geëvolueer het. Vir ’n bespreking van hierdie bewerings, sien bladsye 27-29 van die brosjure Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 9 Argeoloë het etlike piramiedagtige, trapvormige tempeltorings opgegrawe in die omgewing van Sinear. Die Bybel sê dat die toringbouers by Babel bakstene gebruik het, nie klip nie, en dat hulle asfalt as messelklei gebruik het (Genesis 11:3, 4). In Mesopotamië was klip “skaars of glad nie beskikbaar nie”, sê The New Encyclopædia Britannica, maar daar was volop asfalt.