Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Wat beteken die woord “eunug” soos dit in die Bybel gebruik word?

’n Assiriese reliëf van ’n eunug

Soms verwys die woord na ’n man wat ontman, of gekastreer, is. In Bybeltye is mans soms as straf ontman wanneer hulle gevange geneem is of slawe gemaak is. Vertroude mans wat ontman is, het oor die vroue se woonkamers, of harems, in koninklike huise toesig gehou. Die eunugs Hegai en Saäsgas het byvoorbeeld toesig gehou oor die vrouens en byvrouens van die Persiese koning Ahasveros, wat vermoedelik Xerxes I was.—Ester 2:3, 14.

Maar nie almal wat in die Bybel eunugs genoem word, was ontman nie. Party geleerdes sê dat die woord ook ’n breër betekenis gehad het en kon verwys na ’n amptenaar wat sekere take in die hof van die koning moes verrig. Dit was blykbaar hoe die woord gebruik is om te verwys na Ebed-Meleg, Jeremia se vriend, en na die Etiopiër vir wie die evangeliedienaar Filippus getuig het. Ebed-Meleg was blykbaar ’n hooggeplaaste amptenaar, aangesien hy direkte toegang tot koning Sedekia gehad het (Jeremia 38:7, 8). En die Etiopiër word beskryf as ’n koninklike skatbewaarder wat “na Jerusalem gegaan [het] om te aanbid”.—Handelinge 8:27.

Waarom het herders in Bybeltye skape van bokke geskei?

Toe Jesus ’n toekomstige tyd van oordeel beskryf het, het hy gesê: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom, . . . [sal] hy . . . die mense van mekaar afskei, net soos ’n herder die skape van die bokke afskei” (Matteus 25:31, 32). Waarom het letterlike herders hierdie diere van mekaar geskei?

Skape en bokke is gewoonlik gedurende die dag saam laat wei. Saans is hulle in ’n kraal of ’n skuur bymekaargebring, wat hulle beskerm het teen wilde diere, diewe en die koue (Genesis 30:32, 33; 31:38-40). Die twee soorte diere is in afsonderlike krale gehou om die skape, wat redelik mak is, veral die ooie en die lammers, te beskerm sodat die bokke, wat aggressiewer is, hulle nie kon seermaak nie. Die herder het die skape ook van die bokke geskei wanneer hulle “teel, gemelk word of geskeer word”, sê die boek All Things in the Bible. Jesus se illustrasie was dus gebaseer op dinge waarmee mense in eertydse Israel bekend was omdat hulle ’n landbougemeenskap was.