VOORBLADONDERWERP | LUISTER ENIGIEMAND AS JY BID?
Luister enigiemand?
Party mense dink dat gebed net ’n mors van tyd is, dat niemand luister nie. Ander het al probeer bid, maar hulle dink nie dat hulle ’n antwoord gekry het nie. Een ateïs het hom voorgestel hoe God lyk en toe gebid: “Fluister net vir my.” Maar hy sê dat daar geen antwoord was nie.
Die Bybel verseker ons nietemin dat God ’n werklike persoon is en dat hy na gebede luister. Die Bybel bevat hierdie woorde wat gerig is aan ’n volk van lank gelede: “Hy [God] sal vir seker aan jou guns betoon by die geluid van jou geroep; sodra hy dit hoor, sal hy jou antwoord” (Jesaja 30:19). Nog ’n Bybelvers sê: “In die gebed van die regskapenes skep hy behae.”—Spreuke 15:8.
Jesus het tot sy Vader gebid, en hy is “verhoor”.—Hebreërs 5:7
In die Bybel vind ons ook voorbeelde van mense wie se gebede verhoor is. Een vers sê dat Jesus ‘bedes aan die Een opgedra het wat hom kon red’ en dat hy “verhoor” is (Hebreërs 5:7). Ander voorbeelde kan gevind word in Daniël 9:21 en 2 Kronieke 7:1.
Waarom voel party mense dan dat hulle gebede nie verhoor word nie? Om verhoor te word, moet ons alleenlik tot die God van die Bybel, Jehovah, * bid, nie tot enige ander god of tot voorouers nie. God vereis ook dat ons “volgens sy wil vra”—vir dinge wat hy goedkeur. God verseker ons dat “hy ons [sal] hoor” as ons so bid (1 Johannes 5:14). As ons dus wil hê dat ons gebede verhoor moet word, moet ons die God van die Bybel leer ken en uitvind wat sy wil is.
Baie mense glo dat gebed nie net ’n godsdiensritueel is nie, maar dat God wel na gebede luister en dit verhoor. Isaac, van Kenia, sê: “Ek het gebid vir hulp om die Bybel te verstaan. Kort daarna het iemand na my toe gekom en die hulp aangebied wat ek nodig gehad het.” Hilda, wat in die Filippyne woon, wou ophou rook. Nadat sy etlike kere misluk het, het haar man voorgestel: “Waarom vra jy nie vir God om jou te help nie?” Sy het die raad toegepas en sê: “Ek was verbaas oor hoe Hy my gehelp het. Dit was asof ek my begeerte om te rook, verloor het. Ek het dit reggekry om op te hou.”
Stel God daarin belang om jou persoonlike versoeke wat in ooreenstemming is met sy wil, te verhoor?
^ par. 6 Jehovah is die naam van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.