Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Waarom moet ek ander help?

Waarom moet ek ander help?

 Twee geheime wat baie mense nie ken nie

 Geheim #1: As jy gee, sal ander moontlik vir jou gee!

 Mense sal sien dat jy vrygewig is. Gevolglik sal hulle waarskynlik vrygewig wees teenoor jou. Die Bybel stel dit soos volg:

  •  “Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee. . . . Met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle weer vir julle uitmeet.”—Lukas 6:38.

  •  “Die manier waarop jy ander behandel, is hoe jy behandel sal word.”—Lukas 6:38, Contemporary English Version.

 Geheim #2: Wanneer jy ander help, help jy jouself!

 Wanneer jy goeie dinge vir ander doen, verhoog dit jou selfrespek en verskaf dit jou die bevrediging wat dit meebring om te gee. Die Bybel stel dit soos volg:

  •  “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.

  •  “Wanneer jy ’n feesmaal gee, nooi armes, kreupeles, verlamdes, blindes; en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou mee te vergoed nie.”—Lukas 14:13, 14.

 Jongmense wat omgee

 Daar is oral jongmense wat vir ander omgee! Hier is ’n paar voorbeelde.

 “Soms wanneer ek net op die bank wil sit en TV kyk, dink ek aan my ma en pa, wat by die werk is, en aan hoe moeg hulle gaan wees wanneer hulle by die huis kom. Dan staan ek op en was ek die skottelgoed, stofsuig ek en stof ek af. Ek maak ook koffie, want my ouers is baie lief daarvoor. Wanneer my ma by die huis kom, sê sy: ‘Ag, alles lyk so mooi hier! En dit ruik so lekker. Baie dankie, Liefie!’ Dit laat my altyd goed voel om iets vir my ma en pa te doen.”—Casey.

 “My ouers het my altyd ondersteun en vir my alles gegee wat ek nodig het. Toe hulle verlede jaar ’n groot probleem met hulle motor gehad het, het ek ’n tjek vir die herstelwerk uitgeskryf, al het dit ’n groot hap in my spaargeld gemaak. Hulle het natuurlik my aanbod probeer weier, maar ek het daarop aangedring. My ouers verdien eintlik baie meer as dit. En dit het wonderlik gevoel om vrygewig te wees en vir hulle iets te gee.”—Holly.

 Het jy geweet? Baie jongmense onder Jehovah se Getuies het al die vreugde gehad om ander deur middel van hulle Bybelonderrigtingswerk te help. Party het selfs na ’n ander land getrek omdat Bybelonderrigters daar nodig was.

 “Ek het van die Verenigde State na Mexiko getrek om mense die Bybel te help leer. Dit is soms moeilik om vrygewig te wees met geld of ander dinge, want ek het nie regtig baie om te gee nie. Maar ek het gevind dat mense die tyd en energie wat ek aan die bediening bestee, meer waardeer as materiële dinge.”—Evan.

 Hoe kan ek ander help?

 Wil jy die vreugde ervaar wat dit meebring om ander te help? Hier is net ’n paar voorstelle.

 Om jou gesin te help:

  •  Stofsuig, was die skottelgoed of maak ’n kamer aan die kant—sonder om gevra te word

  •  Berei ’n ete voor

  •  Skryf ’n dankiesêkaartjie aan jou ouers

  •  Help ’n boetie of sussie met huiswerk

 Om mense buite jou gesin te help:

  •  Stuur ’n kaartjie vir iemand wat siek is

  •  Help ’n bejaarde buurman of -vrou met tuinwerk

  •  Besoek iemand wat nie die huis kan verlaat nie

  •  Koop ’n geskenk vir iemand wat deur ’n moeilike tyd gaan

 Wenk: Probeer self aan ’n paar idees dink. Maak dit dan jou doelwit om hierdie week één persoon te help. Jy sal dalk verbaas wees hoe goed dit jou laat voel!

 “Wanneer jy ander help, maak dit jou gelukkig. Jy voel dat jy werklik iets bereik het, en jy sien dat ander dit waardeer. Jy het dit dalk selfs geniet om dit te doen—al het jy nie gedink jy sou nie. Wat jy gedoen het, voel miskien nie eens soos ’n opoffering nie omdat dit jóú eintlik tot voordeel gestrek het.”—Alana.