Wat is die Tien Gebooie van God?
Die Bybel se antwoord
Die Tien Gebooie is wette wat God in die ou tyd aan die nasie Israel gegee het. Hierdie wette word ook die Tien Woorde genoem, wat ’n letterlike vertaling van die Hebreeuse uitdrukking ʽaseʹreth had·deva·rimʹ is. Hierdie uitdrukking verskyn drie keer in die Pentateug (Tora), die eerste vyf boeke van die Bybel (Eksodus 34:28; Deuteronomium 4:13; 10:4). Die term “Dekaloog” is van die Griekse ekwivalent deʹka (tien) loʹgous (woorde) afgelei.
God het die Tien Gebooie op twee kliptafels geskryf en dit vir sy profeet Moses op die berg Sinai gegee (Eksodus 24:12-18). Die Tien Gebooie kan gevind word in Eksodus 20:1-17 en Deuteronomium 5:6-21.
Die Tien Gebooie
Aanbid slegs Jehovah God. – Eksodus 20:3.
Moenie afgode aanbid nie. – Eksodus 20:4-6.
Moenie God se naam op ’n onwaardige wyse gebruik nie. – Eksodus 20:7.
Onderhou die Sabbat. – Eksodus 20:8-11.
Eer jou ouers. – Eksodus 20:12.
Moenie moord pleeg nie. – Eksodus 20:13.
Moenie egbreuk pleeg nie. – Eksodus 20:14.
Moenie steel nie. – Eksodus 20:15.
Moenie ’n valse getuienis aflê nie. – Eksodus 20:16.
Moenie begeer nie. – Eksodus 20:17.
Hoekom is daar verskillende rangskikkings van die Tien Gebooie?
Die gebooie word nie in die Bybel genommer nie. Daarom is daar verskillende opinies oor wat die volgorde van die gebooie moet wees. Die lys hierbo is ’n algemene rangskikking van hierdie wette. Maar soms word die Tien Gebooie anders gerangskik. Hierdie verskille hou verband met die eerste, tweede en laaste gebooie. a
Wat was die doel van die Tien Gebooie?
Die Tien Gebooie was deel van die Wet van Moses. Die Wet het meer as 600 gebooie ingesluit, en dit het die voorwaardes van ’n ooreenkoms, of verbond, tussen God en die eertydse nasie Israel gevorm (Eksodus 34:27). God het die volk Israel belowe dat dit met hulle goed sou gaan as hulle die Wet van Moses gehoorsaam (Deuteronomium 28:1-14). Maar die hoofdoel van die Wet was om die Israeliete voor te berei vir die beloofde Messias, of Christus. – Galasiërs 3:24.
Moet Christene die Tien Gebooie onderhou?
Nee. God het sy Wet, insluitende die Tien Gebooie, spesifiek aan die eertydse nasie Israel gegee (Deuteronomium 5:2, 3; Psalm 147:19, 20). Die Wet van Moses is nie bindend vir Christene nie, en selfs Joodse Christene is “van die Wet onthef” (Romeine 7:6). b Die Wet van Moses is vervang deur “die wet van die Christus”, wat alles insluit wat Jesus sy volgelinge beveel het om te doen. – Galasiërs 6:2; Matteus 28:19, 20.
Is die Tien Gebooie vandag nog van toepassing?
Ja. Die Tien Gebooie vertel ons baie oor God se manier van dink, en daarom kan dit ons baie help as ons dit bestudeer (2 Timoteus 3:16, 17). Die Tien Gebooie is gebaseer op betroubare beginsels wat nooit outyds sal word nie (Psalm 111:7, 8). Om die waarheid te sê, baie van hierdie beginsels is die grondslag vir die leringe wat oor die algemeen die Nuwe Testament genoem word. – Sien “ Beginsels agter die Tien Gebooie in die Nuwe Testament.”
Jesus het mense geleer dat die hele Wet van Moses, insluitende die Tien Gebooie, op twee fundamentele gebooie neerkom. Hy het gesê: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod. Die tweede, soortgelyk hieraan, is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Aan hierdie twee gebooie hang die hele Wet en die Profete” (Matteus 22:34-40). Daar word dus nie van Christene verwag om die Wet van Moses te onderhou nie, maar hulle word wel beveel om God en hulle naaste lief te hê. – Johannes 13:34; 1 Johannes 4:20, 21.
Beginsels agter die Tien Gebooie in die Nuwe Testament
Beginsel |
Bybelteks in Nuwe Testament |
---|---|
Aanbid slegs Jehovah God |
|
Moenie afgode aanbid nie |
|
Eer God se naam |
|
Bestee gereeld tyd aan aanbidding |
|
Eer jou ouers |
|
Moenie moord pleeg nie |
|
Moenie egbreuk pleeg nie |
|
Moenie steel nie |
|
Moenie ’n valse getuienis aflê nie |
|
Moenie begeer nie |
a Die Jewish Encyclopedia sê dat Eksodus 20:2 volgens die tradisionele Joodse rangskikking die eerste gebod is en vers 3-6, wat as een gebod beskou word, die tweede gebod is. Aan die ander kant beskou Katolieke Eksodus 20:1-6 as een gebod. Daarom word die gebod om God se naam nie op ’n onwaardige wyse te gebruik nie, die tweede gebod. Om seker te maak dat die aantal gebooie dieselfde bly, verdeel hulle die laaste gebod – om nie jou medemens se vrou en besittings te begeer nie – in twee gebooie.
b Romeine 7:7 gebruik die tiende gebod as ’n voorbeeld van “die Wet”, wat dus bewys dat die Wet van Moses die Tien Gebooie ingesluit het.