Sewentig jaar van die Gileadskool
Op 1 Februarie 1943 het die eerste klas van ’n baie spesiale skool in die noorde van die staat New York begin. Hierdie skool, wat nou die Wagtoring-Bybelskool Gilead genoem word, het reeds gespesialiseerde opleiding aan meer as 8 000 mans en vroue uit alle wêrelddele gegee.
Jonathan, wat in ’n onlangse Gileadklas was, sê: “Omdat die opleiding wat ons ontvang het, op God se Woord gebaseer is, sal dit ons help om doeltreffender in enige gebied of kultuur te wees.” Sy vrou, Marnie, voeg by: “Ek het nou ’n groter begeerte as ooit tevore om mense te help besef dat daar geen beter lewenswyse is as die een wat ons Skepper vir ons wil hê nie. Ek is daarvan oortuig dat dit ander se lewe sal verbeter as ons hulle help om Jehovah te leer ken.”
Gileadskool bied ’n gratis vyf maand lange kursus aan. Dit is toegespits op die Bybel en die belangrikheid van die evangelisasiewerk. Die doel van die kursus is dat die gegradueerdes God se volk moet versterk en stabiliseer en om hulle almal te help om die geestelike eienskappe aan te kweek wat hulle nodig het om die uitdagings waarvoor hulle te staan kom, die hoof te bied. As deel van die kursus bespreek studente skriftuurlike beginsels wat hulle help om hulle verhouding met hulle God, Jehovah, te versterk.
Die egpare wat Gilead bywoon, is reeds voltydse bedienaars. Wanneer hulle gradueer, keer hulle moontlik terug na hulle toewysing of ontvang hulle ’n toewysing in ’n ander land. Party ontvang ’n toewysing in een van die meer as 90 takkantore van Jehovah se Getuies. Die meeste word gestuur om in digbevolkte gebiede te dien waar hulle die grootste impak op die predikingswerk kan hê.
Die Gileadskool is eers by Kingdom Farm, in South Lansing, New York, gehou. In 1961 is die skool na die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, verskuif. Van 1988 tot 1995 is die skool by Watchtower Farms, in Wallkill, New York, gehou. Toe, in 1995, is die skool na die Wagtoring-onderrigsentrum, in Patterson, New York, verskuif, waar dit nog steeds is. In Maart 2013 het die 134ste klas gegradueer.
Die gegradueerdes van die Wagtoring-Bybelskool Gilead stel nou al 70 jaar ’n indrukwekkende voorbeeld as getroue getuies van Jehovah.