Die graduering van die 136ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
Ná ’n intense vyf maande lange kursus van Bybelstudie het die 136ste klas van Gilead op Saterdag 8 Maart 2014 gegradueer. By hierdie skool leer ervare bedienaars van Jehovah se Getuies om produktiewer te wees in hulle bediening en om die geloof van mede-Getuies te versterk. Altesaam 11 548 het die program bygewoon, hetsy by die onderrigsentrum van Jehovah se Getuies in Patterson, New York, of deur middel van videoverbinding by fasiliteite in Jamaika, Kanada, Puerto Rico en die Verenigde State.
“Bewaar hierdie geestesgesindheid in julle.” David Splane, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies en die voorsitter van die program, het sy inleidende opmerkings gebaseer op Filippense 2:5-7: “Bewaar hierdie geestesgesindheid in julle wat ook in Christus Jesus was.” Toe Jesus op die aarde was, het hy nie ’n hoë posisie nagestreef nie, maar het hy hom nederig ingespan om God se werk te doen.
Jesus het elkeen van die Duiwel se versoeke byvoorbeeld verwerp met die woorde: “Daar staan geskrywe”, en hy het aangehaal uit ’n toespraak wat Moses voor die nasie Israel gelewer het (Matteus 4:4, 7, 10; Deuteronomium 6:13, 16; 8:3). Hoewel Jesus op eie gesag as die gesalfde Seun van God kon gepraat het, het hy nederig waardering getoon vir die werk van Moses. Net so moet ons ander se vermoëns erken en hulle vryelik prys.
Broer Splane het ook beklemtoon dat Jesus die regte geestesgesindheid aan die dag gelê het toe die einde van sy opleiding op die aarde nadergekom het. Jesus het in gebed gesê: “Ek het u op die aarde verheerlik, aangesien ek die werk volbring het wat u my gegee het om te doen. En nou, Vader, verheerlik my naas uself met die heerlikheid wat ek naas u gehad het voordat die wêreld was” (Johannes 17:4, 5). Jesus het nie bykomende voorregte nagestreef nie. Sy enigste versoek was om sy vorige posisie terug te kry, of ‘sy ou werk terug te kry’, wanneer hy na die hemel terugkeer. Net so moet die Gileadgegradueerdes Jesus navolg deur eerder te konsentreer op hulle werk as op ’n posisie en deur tevrede te wees, al ontvang hulle nie bykomende voorregte wanneer hulle na hulle toewysing terugkeer nie.
“Opoffering sonder om spyt te wees.” William Malenfant, ’n helper van die Onderrigtingskomitee van die Bestuursliggaam, het die studente aangemoedig om die selfopofferende voorbeeld van die apostel Paulus na te volg. Paulus het nie teruggekyk na die dinge wat hy opgeoffer het om God te dien nie, maar het gesê: “Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na die dinge wat voor is, en ek streef na die doel.”—Filippense 3:13, 14.
As die studente opofferings maak sonder om spyt te wees, sal hulle God se getroue knegte van die verlede en die hede navolg. Broer Malenfant het Clara Gerber Moyer aangehaal, wat Jehovah as kind begin dien het. Sy het geskryf: “Wat ’n voorreg is dit tog om terug te kyk op 80 jaar van toegewyde diens aan God—sonder dat ek oor enigiets spyt is! As ek my lewe kon oorhê, sou ek dit dieselfde wou hê.”
“Verkondig die Koninkryk saam met engele en as engele.” Gerrit Lösch, ’n lid van die Bestuursliggaam, het die studente gehelp om twee voorregte te waardeer wat predikers geniet. Eerstens, hulle dien as God se engele wanneer hulle sy boodskap van die goeie nuus van die Koninkryk oordra, aangesien die Hebreeuse en Griekse woorde wat in die Bybel as “engel” vertaal word, ook as “boodskapper” weergegee kan word. Tweedens, die studente verkondig die goeie nuus onder die leiding van engele, net soos die dissipel Filippus gedoen het.—Handelinge 8:26-35.
Toe het broer Lösch verskeie ondervindinge vertel wat Jehovah se Getuies in hulle Koninkrykspredikingswerk gehad het. Byvoorbeeld, ’n Getuie in Mexiko met die naam Gabino, wat gewoonlik net een of twee keer aan ’n deur klop, het vier keer aan ’n spesifieke deur geklop. Die man wat die deur oopgemaak het, het vir Gabino gesê dat hy op die punt gestaan het om sy lewe te neem. “Toe jy die vierde keer geklop het, het ek die strop om my nek gehad. Maar ek het dit afgehaal om die deur oop te maak. Dankie dat jy aangehou klop het, want as jy dit nie gedoen het nie, sou ek my opgehang het.”
Hoewel ondervindinge soos hierdie soms per toeval plaasvind, weet ons dat dit dikwels nie die geval is nie. Dit lewer eerder bewys dat God se engele die wêreldwye predikingswerk rig.—Openbaring 14:6.
“Die geëerde sal geseën word.” Michael Burnett, ’n Gileadinstrukteur, het hierdie tema ontwikkel deur die voorbeeld te gebruik van Jabes, ’n nakomeling van Juda, wat “meer geëerd as sy broers” was. Jabes het tot God gebid en gesê: “[Mag] u my vir seker seën en my gebied vergroot en u hand werklik met my [wees] en u my werklik van rampspoed bewaar.”—1 Kronieke 4:9, 10.
Die studente kan die eerbare voorbeeld van Jabes navolg deur spesifiek te wees in hulle gebede, veral deur God te vra om hulle te help om die doel van hulle Gileadopleiding te vervul. Hulle kan God ook tereg vra om hulle van rampspoed te bewaar, nie deur hulle geheel en al teen die gevolge daarvan te beskerm nie, maar deur hulle te help om nie deur droefheid of die gevolge van boosheid oorweldig te word nie. God het Jabes se gebed beantwoord, en Hy sal die Gileadstudente se gebede ook beantwoord.
“Hou jou vuur aan die brand.” Mark Noumair, ’n Gileadinstrukteur en helper van die Onderrigtingskomitee, het sy toespraak op 1 Tessalonisense 5:16-19 gebaseer. Net soos ’n letterlike vuur brandstof, suurstof en warmte nodig het om aan die brand te bly, is daar drie komponente wat die studente kan gebruik om hulle entoesiasme vir die bediening te behou.
Eerstens, “wees altyd bly” (1 Tessalonisense 5:16). As die studente peins oor wat ’n seën dit is om Jehovah se goedkeuring te geniet, sal dit hulle vreugde verskaf, wat die “brandstof” vir hulle entoesiasme sal wees. Tweedens, “bid onophoudelik” (1 Tessalonisense 5:17). Gebed is soos die suurstof wat lewe in vuur inblaas. Ons moenie haastig wees wanneer ons bid nie, maar ons moet ons hart voor God uitstort. Derdens, “betuig dank in verband met alles” (1 Tessalonisense 5:18). ’n Dankbare hart dra by tot ’n hartlike, of warm, verhouding met Jehovah en ons broers. “Behou die warm gevoelens van waardering”, het broer Noumair gesê, “en nie die koue gees van kritiek nie.”
“Loof Jehovah tesame met die hemele.” Sam Roberson, ’n instrukteur by teokratiese skole, het sy inleidende kommentare gebaseer op Bybeltekste wat toon dat die son, die maan en die sterre Jehovah loof (Psalm 19:1; 89:37; 148:3). Hy het gesê dat die studente ook die voorreg gehad het om Jehovah te loof, en toe het hy hulle demonstrasies laat doen van ondervindinge wat hulle kort tevore in die veldbediening gehad het. ’n Gileadstudent het byvoorbeeld ’n man in ’n rolstoel geprys omdat hy dankbaarheid betoon het nadat die student stilgehou het sodat die man die pad kon oorsteek. ’n Gesprek is begin, en die man het die aanbod van ’n gratis tuisbybelstudie aanvaar. Terwyl die student oor die volgende paar weke die studie gehou het, het hy getuig vir verskeie mense wat die man besoek het. Op die ou end is nog sewe Bybelstudies as gevolg van daardie eerste gesprek begin.
“Word sterker deur goddelike onderrigting.” Donald Gordon, ’n helper van die Uitgewerskomitee, het met twee egpare in die klas ’n onderhoud gevoer. Een van die broers met wie hy ’n onderhoud gevoer het, het vertel dat Efesiërs 3:16-20 deurgaans tydens die skool beklemtoon is. Dit het die studente gehelp om “sterk gemaak te word” deur nederig en toeganklik te wees en deur te erken dat Jehovah nog baie werk vir elke Getuie het. Een van die susters het gesê dat sy die aanmoediging van een Gileadinstrukteur waardeer het om nie soos ’n groot vis in ’n klein bakkie water te wees waar daar geen ruimte vir groei is nie, maar om eerder soos ’n klein vissie in ’n groot oseaan te wees. Sy het gesê: “Die les wat ek geleer het, is dat as ek my as ’n mindere in Jehovah se organisasie gedra, hy my sal help om geestelik te groei.”
“Mag Jehovah ten goede aan jou dink.” Mark Sanderson, ’n lid van die Bestuursliggaam, het die hooftoespraak van die gradueringsprogram gehou. Die tema was gebaseer op Nehemia se gebed: “Dink tog aan my, o my God, ten goede” (Nehemia 5:19; 13:31). Nehemia was nie bang dat Jehovah hom en die werk wat hy in God se diens gedoen het, sou vergeet nie. Hy het God eerder gevra om met geneentheid aan hom te dink en hom te seën.
Net so kan die studente die vertroue hê dat Jehovah ten goede aan hulle sal dink as hulle die basiese lesse toepas wat hulle by Gilead geleer het. Hulle heelhartige liefde vir Jehovah moet byvoorbeeld die vernaamste beweegrede vir hulle aanbidding wees (Markus 12:30). Abraham het Jehovah met sy hele hart liefgehad, en God het ten goede aan hom gedink. Selfs nadat Abraham al duisend jaar lank dood was, het God na hom verwys as “my vriend”.—Jesaja 41:8.
Broer Sanderson het die studente toe herinner om hulle naaste lief te hê, veral hulle Christenbroers en -susters (Markus 12:31). Soos die barmhartige Samaritaan, wat “hom die naaste gemaak [het] van die man wat in die hande van die rowers geval het”, moet hulle die inisiatief neem om uit te reik na diegene wat hulp nodig het (Lukas 10:36). Om hierdie punt toe te lig, het hy die voorbeeld van Nicholas Kovalak genoem, ’n Gileadgegradueerde wat as ’n streekopsiener gedien het. Broer Kovalak was bekend vir sy hartlikheid en liefde. Hy het ’n reisende opsiener en sy vrou eenkeer aangespoor om ywerig in hulle bediening te wees met die woorde: “Vroeg in die dag, vroeg in die week, vroeg in die maand, vroeg in die jaar.” Maar nadat hy die suster ’n paar dae lank waargeneem het, het hy vir haar gesê: “Vergeet wat ek vir jou gesê het. Jy werk alreeds te hard. Vat dit rustiger sodat jy nie uitbrand nie.” Sy liefdevolle raad en medelye het daardie suster gehelp om dekades lank in die voltydse bediening te volhard.
Laastens het broer Sanderson die studente aangespoor om die doel van hulle opleiding te vervul deur ander te leer en op te lei (2 Timoteus 2:2). Terwyl hulle hulle toewysings uitvoer, kan hulle die broederskap dus versterk en stabiliseer met die versekering dat Jehovah ten goede aan hulle sal dink.—Psalm 20:1-5.
Slot. Nadat die studente hulle diplomas ontvang het, het een van die gegradueerdes ’n brief voorgelees waarin die klas hulle waardering uitspreek. Toe het vyftien lede van die klas die program afgesluit deur lied 123, “Herders—Gawes in mense”, uit Sing vir Jehovah in a capella-styl te sing.