Spring na inhoud

19 OKTOBER 2016
ERITREA

Vervolging van Jehovah se Getuies in Eritrea kry meer internasionale aandag

Vervolging van Jehovah se Getuies in Eritrea kry meer internasionale aandag

Nêrens in die wêreld word Jehovah se Getuies so erg vervolg soos in Eritrea nie. Sedert Eritrea in 1993 onafhanklikheid verkry het, word die Getuies aanhoudend in die tronk opgesluit, gemartel en deur die gemeenskap verstoot. Hulle word vervolg omdat hulle nie by die politiek betrokke raak nie en weier om aan oorlog deel te neem.

Vier-en-vyftig Getuies van Jehovah is op die oomblik in Eritrea in die tronk. Die afgelope 22 jaar word almal behalwe een van hulle aangehou sonder dat hulle aangekla of verhoor is. Drie van hulle is sedert 1994 in die tronk weens gewetensbeswaar teen militêre diens.

Wêreldwye kommer neem toe

Sedert die vervolging begin het, het menseregte-organisasies en regeringsinstansies die lyding veroordeel wat deur Jehovah se Getuies in Eritrea ervaar word. Maar onlangs het die Kommissie van Ondersoek oor Menseregte in Eritrea (COIE), wat deur die VN gestig is, meer internasionale aandag op die slegte behandeling van die Getuies gevestig. Die COIE het in Junie 2015 in sy eerste verslag aan die VN se Raad vir Menseregte (HRC) spesifiek verwys na die diskriminasie teen en mishandeling van Jehovah se Getuies.

Op 21 Junie 2016 het die COIE sy tweede breedvoerige verslag aan die HRC voorgelê. Die COIE het Eritrea versoek om “godsdiensvryheid te respekteer” en om “op te hou om persone sonder rede in hegtenis te neem of aan te hou as gevolg van hulle godsdiensoortuigings, veral lede van spesifieke godsdiensgroepe soos Jehovah se Getuies”. Hulle wil ook hê dat Eritrea “onmiddellik en onvoorwaardelik almal moet vrylaat wat onwettig en sonder verhoor aangehou word”.

Die COIE het bevind dat Eritrea se “vervolging op grond van godsdienstige en etniese redes” in stryd is met internasionale wette en neerkom op ’n “misdaad teen die mensdom”. Die internasionale gemeenskap beskou hierdie vervolging as een van die ergste skendings van menseregte. Op 27 Oktober 2016 sal die COIE die VN se Algemene Vergadering op hoogte bring van die jongste gebeure.

Sal Eritrea die onregverdige behandeling van die Getuies regstel?

Jehovah se Getuies regoor die wêreld is baie bekommerd oor hulle medegelowiges in Eritrea. Hulle versoek die regering van Eritrea ernstig om op te hou met die vervolging van opregte Christene. Die regering moet ook hulle basiese regte wat van niemand weggeneem mag word nie, respekteer.